Zille besorg oor Woensdag se Kaapstad-protes

Foto: Danie van der Merwe, Flickr

Foto: Danie van der Merwe, Flickr

Inwoners van informele nedersettings hou Woensdag in Kaapstad ʼn optog na die Wes-Kaapse Wetgewer om ʼn reaksie te eis oor grond- en behuisingskwessies.

“Tussen 2 000 en 3 000 mense sal van die informele nedersettings Khayelitsha, Mitchell’s Plain, Strand, Delft, Gugulethu, Manenberg, Langa, Houtbaai, Atlantis en Kraaifontein kom,” het Songezo Mjongile, provinsiale sekretaris van die ANC, Dinsdag gesê. “Die doel is om ʼn reaksie van die premier, Helen Zille, te kry.”

Mjongile sê ʼn memorandum van eise is ná ʼn betoging op 5 Februarie oorhandig, maar tot dusver was daar geen reaksie nie. Burgemeester Patricia de Lille het egter op 27 Februarie op die eise reageer, luidens ʼn dokument wat Sapa gesien het. Die ANC het op 19 Maart op De Lille se skrywe reageer en haar reaksie veroordeel.

Die ANC se eise sluit in dat grond vir godsdienstige en kulturele doeleindes beskikbaar gemaak moet word, dat huise aan “agterplaasbewoners” gegee moet word en dat die emmer- en mobieletoilet-stelsel onmiddellik afgeskaf moet word.

Zak Mbhele, woordvoerder vir Zille, het Dinsdag gesê die kwessies wat verlede maand tydens die betoging en in die memorandum voorgehou is, hou verband met plaaslike en nasionale bevoegdhede. “Die stad het reageer op sake wat verband hou met munisipale dienslewering en die Wes-Kaapse regering kan nie kommentaar lewer oor ander kwessies waarvoor hy nie verantwoordelik is nie,” het Mbhele gesê. “Dit is ironies dat die ANC kla dat daar nie ʼn reaksie van die premier se kantoor is nie, maar die ANC en Cosatu-leiers wou haar tydens die betoging nie kans gee om te praat nie.” Hy sê Zille sou die kwessies behoorlik aangespreek het as sy die kans gebied is om te praat.

Zille het Dinsdag haar kommer uitgespreek dat Woensdag se betoging moontlik nie vreedsaam gaan wees nie, weens die onlangse heraanstellings van die ringleiers van verlede jaar se sogenaamde “poefie-protes”.

Loyiso Nkohla en Andile Lili is Maandag terugverwelkom in die ANC ná ʼn suksesvolle appèlproses by die provinsiale tugkomitee. Hulle het betogers verlede jaar gelei om menslike uitskot op die trappe van die Wes-Kaapse Wetgewer en by die Kaapstadse Internasionale Lughawe te stort.

“Die ANC beplan om môre [Woensdag] na die Wetgewer op te ruk, en mnr. Lili en mnr. Nkohla, nou weer volle lede van die ANC, het herhaaldelik gedreig om die stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering onregeerbaar te maak,” het Zille gesê.

Mjongile het sy versekering gegee dat die betoging vreedsaam sal wees. “Alle ANC-betogings is vreedsaam. Moenie daaroor bekommerd wees nie. Hulle [die Demokratiese Alliansie] moet hul kwessies met hul aartsvyand uitsorteer,” het Mjongile gesê. Hy sê dit is nie behoorlik om hom te vra of Lili en Nkohla die betoging sal bywoon nie. “Dit is nie vir ons belangrik nie. Die leierskap van die ANC sal deelneem.”

Die Kamer van Koophandel het Dinsdag gesê dat betogers, wat eiendom beskadig en ondernemings ontwrig, sal aanspreeklik gehou word. “Ons het reeds hofuitsprake wat vakbondorganiseerders verantwoordbaar hou vir skade aan eiendom wat tydens betogings deur ongedissiplineerde lede aangerig word,” het Janine Myburgh, president van die Kamer van Koophandel, gesê. “Mense het ʼn reg om te betoog, maar hierdie reg sluit nie in om voertuie met klippe te bestook of nasionale paaie te versper nie.”

Die optog begin Woensdag om 10:00 in Keizersgrachtstraat in Kaapstad. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.