Zille nou waarnemende DA-leier

Helen Zille tydens die verkiesingsveldtog in 2009, die jaar wat sy op 6 Mei premier van die Wes-Kaap geword het. (Foto word met vergunning op Maroela Media gepubliseer) Foto: Helen Zille, “Not Without a Fight”

Helen Zille bevind haar nou weer aan die stuur van die DA. Zille neem waar as DA-leier totdat die party se federale raad ’n interim leier kan aanwys, het die DA se federale regskommissie vandag besluit.

Sy is die waarnemende leier omdat sy as voorsitter van die party se federale dagbestuur sedert Sondag die hoogste demokraties verkose posisie in die party beklee.

ʼn Interim leier moet nou by die volgende sitting van die federale raad aangewys word en sal as leier waarneem tot die afgevaardigdes na die DA se vervroegde federale kongres in April ’n nuwe partyleier kan kies.

Volgens John Steenhuisen, voormalige hoofsweep van die DA, kan die volgende sitting van die federale raad wat die interim leier tot April sal aanwys, moontlik reeds volgende naweek plaasvind.

Steenhuisen is outomaties sy pos kwyt, omdat Mmusi Maimane (die leier wat hom aangewys het) bedank het. Steenhuisen bly aan as DA-lid en DA-LP. Hy het gesê verskeie mense het hom gevra om as parlementêre leier te staan, dat hy dit positief oorweeg en dat hy op ’n gepaste tyd ’n aankondiging sal maak.

Hy het diegene wat die DA se doodsberig wil skryf, gemaan om hul penne weg te sit, want dit is onvanpas en voortydig. “Die DA is taai en het al erger uitdagings oorkom in belang van die liberale ideaal,” sê Steenhuisen.

Dieselfde beginselbeslissing van die federale regskommissie beteken dr. Annelie Lotriet is waarnemende parlementêre leier van die DA, tot die parlementêre koukus van die DA ’n nuwe parlementêre leier kan kies.

Lotriet het gesê sy het reeds ’n versoek aan die federale dagbestuur van die DA gerig dat hulle toestemming gee dat nominasies vir die posisie van parlementêre leier tot Dinsdag ingewag word en dat die koukus volgende Donderdag die nuwe parlementêre leier kies. Die federale dagbestuur oorweeg nog die versoek, en hul beslissing sal bepalend wees.

Dieselfde bevinding van die federale regskommissie beteken dat die huidige DA-adjunkhoofsweep, Jacques Julius, waarneem as hoofsweep omdat hy die hoogste demokraties verkose posisie in die DA-swepery beklee totdat die nuwe parlementêre leier ’n nuwe hoofsweep aanwys.

Een van die belangrikste onbeantwoorde vrae is hoeveel prominente DA-lede soos Maimane en die party se voormalige federale voorsitter, Athol Trollip, ook uit die DA gaan bedank. Dié lede meen die onlangse triomf van die Zille-faksie oor die Maimane-faksie verteenwoordig ’n moreel onaanvaarbare DA-swaai na regs.

Maroela Media is bewus van minstens drie DA-LP’s wat wil bedank, maar dit nog nie gedoen het nie. Hierdie persone is huishoudelike name en hul name word weerhou ingeval hulle van besluit verander.

Op ’n laer vlak het die ANC aangekondig dat drie voormalige DA-takvoorsitters en verskeie ander DA-lede vandag na die ANC oorgeloop het. Die drie takvoorsitters was onderskeidelik voorsitters van die DA-takke by die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban, die township Esikhawini buite Richardsbaai en die woonbuurt Overport in Durban, het die ANC gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

47 Kommentare

jongste oudste gewildste
sannie

Almal Zille en die wat bedank het besig met ‘n agenda?

Berdéhan Brand

Zille het baie vermag. Mmusi het in 4 jaar baie afgebreek. Sy sal dit nie kan herbou nie. (Dit gebeur as jy jou voertuig vir iemand sonder ñ lisensie gee.)

susan

Wat is fout met my kommentaar

Chris Hattingh

Sy het my een keer teleur gestel. Dit was genoeg.

aj

YSTERVROU!!!

Welgedaan!

Wie het besluit dat Zille se herverkiesing ‘n stap is na REGS?

Is dit omdat haar velkleur WIT is?