Zille sê oor Mazibuko-berigte

Helen Zille

Helen Zille

Helen Zille, leier van die DA, sê berigte wat beweer dat sy Lindiwe Mazibuko openlik aangeval het, is geskoei op selektiewe inligting wat deur lede van die party se federale uitvoerende raad uitgelek is om hul eie agendas te bevorder.

Zille het die uitlatings gemaak in die DA se nuusbrief, SA Today, in reaksie op ‘n berig in die Sunday Times. Zille sê die berig se bewerings dat sy gesê het sy het Maizbuko “gemaak” en dat Mazibuko “niks sonder haar sal wees nie” is vals. Die berig het verwys na ‘n vergadering van die DA se federale uitvoerende raad wat op 16 Mei plaasgevind het.

“Ek het gesê dat ek hard gewerk het om Lindiwe se loopbaan te bevorder. Ek het gesê dat ek nog nooit so baie gedoen het om iemand in die DA se loopbaan te bevorder nie.” Zille sê lede van die federale uitvoerende raad lek selektief inligting aan die media uit om hul eie agendas in die DA-opvolgstryd te bevorder.

“Ek het gesê dat ek herhaaldelik verantwoordelikheid geneem het vir foute wat in die parlement gemaak is, in ‘n poging om haar [Mazibuko] en die parlementêre span te beskerm. In geen stadium gedurende die vergadering het ek ‘n ‘striemende aanval’ op Lindiwe geloods nie. Ek het slegs die feite op die tafel gesit.”

Zille sê sy het tydens die DA se verkiesingsveldtog verneem dat Mazibuko beplan om oorsee te gaan studeer na afloop van die verkiesing. Sy sê die inligting is egter ure voor dit in die media verskyn het aan haar bevestig. “Dit was duidelik dat sy die vooruitsig van ‘n nederlaag in die parlementêre leiersverkiesing in die gesig gestaar het, en dit wou vermy. Dit is heeltemal verstaanbaar, maar ek sou verkies het dat sy oop kaarte met my gespeel het en vroeër vir my die waarheid vertel het.”

Zille sê dit is kommerwekkend hoe sommige mediaplatforms misbruik word deur “sogenaamde joernaliste en rubriekskrywers” wat aan ’n sekere faksie van die DA behoort. “Dit is tyd om ’n lyn in die sand te trek. Ons sal nou in die DA praat oor hoe om mense te hanteer wat verdraaide fak­sie- agendas deur hul bondgenote in die media dryf.” Zille sê sy wil met die redakteurs van Business Day en Sunday Times vergader om die weg vorentoe te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.