Zille stuur sterk seine in eerste DA-leierstoespraak

Helen Zille (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

Die waarnemende leier van die DA, Helen Zille, het vanmiddag in haar eerste openbare toespraak sedert haar onlangse dramatiese terugkeer na politieke leierskap ‘n sterk sein gestuur dat sy ‘n mag gaan wees om mee rekening te hou.

Zille het begin deur stadig en gedetailleerd haar weergawe van wat die afgelope tien dae in die DA gebeur het, met die gehoor te deel. Sy meen die DA is nie in ‘n krisis nie en dat die media se beriggewing baie swak is. Met die uitsondering van twee – Waldimar Pelser van Rapport en James Myburgh van PoliticsWeb – meen sy die land se politieke analiste is baie swak.

Volgens haar was die DA se probleem tot onlangs swak leierskap, maar toon marknavorsing dat die party se steun die afgelope week weer begin groei het. Sy meen die feit dat al die provinsiale DA-leiers teen haar gestem het in die verkiesing wat sy gewen het, wys dat hulle uit voeling is met DA-kiesers.

Zille het gesê die belangrikste riglyne vir die toekoms is dat die DA absoluut die party van nie-rassigheid, uitstekende, streng regering en die markekonomie moet wees, dus baie uitgesproke en suiwer moet wees oor daardie beginsels sodat niemand rede het om te voel die DA is ‘n afgewaterde weergawe van die ANC nie.

Hoewel Zille weer belowe het om “in my baan te bly” – en dus aan ander mense die geleentheid te gee om die DA te lei – en hoewel sy gesê het haar nuwe DA-rol beteken sy is nie in die volle sin van die woord terug in die politiek nie maar gaan eerder sorg dat die DA se organisatoriese masjien geolie bly, het sy, op eie inisiatief en uiters pertinent, in haar voorbereide toespraak ‘n paar baie belangrike beleidsverskille tussen haar en Steenhuisen uitgestippel, waarvan twee nogal groot is.

Die eerste is dat sy meen ras moet heeltemal as meetsnoer in die DA verdwyn en dat ras nie ‘n rol moet speel wanneer die graad van ‘n individu se maatskaplike benadeling beoordeel word nie. Steenhuisen meen hoewel ras nie bepalend moet wees nie, is dit toondoof, feitelik verkeerd en ahistories om te ontken dat armoedevlakke onder die oorweldigende hoeveelheid swart en bruin Suid-Afrikaners baie erger is as onder wit Suid-Afrikaners, en dat die gevolge sistemiese benadeling ‘n groot rol daarin speel.

Zille het trouens gesê haar grootste fout toe sy DA-leier was, was dat sy spesifiek probeer het dat die DA meer swart leiers kry. Sy glo nou ras moet geen rol speel in politiek nie.

Tweedens is Zille gekant teen die voortsetting van die opposisiekoalisies in stadsrade in die noorde van die land, want sy wil hê die DA moet glad nie met die EFF saamwerk nie. Steenhuisen meen hoewel samewerking met die EFF vir die DA moeilik is, is die alternatief dat die ANC en die EFF byvoorbeeld Johannesburg, Tshwane, Thabazimbi en Modimolle (Nylstroom) regeer, wat sleg sal wees vir die belange van DA-kiesers, of anders dat daardie stadsrade met chaotiese minderheidsregerings sal sit wat niks sal kan deurvoer nie.

Toe die vooraanstaande politikus prof. Anthony Butler haar uitvra oor hierdie groot verskille tussen haar en haar parlementêre leier het Zille gesê die DA-beleidskonferensie sal die verskille na die een of ander kant besleg.

Benewens die inhoud van haar toespraak het politieke analiste ook gekyk of mens veel wys kon word oor die magsbalans in die DA noudat die leier en die nasionale voorsitter bedank het.

Met haar lang toespraak vanmiddag oor haar visie vir die DA in die toekoms voor ‘n entoesiastiese en groot gehoor by Kelvin Grove, die hart van die Kaapse Engelse establishment, het sy miskien nie bewustelik haar party se parlementêre leier, John Steenhuisen, na die kroon probeer steek nie, maar dit was onmoontlik om die verskille tussen haar toespraak vanmiddag, en sy toespraak by die einste Kelvin Grove, ook voor die Kaapse Persklub, mis te kyk.

En miskien was dit nie bedoel as magsvertoon nie, maar vir enigeen wat beide bygewoon het, kan daar nou geen twyfel wees oor wie die mag in die DA het nie. Onafhanklik van enige leiersverkiesing is dit Zille wat die kitaar slaan in die DA.

Hoewel dit belangrike nuusgeleenthede vir joernaliste bied, is diegene wat die Persklub se geleenthede bywoon (in groot getalle) en dit finansieel dra, op die oog af 99% wit, 95% Engels, 85% ouer as 60, grootliks uiters welvarend en 99% DA-ondersteunend.

Die eerste verskil met Steenhuisen se geleentheid Maandag was dat Zille se gehoor eksponensieel meer was as Steenhuisen – daar was ‘n massa mense wat bereid was om R300 te betaal om na haar visie te luister eerder as na syne, in so ‘n mate dat die grootste saal in die hele kompleks eintlik te klein was om al die Zille-bywoners te huisves, terwyl Steenhuisen ‘n baie goeie opkoms gehad het, maar in ‘n sysaal gepraat het wat nie vol was nie.

Tweedens was daar ‘n baie groot verskil tussen die gehoor se reaksie op hierdie week se twee sprekers. Steenhuisen is ondersteunend aangehoor, maar vir Zille was daar telkens applous, soms staande applous.

Derdens was die verskil in styl tussen die twee opmerklik. Steenhuisen het die mense toegespreek, Zille het met hulle gesels. Dit is natuurlik so dat hierdie haar tuisgemeenskap is – hul familietuiste was so vier kilometer weg, haar kerk is ‘n paar honderd meter weg en haar kinders het ‘n klipgooi van hier skoolgegaan, terwyl Steenhuisen ‘n Durbanse boikie is.

Maar vandag se boodskap, bedoeld of onbedoeld, was duidelik – Zille is terug en wie haar gramskap op die hals haal gaan in die DA in hul pasoppens moet bly. Ander mag die leiers van die DA word, maar Zille het die mag om te gebruik of nie te gebruik nie soos sy wil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Stan ·

Die vrou is ‘n irritasie.
Kan ons nie leiers kry wat entrepeneurs is nie?
Prokureurs. Dominees, Joernaliste ens het ongelukkig nie die vermoë om werklik werk te skep nie.

aj ·

Stan
Leierskap het niks te doen met jou professie nie!
Mense met aangebore leierseienskappe kan mense beinvloed … dit niks te doen met jou professie nie.
Leiers het selfvertroue, intelligensie en VISIE!

Ruiklont ·

Gee hulle gas Hellen, jy is ‘n groot bate tot die DA , indien nie die grootste bate Nie. Kennis en ervaring met logika kan nie gekoop word nie. Volgens my moet die jong turke kennis neem en leer by haar om as span die mas op te kom. Ek ondersteun nie die DA nie, ek besef egter dat die oppesisie die sterk leierskap van Zille in die DA ten volle moet benut

Spikkel ·

Ek is nog altyd ‘n Zille-ondersteuner. Die vrou ken haar storie.

Terloops ·

Van liberaal, tot sosiaal demokraties, tot die party wat die ANC kan wen… in ‘n kort tydperk…. wat nou? Hou die media dop en sien dat die DA vry na verlore kiesers. Hoop ons mense is nie naiëf genoeg vir dié nuutste truuk nie.

Neewat ·

Nee wat, mense wat DA stem net oor Zille terug is, hou seker daarvan om hulle kop heletyd te stamp.

Pro-Zille ·

Ek deel in jou blydskap, Anoniem. Sterk vrouens bly maar ‘n bedreiging.

Foxi ·

N vrou met durf en daad. Wees bang……baie bang vir haar. Die land het sulke leiers nodig.
Nou moet Tony Leon ook net terugkeer……………

Cherokee ·

Sê ‘n ander Durbanse boikie wat Steenhuisen se gevegte teen ‘n wit gewese stadsbestuurder wat lid is van die ANC, geniet het toe John Steenhuisen nog hier was, vir julle (en ek sê dit as hewige teenstander van alles wat na DA ruik) Steenhuisen het nie die ‘n sterk genoeg persoonlikheid om Helen Zille aan te sê, om in haar baan te bly, nie.

Kolskoot ·

As Zille maar net die President van die land kon wees sal die poppe gedans het ons het iemand soos sy dringend nodig

Chris du preez ·

Vir seker. Bly sy is terug. Sy het beslis ruggraat.

Stephan ·

Om vir politici soos Zille te vertrou, bewys maar net weereens hoe emosioneel die kiesers wêreldwyd is, en hoe beïnvloedbaar hul is vir vals beloftes.
Genade! Wat het geword van versiendheid?

jaco ·

En as daar n Rwanda-1994 situasie in SA ontstaan, waar die regering se “maak dood die minderheidsgroep wat aanhou om ons ekonomie te beheer”, dan pak Mev. Zille eenvoudig haar tasse en verhuis Duitsland toe. Sy kan deur ten minste 3 van haar grootouers op Duitse burgerskap aanspraak maak. Maar ek en meer as 3 miljoen wit mense sal maar moet bly en die onderdrukking moet vat, want ons het nie sulke lekker “agterdeure” nie.

Elda-Marie ·

Kyk, ek kan nou nie sê ek’t veel ooghare vir Helen Zille nie, maar kom ons wees eerlik, die vrou (met al haar foute) sal in wese ‘n VEEL beter leier vir SA wees as Ramaphosa. En of jy nou die DA steun of nie, moet ons erken dat opposisie vir die ANC ‘n GOEIE ding is.

Cherokee ·

Elda-Marie, pienk kan mos nie rooi opponeer nie, net soos navy nie blou kan opponeer nie en oranje nie geel kan opponeer nie, want dit is slegs verskillende skakerings van dieselfde dieselfde kleur.

CHAPPIES ·

Ons kort meer, Zille’s wat niks en niemand bang is..YSTERVROU!

Callie van der Merwe ·

Droom voort DA! Sal nooit vir julle stem nie omdat julle self nie werklik weet waar julle inpas nie. En terloops Die Mazone vrou wat nou “chief whipp” word is ‘n arrogante magshonger vrou wat net haar eie loopbaan wil bevorder!

Ivana ·

Kallie, hou jy van vrouens wat ja en amen op alles wat n man se. Dis nie meer die steentydperk nie en Steenhuisen ken duidelik nie die geskiedenis nie – jy vergeet van die slag van Bloedrivier – jy vertrou hulle net sover as wat jy hulle kan sien, m.a.w. GLAD NIE

Jimmy ·

Alle politici is magshonger. Dis waaroor politiek gaan. Dis nie ‘n plek vir softies nie. Vriendskappe is oppervlakkig.

Jaco ·

Diegene wat Zille se lof besing is duidelik uit voeling met die realiteit. Sy, Steenhuysen en Mazzone is magshonger individue vir wie dit net oor hulle eie voordeel gaan. Moenie dat die media julle n rat voor die oë draai nie – Mmusi was n dinamiese leier wie binne die party teen mense wat die DA weer na die dae van Colin Eglin wil terugneem, moes veg. Nieteenstaande die DA se beleid van diversiteit, word dit veral op grondvlak nie toegepas nie. Kiesers is verward en vra vrae wat nie beantwoord kan word nie. Die verkiesing van Zille, en die gevolglike bedanking van Mmusi, Athol en Mabuza, het die DA n knou toegedien waarvan hulle nie gou gaan herstel nie.

TDW ·

Hierdie DA kan sterk wees, maar ek dink nie steenhuizen is ‘n geskikte leier nie. Zille was die rede hoekom die DA gegroei het.
‘n Leier kan ‘n party vinnig breek. Selfs al is al die party se goed in plek.

Die VF plus se manifes weerspieël my eie waardes en dit waarin ek glo. Hulle bly vir my die enigste keuse, maar hulle sal moet daaraan begin dink om die jeug te betrek anders gaan hulle net ‘n verouderde party bly. Hulle is onsigbaar op kampus. Dis juis waar die warm bloed vandaan kom, soos gesien met mense soos willem petzer en sulks.
As die VF plus nie hul stemme weer wil verloor nie gaan hulle moet uithaal en wys.
Die Afrikaners is vir ‘n nie-rassige party, wat VF+ wel is, maar hul teenstanders kry dit goed reg om hul as ‘n ver-regse rassistiese party uit te jou, net oor hul pro-afrikaans is.
Ek is bevrees dat te veel afrikaners polities kop in die grond is om die werklikheid te besef. Harde werk lê weer voor vir die VF+ net soos vir die DA. Die enigste probleem is dat die Gaan baie meer geld het om bewustheid te skep.

Neels ·

Daar is beslis ruimte vir ‘n gematigde party êrens tussen die DA en die VF+ waar alle Suid Afrikaners ‘n politieke tuiste kan vind.

Feite ·

Die DA het weer murg in haar pype! Geen rasgebaseerde beleide, geen samewerking met die eff, magtig dit smaak mos nou soos manna uit die hemel. Die “kat” is terug asof sy gestuur is. Ek hoop net Steenhuizen besef dit en pas sy denke dienooreenkomstig aan, want dan sal die DA die regte anti-rewolusionere multi-kulturele ondersteuningsbasis bou wat die ANC se rewolusionere rasgebaseerde-kulturele ondersteuningbasis sal troef! Ek het n sterk vermoede dat die VF in elk geval soos n “fly by night” gaan opeindig oor hulle frontorganisasies se aandadigheid aan die uitfasering van afrikaans by universiteite soos bewys in die hofuitspraak afriforum vs UV en dan natuurlik ook solidariteit se aanvalle op MiWay, Spur en nou ook Total Sports wie almal, net soos Eben, ook die slagoffers is van druk en intimidasie deur boendoereg staatsmag. Dit is soos om die slagoffer te skop terwyl hy klaar op die grond le in plaas daarvan om ruggraat te wys en die boendoereg staatsmag aan te val wie inderwaarheid verantwoordelik is vir die politieke druk en intimidasie. Hierdie aanvalle op slagoffers wie geen ander keuse het as om te swig voor politieke druk vir oorlewing en die aandadigheid met die uitfasering van afrikaans by universiteite, gaan die VF en sy frontorganisasies nog duur te staan kom by die stembus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.