Zille: ‘Swak DA-leierskap lei tot swak uitslae’

Die voormalige DA-leier Mmusi Maimane. (Foto: AP/Jerome Delay)

Die toekoms van Suid-Afrikaanse politiek lê in koalisies, en hiervoor moet die DA ʼn ankertent word, meen die voorsitter van die DA se federale dagbestuur, Helen Zille.

Sy het Dinsdag by die Woordfees in die NG kerk Stellenbosch-Sentraal voor ʼn gehoor van honderde feesgangers gesê dit is swak leierskap wat tot die insinking in die DA se kiesersteun gelei het. Sy was dus glad nie verbaas toe leiersfigure soos Mmusi Maimane, Herman Mashaba en Athol Trollip onlangs die party verlaat het nie.

Zille is ondervra deur die Rapport-redakteur en TV-aanbieder Waldimar Pelser, en sy het beken sy was bewus van ʼn vyandigheid teenoor haar van Trollip en Maimane se kant. Sy het egter gemeen hul lidmaatskap van die DA sal uitflonker eerder as om op die manier te ontplof wat dit het.

Pelser het dit aan haar gestel dat sy self vir hom in 2015 gesê het haar politieke rakleeftyd het verstryk. Hy wou dus weet hoe dit dan is dat sy nou weer by die DA is.

Volgens Zille het sy destyds besluit dit ís so, maar ná oorleg met haar man, prof. Johann Maree, het sy sedertdien besluit dit is nié meer so nie. “Éintlik het ek nooit die DA verlaat nie – selfs nie toe hulle my probeer wegstoot het nie,” het sy die gehoor vertel.

Herman Mashaba (Foto: Timothy Bernard/AfricanNewsAgency/ANA)

Betreffende die uitvloei van swart talentvolle leiers soos Maimane en Lindiwe Mazibuko uit die DA, het Zille, wat nou 68 jaar oud is, haar siening gedeel dat politici eintlik op hul beste is as hulle in hul 60’s is en dat jong politici nie te vroeg moet piek nie.

Sy het ook laat val dat politieke leierskap nie maklik is nie, want politici meen heeltyd hulle kan hulle aan ander mense verantwoord en nie aan jóú nie, en dat jy “moet werk met wat ook al die politieke stelsel opgooi”.

Zille meen ʼn liberale opposisie is nodig en dat die DA nie ʼn ligter weergawe van die ANC moet wees nie. Sy is nie ten gunste van DA-samewerking met die EFF nie en sou eerder ANC-minderheidsregerings in plekke soos Johannesburg en Tshwane sien.

Zille het ʼn kwalik bedekte waarskuwing aan enige moontlike ondergrawers van haar binne die DA gerig toe Pelser haar herinner het dat sy onderneem het om “in haar baan te bly” en nie aan die nuwe DA-leier voor te skryf nie.

“Maar ʼn wye baan, hoor!” was haar antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

andre ·

Dit is as gevolg van julle binne gevegte dat julle steun verloor en die feit dat julle ook soos die ander partye in die land niks doen oor plaas aanvalle ,misdaad of doodstraf nie…net n gevinger wys na mekaar….al wat dit oor gaan by die land se partye is die eie ek …niks gepla oor die kiesers nie…..ons kort n wit Malema wat n ding reguit praat en nie met fancy woorde nie….Daar word net vir DA gestem om daar geen ander opsie is nie…

NetM ·

natuurlik is daar ander opsies. Gaan kyk hoe lyk die areas wat VF+ bestuur. Gaan lees hulle mandaat. Hulle is regverdig. Die DA is ‘n sosialistiese party. Kyk hoe het hulle hulle alies gesien in Tshwane. Hulle eie skuld deur en deur.

andre ·

ek stem met jou saam.Die DA moet in n koalisie met die VF gedwing word.Soos DA lede oorstap gaan dit in sekere areas wel gebeur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.