Zille weer tot Wes-Kaapse premier verkies

Marius Fransman wens Helen Zille geluk nadat sy herverkies is.

Marius Fransman wens Helen Zille geluk nadat sy herverkies is.

Helen Zille, leier van die DA, is Woensdag by die provinsiale wetgewer weer tot premier van die Wes-Kaap verkies.

Zille het 27 stemme verwerf en maklik haar ANC-teenstander, Marius Fransman met sy 14 stemme geklop. Een stembrief is bederf.

Zille het ná haar herverkiesing die nuwe provinsiale kabinet bekend gemaak. Sy het gesê dat agt LUR’e terugkeer, waarvan twee in nuwe portefeuljes sal dien. “Dit sal julle nie verbaas om te hoor hulle is mans nie,” het sy geskerts, met verwysing na kritiek wat sy ontvang het oor haar aantal manlike verteenwoordigers.

Robin Carlisle, voormalige LUR van vervoer, en Gerrit van Rensburg, LUR van landbou, gaan nie terugkeer nie. Sy het hulle vereer en gesê hulle het hul termyne met groot lof gedien.

Haar twee nuwe toevoegings tot haar span is assosiaat-professor Nomafrench Mbombo vir die portefeulje kultuursake en sport. Debbie Schafer neem die leisels van die onderwysportefeulje by Donald Grant oor. Grant skuif na vervoer.

Zille het ʼn nuwe saamgestelde portefeulje bekend gemaak, naamlik die portefeulje landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, wat deur Alan Winde gelei sal word.

Die ander LUR’e is:
– Theuns Botha (gesondheid);
– Anton Bredell (plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning);
– Albert Fritz (maatskaplike ontwikkeling);
– Donald Grant (vervoer en openbare werke);
– Bonginkosi Madikizela (menslike nedersettings);
– Ivan Meyer (finansies); en
– Dan Plato (gemeenskapsveiligheid).

Hulle sal Maandag deur adjunk regterpresident Jeanette Traverso ingesweer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.