Zim-kannibaal pleit skuldig

mes-aanval

Argieffoto

ʼn Man van Zimbabwe het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig gepleit op moord en dat hy sy slagoffer se hart verwyder het. Hy het glo ook op die toneel stukkies van die man se hart geëet.

Andrew Chimboza (35) het op die eerste dag van sy verhoor ʼn pleitooreenkoms onderteken. Hy het skuldig gepleit voor regter Ashley Binns-Ward en sy pleitooreenkoms is aan die hof voorgehou.

In die ooreenkoms vra hy om verskoning dat hy die 62-jarige Mbuyiselo Manona in Junie 2014 in Gugulethu by ʼn kliënt se huis vermoor het. “Ek is jammer oor dit wat ek gedoen het en ek het ware berou,” het hy in die dokument gesê.

Hy het verduidelik hy het die kliënt by haar huis besoek nadat sy glo versoek het dat hy moet ondersoek instel oor vensters wat hy by haar huis gekleur het. Hy het gesê hy en die vrou is vriende en hy was ʼn paar keer vantevore ook by haar huis.

Toe hy opdaag, wou Manona glo weet wat maak hy daar en het geëis dat hy die perseel moet verlaat. Manona het hom glo beledig en hom gevloek, maar hy het in elk geval die huis betree. Chimboza het R50 aan die vrou gegee en sy het gaan alkohol koop. Hy het gedink Manona sou saam met die vrou loop, maar hy het agtergebly. Toe Chimboza uit die badkamer kom, het Manona hom glo in die gesig geslaan en hom daarvan beskuldig dat hy en die vrou ʼn seksuele verhouding het. “Ek was so geskok dat hy my slaan,” het Chimboza gesê. “Ek het gesien dat hy ʼn mes by hom het en hy het oor my gestaan.” Chimboza het hom toe in sy lies geskop. Manona het vooroorgesak van pyn en Chimboza het ʼn vurk opgetel en hom in die nek gesteek. “Ek het die mes toe by hom afgeneem en dit gebruik om hom te steek. Ek het sy keel gesny en hom steeds met die mes bly steek. Ek was so kwaad dat ek nie kan onthou hoeveel keer of waar ek hom gesteek het nie.”

Chimboza het gesê hy besef sy optrede was verkeerd en oorskry die grense van selfverdediging.

Die nadoodse ondersoek het aangedui Manona is dood van wonde in sy nek, bors en maag.

Chimboza is skuldig bevind op aanklag van moord sonder voorbedagte rade.

Die staat het verlede jaar tydens die hofverrigtinge in die Athlone-landdroshof aangevoer ooggetuies het gesien hoe sit Chimboza bo-op die slagoffer en eet stukkies van sy hart. Dit is nie Maandag in die pleitooreenkoms genoem nie. Landdros Jacqueline Sibiya het gesê sy glo die verwydering van die hart was nie die oorsaak van dood nie en beïnvloed dus nie die pleitooreenkoms nie. Sy beplan egter om die dokter, wat die nadoodse ondersoek gedoen het, as ʼn getuie te roep tydens die betoë oor verswaring van vonnis.

Die vonnisverrigtinge begin Dinsdag.

Lees alle vorige berigte oor die Zim-kannibaal op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Riaan Slabbert ·

“Die nadoodse ondersoek het aangedui MANONA is dood van wonde in sy nek, bors en maag.”
“MANONA is skuldig bevind op aanklag van moord sonder voorbedagte rade.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.