Zim maak toegewings oor invoerverbod

Foto: www.african-bulletin.com

Foto: www.african-bulletin.com

Die Zimbabwiese regering het uiteindelik toegegee en ʼn “verduideliking-kennisgewing” uitgereik wat beklemtoon dat die nuwe maatreël, waarvolgens dit ʼn oortreding is om stapelvoedsel- en ander alledaagse produkte in te voer, slegs op handelsinvoerders gemik is. Dit geld dus nie vir enkel-invoerders nie.

Daarbenewens het die Zimbabwe-inkomsteowerheid die wet hersien om individuele invoer van byna alle basiese produkte wat voorheen deur die verbod gedek was, een keer per maand belastingvry toe te laat.

Die hersiening van die beleid volg ʼn dag ná die minister van binnelandse sake, Ignatious Chombo, gesê het die regering sal nooit skietgee wat die inwerkingstelling van die nuwe invoerregulasies betref nie, omdat dit veronderstel was om Zimbabwiërs aan te moedig om plaaslik te koop en nie meer Suid-Afrikaanse besighede te verryk nie.

Maroela Media het vroeër berig smokkelbedrywighede tussen Musina en Zimbabwe het toegeneem nadat Zimbabwe ʼn verbod op die invoer van basiese voedselsoorte geplaas het. Die inwerkingstelling van die maatreël het ook chaos by die Beitbrug-grenspos veroorsaak en die onluste het die regering gedwing om die grenspos vir die eerste keer te sluit ná dit in 1929 geopen is.

Abigail Shonhiwa, die minister van handel en nywerheid, het by ʼn Koop Zimbabwe-sakeseminaar gesê enkel-invoerders is nooit deur die wet geraak nie. Die verbod is op hulle afgedwing weens “ʼn gebrek aan duidelikheid”.

“Hierdie beleid geld vir handelsinvoerders en nie vir individue wat hul 2 l-kookolie, of enige ander produk wat op daardie [invoer-verbod-] lys is, wil aankoop nie,” het Shonhiwa gesê.

Die invoerverbod het algemene en stapelprodukte soos mieliemeel, kookolie, melk, botter, konfyt, mayonnaise, kaas, jogurt, roomys, koffieverromers, wasgoedseep, skoonheidsrome en petroleum ingesluit. Dit het ook die invoer van boumateriaal, plaaskunsmis en tweedehandse bande verbied.

Die Zimbabwe-inkomsteowerheid het Woensdag die invoerbeperkings nagesien en perke gestel op die aantal ware wat individue maandeliks belastingvry mag invoer. Volgens die lys mag mense onder meer maandeliks nie meer nie as 2 kg grondboontjiebotter en konfyt, 1 l roomys of 1 kg kaas invoer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Verstaan nou nie so lekker nie? Dog Bob en Zuma is hand ommi blaas pelle? In kompetiesie om te sien wie kan met die meeste vat vir die minste gee wegkom? En nou…..?

rudi ·

Jy sien die melk plase wat Grace Mugabe gevat het sukkel om te kompeteer teen SA boere. Seker waarom daar ‘n verbod op roomys is

Lance ·

Ag die hele damn zim is n gemors …in 1977 was die zim dollar sterker as Britse Pond … kyk waar trek hy nou ….hehe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.