Zim-permithouers kan dalk langer in SA aanbly

Foto: http://zimembassycanberra.org.au/

Zimbabwiese burgers wat in Suid-Afrika woon sal nog ʼn geleentheid gegun word om vir werkspermitte aansoek te doen om hul verblyf in die land te verleng.

Ayanda Dlodlo, minister van kommunikasie, het tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê die kabinet het goedkeuring gegee dat die departement van binnelandse sake die heraansoekproses vir huidige houers van die Zimbabwiese spesiale bedeling-permit (ZSP) kan heropen onder sekere voorwaardes.

“Die aanvanklike spesiale bedeling vir Zimbabwiërs is in April 2009 goedgekeur om Zimbabwiese burgers wat onwettig in Suid-Afrika woon te dokumenteer.”

Tussen 1 Oktober en 31 Desember 2014 kon Zimbabwiërs aan wie daar in die vroeëre tydperk permitte toegestaan is, vir die nuwe ZSP aansoek doen. “Hierdie permitte sal op 31 Desember 2017 verval. Hlengiwe Mkhize, minister van binnelandse sake, sal ʼn aparte inligtingsessie hou om die voorwaardes en die proses te verduidelik sodra die heraansoekproses open,” het Dlodlo gesê.

Die destydse minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, het in Januarie gesê hy bedink nog die lot van ongeveer 200 000 Zimbabwiërs wat tans in Suid-Afrika woon en werk met die ZSP. Hy het egter gemaan dat ʼn voortdurende hernuwing van tydelike verblyfpermitte ʼn “voorrang van permanensie” stel.

“Iemand kan ons hof toe sleep en sê hy is nou al vir baie jare in Suid-Afrika met hierdie spesiale permit en verdien nou permanente verblyfreg. Om 190 000 mense [ZSP-houers] op een slag permanente verblyfreg te gee sal ongekend wees. Dit is ongehoord en drasties,” het Gigaba destyds gesê.

Gigaba is sedertdien na die departement van finansies geskuif ná die kabinetskommeling in Maart.

Volgens die spesiale vergunning wat in 2014 toegestaan is, is Zimbabwiërs wat vroeër permitte onder die Dispensation for Zimbabweans-projek ontvang het, toegelaat om vir ʼn ZSP vir ʼn tydperk van drie jaar te herregistreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

tokkie ·

Ek dink dis meer na 2 miljoen as 200 000 . Die land is oorvol

snoefie ·

laat hulle huis toe gaan. hulle ken mos na drie jaar hoe die toyi toyi werk. laat hulle teruggaan zim toe, hulle landgenote gaan leer en dan self hulle land, in hulle land ungovernable gaan maak.

zoom zoom ·

Snoefie. Ek stem saam met jou. Stuur die goed terug na zim ons het hulle nie nodig.

marous ·

Dit moet erger as Sirie in Zimbabwe wees as hulle mense langer hier wil bly…

Michael ·

Stem saam met tokkie se getalle en neem jy die werkloosheid onder suid afrikaners is hierdie soos altyd weer lagwekkend ???

Fred ·

Teen een kleintjie per jaar het die 190,000, vanaf 2014 tot op datum, reeds ± 570,000 nuwelinge in SA geregistreer ( Tweelinge uitgesluit).

wraggies ·

Hulle het gekry waarvoor hulle geveg het in Zimbabawe, hoekom will hulle nou hier wees?

Vryheid ·

Wat n grap. Daar is miljoene Zim “vlugtelinge” onwettig hier, wat maak dié enige verskil. Meeste is sonder papiere en wat nou- niks!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.