Zim-permitte weer verleng

(Foto: John Wessels/AFP)

Terwyl die departement van binnelandse sake en die Helen Suzman-stigting nog in ʼn hofgeding gewikkel is oor die geldigheid van die Zimbabwiese Vrystellingspermitte (ZEP), het minister Aaron Motsoaledi aangekondig dat dié permitte vir twee jaar lank verleng word.

Motsoaledi sê diegene wie se permitte vandeesmaand of in Junie volgende jaar sou verval, kan vir ʼn nuwe vrystellingspermit aansoek doen.

Permithouers sal voorts in die land kan woon, werk en sake doen, en selfs aansoek doen vir permanente burgerskap.

“Die 78 126 Zimbabwiërs wat aansoek gedoen het om kwytskelding en 10 427 van diegene wat vir ander visums aansoek gedoen het, sal beskerming geniet terwyl hulle wag op die uitkoms van hul kwytskelding en visumaansoeke,” het Motsoaledi gesê.

“Dit is dus nie nodig vir hulle om aansoek te doen vir nuwe vrystellingspermitte nie aangesien die geldigheid van hul verstreke vrystellingspermitte verleng is.”

Motsoaledi het ook die vrystellingspermitte wat aan byna 55 000 Lesotho-burgers uitgereik is, tot November 2025 verleng en dieselfde voorwaardes vir nuwe aansoeke voorgelê.

Volgens Motsoaledi sal die verlenging van permitte aan Zimbabwiërs en Lesotho-burgers komende Maandag in die Staatskoerant gepubliseer word.

Sowat 180 000 Zimbabwiërs wat van die politieke en ekonomiese krisis in hul geboorteland gevlug het, het in 2009 werkvisums van vier jaar lank in Suid-Afrika ontvang.

Hoewel die visums herhaaldelik verleng is en dit selfs weer tot die einde van die jaar verleng is, het die regering in 2021 aangekondig dat daar geen verdere verlenging ná Desember 2022 sou wees nie.

Die Helen Suzman-stigting het toe besluit om dié besluit in die hof te betwis. Sedertdien is die stigting en die departement in ʼn hofstryd gewikkel, selfs nadat die hooggeregshof beslis het dat die departement se besluit ongrondwetlik was.

Regters Colleen Collis, Gcina Malindi en Mandlenkosi Motha het onlangs gesê hul vorige uitspraak bly van krag, ten spyte van Motsoaledi se pogings om daarteen te appelleer.

Die regters het vroeër vanjaar gesê dat die permithouers 12 maande lank beskerming moet geniet terwyl die minister ʼn “regverdige en rasionele ondersoek instel na die uitwerking wat dit sal hê as die permitte nie hernu word nie”.

Motsoaledi het Vrydag gesê dat hy die “spesiale omstandighede” waarin permithouers hulself bevind “noukeurig oorweeg”, daarom die besluit om die permitte vir nog twee jaar te verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Piet 6 ·

H. A. Die eerste nuwe ID kaart van Suid Afrika wat ek gesien het, was aan ń Zimbabwiese burger uitgereik, seker omtrent ń maand nadat dit vrygestel was.

Jannie ·

Lekker man, lekker. Land van melk en heuning. Kom in, kom bly, kom skep. Hope werk en kos v almal!!!

Riaan ·

Hoekom is hulle in Suid-Afrika. Hulle land is dan so “demokraties”

annie ·

Die rede is dalk heel eenvoudig. Die mense wat stem dat die verblyf verleng word, kom self ook van elders.

Marcha ·

Onhou dit wanneer dit tyd is Vir stem. Daar is nie eens week Vir ons eie citizens Nie en Hulle verleng nog permitte wat and werk gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.