Zim-verkiesing skop af

Robert en Grace Mugabe, Sondag by hul huis. Foto: ANA

Die eerste nasionale verkiesing sedert die bedanking van die voormalige president Robert Mugabe vind vandag (Maandag) in Zimbabwe plaas.

Sowat 10 000 stemlokale reg oor dié land het teen 07:00 oopgemaak en sluit weer om 19:00. Altesaam 71 000 polisiebeamptes sowel as buitelandse waarnemers monitor die verkiesing.

Die voorlopers in die stryd om die presidentskap is Emmerson Mnangagwa van Zanu-PF en Nelson Chamisa van die MDC-alliansie. Die dag is as ʼn openbare vakansiedag in Zimbabwe verklaar.

Mugabe het die afgelope naweek ʼn perskonferensie by sy woning aangebied waartydens hy na Mnangagwa gekap het en gesê het hy sal nie vir dié stem wat hom “onderdruk” het nie. Mugabe het gesê Mnangagwa is ʼn “harde werker”, maar iemand “wat nie altyd eerlik is nie”.

Mnangagwa, wat Mugabe se pos beklee het nadat die land se weermag moes ingegryp, het op sosiale media teenoor Mugabe uitgevaar en in ʼn video gesê dit is nou duidelik dat Chamisa ʼn ooreenkoms met Mugabe gesmee het.

“Ons kan nie meer glo dat Chamisa se voornemens is om Zimbabwe te transformeer en te herbou nie,” het Mnangagwa gesê.

“Die keuse is duidelik. Julle stem óf vir Mugabe onder die dekmantel van Chamisa, of julle stem vir ʼn nuwe Zimbabwe onder my leierskap en dié van Zanu PF. Regte verandering is op pad en ons moet almal deel wees daarvan.”

Intussen sal meer amptenare nog tot Vrydag by die Beitbrug-grenspos tussen Limpopo en Zimbabwe ontplooi wees om te verseker grensposdienste verloop glad.

Waarnemers en ambassades het vertroue uitgespreek in die land se gereedheid om die verkiesing te hou en het alle politieke partye versoek om die oppergesag van die wet op die stemdag te respekteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Ons BID dat die verkiesing VRY en REGVERDIG sal wees ! ?? OOK ‘n voorbeeld vir Suid-Afrika

Anoniem ·

Ons BID dat die verkiesing VRY en REGVERDIG sal wees ! ?? OOK ‘n voorbeeld vir Suid-Afrika

Alida ·

As hulle nog nie gevoel het wat ou Bob se regering aan hulle gedoen het nie het ons nie raad vir dom mense nie.

Willie ·

Ag asseblief dit gaan weer so gekook word… die verkiesing is maar ne n bluf

christa ·

Mogabe is die laaste person wat van eerlikheid kan praat. Hy het jare oneerlik gehandel,

HPV ·

Afrika verkiesings word altyd “vry en regverdig” verklaar, of dit deur die AK 47’s of duisende vals stembriewe afgedwing is, dit is “vry en regverdig”.

Andre C ·

Sowaar,Robert Mugabe is op vrye voet .Het hy nie al van sy teenstanders uitgewis nie?Ek praat van n sekere stam van wie hy en ene Manangagwa honderde vermoor het ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.