Zimbabwe: ‘Revolusie kan oorspoel na SA’

Zimbabwiërs vier fees in die strate van Harare nadat daar aangekondig is dat Robert Mugabe as president van Zimbabwe bedank het (21 November 2017). Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Die nuus van Robert Mugabe se bedanking as president van Zimbabwe word grootliks verwelkom.

Die VF Plus verwelkom die vreedsame proses in Zimbabwe wat gelei het tot die voormalige president Robert Mugabe se besluit om te bedank. “Dit wil voorkom asof hy eindelik besef het wat die ware omvang van die situasie in die land is,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, in ʼn verklaring gesê.

Groenewald het gesê indien ʼn mens let op die spontane vreugde van die publiek in Zimbabwe is dit duidelik hoe onderdruk hulle onder Mugabe se bewind gevoel het. “Hulle het in armoede en hongersnood geleef en moes toesien in watter weelde die Mugabe-gesin en hul meelopers geleef het.”

Hy het gesê pres. Jacob Zuma en die ANC moet kennis neem dat kiesers se geduld op ʼn sekere punt wel opraak as hulle die slagoffers is wat in armoede moet leef weens die “korrupsie” en “magsmisbruik” van hul regering.

“Die vreedsame revolusie van Zimbabwe kan maklik oorspoel na Suid-Afrika. Die VF Plus hoop die demokrasie sal nou seëvier in Zimbabwe en dat Mugabe se opvolger nie ook sy of haar mag sal misbruik om Zimbabwiërs verder te onderdruk nie.”

Groenewald het gesê die party hoop dat die nuwe regering daar gunstige omstandighede sal skep sodat Zimbabwe ekonomies opgebou sal word en dat sy mense in Suid-Afrika sal terugkeer na hul land en dit sal opbou tot ekonomiese voordeel van die hele streek.

Die EFF het Dinsdag ná Mugabe se bedanking ʼn beroep op Zimbabwiërs gedoen om nie die land se grondonteieningsprogram ongedaan te maak en die grond aan “die wit setlaargemeenskappe” terug te gee nie.

Die EFF het in ʼn verklaring Mugabe se bedanking verwelkom en gesê die party loof hom dat hy Zanu-PF se besluit om hom te skors respekteer. Mbuyiseni Quintin Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het gesê dié besluit van Mugabe moet egter nie ʼn verandering aan die land se omstrede grondonteieningsprogram teweegbring nie. “Dit is die een nalatenskap [van Mugabe] wat ten alle koste bevorder en beskerm moet word,” het Ndlozi gesê.

“Ons sê dit omdat ons weet dat sommige die bedanking van pres. Mugabe vier in die hoop dat hierdie belangrike revolusionêre aanwins ondermyn sal word. Dit is die verpligting van alle pan-Afrikaniste om die voordele van dekolonialisering in Zimbabwe te beskerm.”

Ndlozi het gesê die grond in Zimbabwe moet nou gebruik word om die Zimbabwiese mense te bevoordeel en die ekonomie van die land te herstel as die broodmandjie van Afrika.

Die DA het Mugabe se bedanking beskryf as ʼn “oorwinning vir die mense van Zimbabwe wat die afgelope jare erg onder Mugabe se bewind gely het”.

“Mugabe wat eens ʼn bevryder was, het verdeeldheid, onstabiliteit en ekonomiese verwoesting in Zimbabwe begin saai namate hy die betreurenswaardige oorgang van bevryder na diktator gemaak het,” het Mmusi Maimane, leier van die DA, in ʼn verklaring gesê.

Maimane het gesê Mugabe se bedanking is die eerste stap na ʼn nuwe begin vir Zimbabwe, maar dit is nie ʼn towerspel wat die land sommer net so sal regruk nie. “Mugabe mag dalk weg wees, maar die regerende Zanu-PF bly agter. Soos die geval is met bevrydingsbewegings oor die kontinent, het Zanu-PF niks meer geword nie as ʼn beskermingsnetwerk wat gewikkel is in ʼn stryd oor toegang tot mag en staatshulpbronne vir dié wat politieke bande het.

“Dit is ook duidelik uit die gespanne situasie die afgelope paar dae dat Mugabe nie vrywillig van sy mag afstand gedoen het nie, maar gedwing is.” Maimane het gesê Zanu-PF is medepligtig aan elke besluit van die Mugabe-regime en kan nie vertrou word om ʼn nuwe begin vir Zimbabwe te bewerkstellig nie.

Volgens Maimane is die enigste pad vorentoe vir Zimbabwe om onmiddellik ʼn vry en regverdige verkiesing te hou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

honourable member ·

Ek hoop met my hele hart dat hierdie pragtige land weer sal wees soos dit was voor hierdie mal mens dit vernietig het. Hierdie arme mense is honger vir werk en n goeie lewe.

maria ·

Ja Joe jys reg. Hulle sal moet blankes inbring wat kan boer anders gaan hulle nie regkom nie

V ·

Ai Malema… As Mugabe met sy pragtige “reformasie” die landbou in 17 jaar nie kon maak staan nie… Hoe dink jy gaan die nuwe bestel dit vermag? In elk geval die oud (wit) Zimbabwieërs wat ek mee te doen gehad het wil nooit weer treug gaan nie. Wat nou gemaak? Hierdie nonsens is deel van julle eie aspirasies om magsvergrype. Julle herhaal ‘n leun gedurig sodat die later begin klink soos die waarheid. Julle bou ‘n organisasie van haat, gebou op rasse diskriminasie, In plaas daarvan dat julle die ANC vergewe vir wat hulle aan julle gedoen het, en in vrede met almal lewe, versondig julle, julle eie siele.

Dries ·

Beter kon ek dit nie gestel het, stem 100% saam wat jy hier sê.

Boerin ·

Hierdie ‘pragtige’ land soos julle beskryf sal GEEN vooruitgang toon voordat hulle nie hulle rassistiese policies jeens matabeles en witmense laat staan nie. Alle lande het verskillende bevolkingsgoepe en solank jy een of twee etniese groepe onderdruk en hulle van grond/werk weerhou, sal dit NIE WERK NIE. GLo my die ZANU PF haat steeds die blankes en die arme Matabeles moet in hulle voetspore trap of hulle word weer uitgewis .. so NEE tensy daar ‘n regverdige verkiesing is en dit word nie weer gerRIGG soos die vorige een nie, kan net die MDC Zimbabwe na ‘n nuwe land van melk en heuning lei, al neem dit hoe lank .. ongelukkig is die haat vir die blanke te diep gesetel in die Zanu PF geledere, onthou die adjunk was tot ‘n maand gelede nog een van Mugabe se grootste ondersteuners .. tensy die land oopgegooi word vir ALLE bevolkingsgroepe gaan daar GEEN vooruitgang wees nie.

tokkie ·

Hulle was so vreedsaam – maar kyk hoeveel Zimbabwers het ons boere al vermoor – dubbele standaarde

Rupert Ashford ·

Aha, ek was bang ek is die enigste een wat so on-PC is om hieraan te dink.

Vies vir hulle ·

Kyk hoe vreedsaam het dit daar gegaan maar hoeveel Zimbabwers het ons boere al hier vermoor. Dubbele standarde

Dubbelsinnigheid ·

Ek lees vandag dat grond nie na wit setlaars terug gegee sal word nie, ek lees dat wat Robert M gedoen het om grond weg te vat (en ek praat nie van hoe dit gedoen is nie) reg is en die besluit onverander bly, maar kan SY mense dan boer? Al die boere wat vermoor is daar sien ek nie dat n boerdery daar goed doen selfs bestaan na die plaase oorgevat is nie. Ek sien ook nie n boer wat in Zimbabwe moontlik was en oorleef het OOIT sou wou terug keer inelkgeval nie.

Dubbelsinnigheid ·

Ek lees vandag dat grond nie na wit setlaars terug gegee sal word nie, ek lees dat wat Robert M regte ding gedoen het om grond weg te vat, (en ek praat nie van hoe dit gedoen is nie) reg is en die besluit onverander bly dis die een ding wat nie sal verander nie, My vraag is; “kan SY mense dan boer” Grond is terug gevat en oor gevat, ek sien en hoor nie van suksesvolle boerdery onder sy reels en SY mense nie… Na al die staan almal by hulle besluite, dit gaan nie oor groei nie, gaan oor blanke boere sal nie grond kry daar nie… hoe is groei moontlik dan? Ek sien ook nie n boer wat in Zimbabwe moontlik was en oorleef het OOIT sou wou terug keer inelkgeval nie… As jy selfde goed doen, selfde besluite neem sal jou resultaat dieselfde wees, niks sal verander nie.

Gaan dan ·

Eff, julle wil so graag land he en als is vir julle so mooi en reg in Zim. Nou trek! Gaan bly julle daar dan het julle land min wit mense …..dis mos wat julle doel is. Nou trek, wie stop julle. Ons sal julle help pak.

Leahim ·

Dit sal goed wees maar chub sekuriteit sal dit moet lei want die polisie en weermag gaan eers uitvind iets het gebeur as hulle salarisse nie in die bank inbetaal word nie.

Alida ·

10/10 vir Zim. Daar was geen bande brandery en/of plundery van winkels nie. Hoewel die winkels het niks om te plunder nie. Hier in SA sal dit nie so beskaafd en ordelik gedoen word nie glo my. Hier in SA sal brande/bloed en plundery hoogty vier.

pieter ·

REVOLIESIE KAN OORSPOEL,ONS IS LANKAL REEDS VERBY OORSPOEL.

jaco ·

geen brande en saakbeskadiging tydens betogings in Zimbabwe nie, want die polisie daar vat eenvoudig GEEN nonsens nie. Hulle is wakker en almal weet dit. Hulle is nou wel deur Mugabe gebruik om ook politieke opponente stil te maak, maar die goeie wet en orde in Zimbabwe is darem ook aan Mugabe te danke. een van sy weinig goeie nalatenskappe. Mense uit Zimbabwe wat vir my gewerk het, het dit almal beam: dis BAIE veiliger daar as in SA en daars BAIE minder misdaad.

Antjie ·

Mnangagwa het reeds ʼn demokratiese verkiesing belowe. Hy het ook gevra die blanke boere moet terugkeer (nie na hul ou plase nie). Almal kon op TV en die Internet sien wat die mense op straat daarvan dink. SA gaan die Zim arbeiders mis. Ons ekonomie wat reeds swaarkry, gaan nóg swaarder kry. Maar, ek hoop die voorbeeld kom mettertyd vanuit Zim en inspireer die EFF en Maimane onderdane tot vredeliewende, dankbare medemenslikheid. Ons is almal dik vir al die agitasie en negatiwiteit! Kom ons bou saam aan God se Koninkryk!

Dirk ·

Wil net graag hoor hoe gaan dit met grondboere in Botswana waar daar wet en orde gehandhaaf word
Vra maar net.

Frederick ·

‘n Paar punte om van notisie te neem: 1) Mugabe is nie deur die burgerlike samelewing se oproepe omvêr gewerp nie, maar deur die weermag. 2) Die weermag in Suid-Afrika relatief tot die in Zimbabwe is magteloos met betrekking tot die uitvoerende gesag. 3) Alhoewel die verwydering van Mugabe uitkoms bied is dit geensins ‘n gegewe nie, en moet ons om die rede nie hoop op iets soortsgelyk in Suid-Afrika nie. 4) Verstaan dat ons ‘n verteenwoordigende demokratiese republiek is, waarvan die samestelling nes in enige volwaardige demokrasie die regte van minderhede bedreig. 5) Ons moet ons dus beywer vir die behoud en bevordering van (minderheidsregte) die regstelsel.
Onlangse geskiedenis het dit weereens bewys ons heil word gevind in ‘n onafhanklike regstelsel. Nie in verkose of aangestelde amptenare nie. Die mens met die beste intensies, is steeds mens en dus veilbaar. Die man Mugabe is weg. Die stelsel waarin Mugabe floreer het staan egter steeds sterk, indien nie sterker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.