Zimbabwe verwerp bewerings van menseregteskendings

Foto: @dougcoltart/Twitter

Die Zimbabwiese regering het Donderdag “valse bewerings” van menseregteskendings en ʼn krisis in die land verwerp terwyl ʼn #ZimbabweanLivesMatter-veldtog momentum kry op sosialemedianetwerke, insluitend Twitter.

Nick Mangwana, permanente sekretaris in die inligtingsministerie, het gesê die bewerings word versprei deur bekende politieke aktiviste, individue wat oor verkeerde inligting beskik en internasionale akteurs.

“Daar is geen krisis of inploffing in Zimbabwe nie. Burgers is ook nie ontvoer nie en daar is ook nie ʼn oorlog op inwoners nie. Net soos in enige ander land in die wêreld pas Zimbabwe Covid-19-afsonderingsmaatreëls toe wat ten doel het om die lewens van alle burgers te beskerm. Waar nodig, is wette regverdig toegepas,” het Mangwana gesê.

“Die doelbewuste poging om die beeld van die land skade te berokken word uitgevoer deur die gebruik van gedokterde foto’s, ou video’s en aangedikte bewerings op sosiale media – wat alles ten doel het om ʼn prentjie te skets van ʼn Zimbabwe wat aan die brand is. Niks kan verder van die waarheid wees nie.”

Mangwana het gesê Zimbabwe is “vreedsaam en alle burgers is vry” om binne Covid-19-riglyne aan te gaan met hul lewens.

Internasionale persoonlikhede en politieke aktiviste in Suid-Afrika het by die #ZimbabweanLivesMatter-veldtog op Twitter aangesluit en die regering in Harare word gemaan om ʼn einde te bring aan onderdrukking onder die Mnangagwa-geleide regering. Daar word al hoe meer druk geplaas op die Suid-Afrikaanse regering om in te gryp in wat aktiviste ʼn “krimpende demokratiese ruimte” noem.

Die burgerregtegroep #NotInMyName in Suid-Afrika het vandeesweek aangekondig dat hy Vrydag ʼn betoging by die Zimbabwiese ambassade in Pretoria sal hou oor die “verdwyning van demokratiese ruimte” in Zimbabwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Hehe julle is net soos julle ANC broers dit is nou eending wat julle komuniste goed kan doen en dit is om als te ontken.

marius ·

Stuur die hele rooipak brigade soontoe . Hulle gaan nie regop sit as hulle terugkeer nie.

netekalleen ·

En ons regering kan soveel beter as.hulle sin doen haha hahahaha. Volgende grap asb

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.