Zimbabwiër jare later vas vir plaasmoord, verkragting

Die polisie het Ndlovu Donderdagaand in Johannesburg vasgetrek (Foto: Ian Cameron via Twitter)

Die man wat verdink word van die moord op Christine Robinson (59) in Julie 2014 by ʼn oord buite Thabazimbi in Limpopo, is Donderdagaand in Johannesburg vasgetrek.

Maroela Media het vroeër berig Robinson is op 19 Julie 2014 verskeie kere met ʼn mes in haar huis by die Rra‑Ditau Bush Lodge gesteek en toe glo verkrag en beroof. Die verdagte, Andrew Ndlovu (30), ook bekend as Andrew Druza, het daarna op die vlug geslaan. Hy is van Zimbabwe afkomstig.

Hy was ten tyde van die voorval ʼn werknemer by die lodge en het toe al glo langer as 10 jaar vir Robinson gewerk.

Die slagoffer Christine Robinson (59) (Foto: Ian Cameron via Facebook)

Ian Cameron, onafhanklike misdaadkenner, was by toe die polisie Ndlovu vasgetrek het. Hy het destyds, as deel van AfriForum se veiligheidsafdeling, inligting ontvang oor die moord. Hy vertel hy het Donderdagoggend op die sesde herdenking van Robinson se moord, ’n inskrywing met foto’s van Ndlovu op sy Facebook-blad gedeel. “Die inskrywing het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Teen die middag het dit al 135 000 mense op Facebook bereik.”

Cameron sê die middag het hy deur die kommentare op die inskrywing gegaan en op een afgekom van ’n vrou wat sê sy herken Ndlovu en weet waar hy is. “Ek het haar gebel en sy het gesê Ndlovu werk al die afgelope vier jaar vir haar pa in Johannesburg. Ek het foto’s van Ndlovu vir haar pa aangestuur en hy het bevestig dat Ndlovu een van sy werknemers is.”

Ná Ndlovu se woonadres bekend gemaak is, het Cameron die polisie gekontak waarna hulle Ndlovu om 21:00 by sy woning in Crosby in Johannesburg vasgetrek het.

“Ndlovu het ongemaklik rustig voorgekom. Hy het net voor hom uitgestaar,” vertel Cameron.

Cameron sê Ndlovu het glo vir sy werkgewer gesê dat iemand hom wil indoen (frame) en dat hy nie die moord gepleeg het nie.

Ndlovu is tans in aanhouding in Gauteng en word Vrydag na ’n gevangenis in Limpopo geskuif.

Maroela Media het navraag aan kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gerig. Hy sê hy het van Ndlovu se inhegtenisneming gehoor, maar sal dit amptelik met die betrokke polisiestasie bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ElizeK ·

Kan jy glo!!! Ja, ek kan!!! Een man, net een man van Afriforum doen polisieMAG se werk en keer n moordenaar, verkragter aan. Welgedaan Ian.

Plaaskind ·

Vir hoe lank in aanhouding voordat hy weer vry gelaat word…..

Cherokee ·

Probeer om nie altyd negatief te reageer om berigte soos die een. Spreek liewer waardering uit vir iemand soos Ian Cameron.

Melanie ·

Ian Cameron, jou doring!! SA kort meer manne soos jy!! die wat nie opgee nie. Christine, mag jy verder in vrede rus.

Wondermaarnet ·

Weer eens was die persoon wat net goed doen en dit ‘n werk gee, vermoor. Mens kan hulle net nie vertrou nie.

Niklaas ·

Dis puik werk deur Mnr Cameron. SAP het sekerlik nie te hard gewerk aan hierdie saak nie. Ek gebruik nie FB nie, maar hier is die een bewys dat dit nuttig kan wees. Mense moet versigtig wees met aanstel van goedkoper werkers uit Zimbabwe, Malawi en Mosambiek. Ernstige misdade deur hulle gepleeg raak baie algemeen deesdae.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.