Zimbabwiërs in SA se permitte verleng

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse regering het besluit om die geldigheid van Zimbabwiese vrystellingspermitte (ZEP) met nóg ses maande te verleng.

Zimbabwiese burgers wat in Suid-Afrika woon en werk het nou tot 30 Junie 2023 geleentheid om vir visums en of vrystelling aansoek te doen.

“Minister Aaron Motsoaledi is daartoe verbind om geaffekteerde Zimbabwiese burgers nog ʼn geleentheid te bied om aansoek te doen vir visums en/of vrystelling waarvoor daar in die Immigrasiewet voorsiening gemaak word,” sê die departement van binnelandse sake in ’n verklaring.

Zimbabwiese vrystellingspermitte sou aanvanklik op 31 Desember vanjaar verval, wat sou beteken dat soveel as 180 000 Zimbabwiese burgers teen die nuwe jaar gedeporteer sou word.

Die departement sê nou min Zimbabwiese burgers het tot dusver aansoek gedoen om visums en/of vrystelling. Burgers wat nog nie hul aansoeke ingedien het nie, word nou versoek om van die geleentheid gebruik te maak en dit so spoedig moontlik te doen.

Duisende Zimbabwiese werkers regoor Suid-Afrika werk veral in die gasvryheidsbedryf, kleinhandel- of dienstesektor. Die land het egter oor die afgelope paar jaar begin om sy visumregulasies te verskerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.