Zinde-verhoor reg vir hooggeregshof, ondanks ‘skisofrenie’

Mark Warona Zinde Woensdag in die hof. Foto: ANA

Mark Warona Zinde Woensdag in die hof. Foto: ANA

Mark Warona Zinde (23), wat verdink word van die moord op sy ma, Hope Zinde (50), se verhoor gaan eersdaags na die hooggeregshof verwys word, ondanks nuwe beweringe dat hy skisofrenie het.

Zinde het Woensdag weer in die Brits-streekhof verskyn waar sy regsverteenwoordiger, adv. Francois Joubert, aansoek gedoen het dat Zinde weer na die Weskoppies- psigiatriese hospitaal verwys word.

Joubert het die uitslag betwis van die oorspronklike ondersoek wat by Weskoppies gedoen is oor sy geestestoestand. Volgens die ondersoek is Zinde geskik om verhoor te word.

Volgens Joubert het die verdediging hul eie psigiater, dr. John Weinkove, aangestel en hy het bevind Zinde ly aan skisofrenie. Die psigiater het ook voorgestel dat ʼn breinskandering gedoen word. Joubert het versoek dat Zinde weer in Weskoppies opgeneem word en vir ʼn breinskandering verwys word.

Staatsaanklaer Hanna Conradie het die aansoek teengestaan. Hy het gesê dit is nie in belang van geregtigheid om hom terug te verwys nie, aangesien ʼn waarneming reeds gedoen is.

“Vier dokters het hom reeds geëvalueer en hul bevindings gemaak,” het hy aan die hof gesê.

Landdros Lourens Matthee het die aansoek van die hand gewys en gesê Weinkove se verslag oorreed nie die hof nie.

Die saak is tot 21 Februarie uitgestel wanneer ʼn hooggeregshofdatum vasgestel gaan word.

Zinde word daarvan beskuldig dat hy sy ma verlede jaar by hul huis in die Pecanwood-landgoed by Hartbeespoortdam in Noordwes vermoor het. Hope se liggaam is op 11 Junie in die kattebak van haar motor gevind. Sy is vermoedelik reeds dae tevore vermoor. Sy was ʼn voormalige raadslid van die SAUK en sedert 1991 ʼn joernalis by die openbare uitsaaier.

Zinde is vroeër op borgtog van R10 000 vrygelaat. Sy borgtog is egter teruggetrek nadat hy in November weer in hegtenis geneem is nadat hy glo sy pa, dr. Lebohang Mohale Manoto, aangeval het.

Hy het sy pa na bewering op 6 November met ʼn glas in die gesig geslaan terwyl Manoto ʼn koerant by sy huis in Walkerville, suid van Johannesburg, gelees het. Hy het kort daarna in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding. Die moord- en aanrandingsaak is saamgevoeg.

Lees die vorige berigte oor die Pecanwood-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rita ·

Ek kry tronkbewaarders al hoe jammerder. Om booswigte te moet oppas vir ‘n lewe moet jy elke dag vir jou eie lewe vrees. Geweldenars los nie hulle streke as hulle opgesluit is nie. Inteendeel.

Hy moet maar sy pak vat ·

Lui advokaat of slim advokaat. Lui om op eerlike manier te probeer wys hy is onskuldig of slim, as hy mos nou skisofrenies is, kan hy mos loskom. Sorry advokaat en riller (ja as jy jou eie Ma doodmaak en jou eie Pa aanrand, is daar niemand op aarde veilig vir wie jy sal respekteer nie), jy moet maar jou pak vat en advokaat vat ten minste iemand wat nie so boos is nie, hoe hardop vir geld is jy?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.