Zoeloe-koning kondig vennootskap met AfriForum aan

Zoeloe-koning Goodwill Zwelithini (Foto: ANA)

“Dit is belangrik dat daar ook alternatiewe denke bestaan oor sake soos grondonteiening sonder vergoeding en die mense wat anders dink as die regering moet ook begin koalisies vorm.”

Dit is Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, se reaksie op koning Goodwill Zwelithini se aankondiging dat hy in ʼn vennootskap met die burgerregte-organisasie gaan saamwerk in sake soos landbou en voedselsekerheid.

Die koning het die aankondiging tydens Umkhosi Welembe, ʼn jaarlikse herdenking van Zoeloe-koning Shaka ka Senzangakhona, by die Moses Mabhida-stadium in Durban gemaak.

Hy het erken dat albei partye sterk teen onteiening van grond sonder vergoeding (OSV) gekant is en dat sy verhouding met AfriForum juis daaroor gaan om landbou en voedselsekerheid vir alle Suid-Afrikaners te verseker.

Kriel het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat die organisasie reeds twee keer met die koning in Nongoma in KwaZulu-Natal vergader het oor moontlike samewerking teen die agtergrond van die debat oor OSV.

“Dit is vir ons baie duidelik dat die regering op die oomblik ’n strategie volg waarin hulle mense vir die saak van OSV wil koöpteer en die mense wat hulle nie kan koöpteer nie, wil hulle probeer isoleer.

“AfriForum gaan egter nie toelaat dat ons geïsoleer word nie, ons sal bondgenootskappe skep met mense oor ’n wye front wat ook nie saamstem met OSV nie.

“Benewens dit is dit ook vir ons belangrik om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder.”

Kriel het gesê hy weet dat baie mense wat aan die Zoeloes en die Afrikaners se geskiedenis dink gewoonlik die moord op Piet Retief ophaal.

“Daar is egter ook tientalle ander voorbeelde van waar Voortrekkerleiers destyds ook saam met die Zoeloe-konings in gemeenskaplike belang goed saamgewerk het.

“Dit is vir ons belangrik om samewerkingsvennote oor ʼn wye front te kry en so ’n breë koalisie te vorm teen OSV.”

Regter Jerome Ngwenya, Kallie Kriel, koning Goodwill Zwelithini en Flip Buys tydens ‘n vroeër ontmoeting. Foto: Verskaf.

Kriel het gesê AfriForum het ook ’n loodsprojek met van hul lede wat in die omliggende omgewing van die Ingonyama Trust boer van stapel gestuur waar hulle wil kyk hoe hulle ’n rol kan speel om grond in die omgewing produktief te kry en voedselsekerheid kan verseker.

Indien die loodsprojek suksesvol is, sal dit as ’n bloudruk kan dien vir soortgelyke projekte in ander gebiede.

“Op die oomblik word daar in die openbare debat gesê jy moet óf inval by die heersende orde se ideologiese denkraamwerk óf anders is jy kwansuis teen goeie verhoudinge onder Suid-Afrikaners.

“AfriForum is nie teen samewerkende verhoudings nie, ons kan net nie met iets saamwerk wat verkeerd is soos in die geval OSV nie.”

Kriel het bygevoeg die samewerkingsooreenkoms met die Zoeloe-koning is nou in sy beginfase met ʼn memorandum van verstandhouding wat nou opgestel word en die loodsprojek wat van stapel gestuur sal word.

Kriel sê die kritici van AfriForum se samewerking met die Zoeloe-koning is dikwels selektief met hulle kritiek. “Mense is vinnig om te sê ons moet versigtig wees om met die Zoeloe-koning saam te werk, maar hulle huiwer om die regering te kritiseer vir hulle planne met OSV.”

Koning Zwelithini het Sondag gesê die Zoeloe-nasie kan nie sonder kos bestaan nie. Hy het gesê hy is bereid om met AfriForum saam te werk aangesien die organisasie hulself aan hom voorgestel het en saam met die Zoeloe-mense wil werk om landbou-produktiwiteit te verhoog.

Die koning het gesê hy wag nog op ʼn opvolgvergadering met pres. Cyril Ramaphosa om hul bespreking oor grond onder die beheer van die Ingonyama Trust te finaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Adam ·

Inderdaad Liz. Ek sou graag wou hoor hoe Piet Retief oor die alliansie sou voel.

marco polo ·

Groot fout. Dit is juis die grond in voormalige tuislande wat aan mense wat daarop bly, oorgedra moet word. Die koning het geen bestaansreg in n moderne staat nie en is net n las op die belastingbetaler. Die grond behoort nie aan hom nie.

Koos ·

Grond moet aan niemand “oorgedra” word nie. Hulle moet dit koop

Cherokee ·

Toegegee met wat jy sê rakende ‘n moderne staat maar jy blyk te vergeet dat hierdie deel van Afrika is en geen moderne staat nie.

J van Rustenburg ·

Nou hoe regverdig jy dit Aan die eenkant ‘n organisasie wat ledegeld vra geregtigheid soek en aan die anderkant ‘n man wat die soustrein ry en geen morele waardes het nie Wat pla voedselsekerheid hom nou Hy is ‘n koning en leef soss ‘n koning Noudie dag nog saam met Zuma ge paartie toe Cyrel en nou Kallie

Snowball ·

Afriforum kan nie soos ‘n enkel wit paaltjie alleen staan teen OSV nie; hoe meer saamstaan om die EFF en ANC se uiteindelike kommunistiese doelwitte met grond teen te staan, hoe beter kan die uitkomste vir almal wees. As VF, COPE en DA nou ook alliansies kan vorm om OSV stop te sit, kan die ANC en sy hofnar Malema dalk op hulle neuse kyk.

Jerry ·

Kom ons gee die loodsprojek kans. Julle hoef julself nie te veel te kwel nie omrede hierdie versoenende optrede ten goede gaan uitwerk! Daar is nie veel ander opsies oor nie behalwe om later wyer uit te kring as net in SA. Ek is redelik in my skik met hierdie verwikkelinge!

Eish ·

Kom ons kyk wat gebeur…
Dis n redelik radikale inisiatief vir Afriforum.
Dit sal darem wonderlik wees indien die inisiatief en die van Agri SA soveel werk skep dat werkloosheid bloedneus geslaan word!
Die potensiaal is verseker daar, dit hang nou af van die jokkie wat die perd ry.

Celtis Africana ·

Ek hoop nie Afriforum byt nou groter af as wat hy kan kou nie.
Dit is n baie duur ekskursie om in landbou betrokke te raak.
Mentorskap dra nie veel gewig in afwesigheid van die middele benodig nie.
Voel tog vir my of hul nou die verkeerde perd opsaal. Dieselfde oogmerk as Agri SA, maar op trustgrond.
Motlanthe hou steeds voet by stuk dat Trustgrond deel van die herverdeling moet uitmaak.

Pegasus ·

Ek dink nie hierdie is noodwendig ‘n negatiewe skuif nie. Wat is die ergste wat kan gebeur? Dalk dat Afriforum verraai kan word? Dit sal nie die eerste keer wees dat so iets gebeur nie, so hou maar die agterdeur oop…….

Hans ·

Ek ondersteun gewoonlik Afriforum se projekte,maar die samewerkingsooreekoms ens nie.

Cherokee ·

Mens sê nie net jy ondersteun ‘n spesifieke ooreenkom nie. As jy gehoor wil word dan sê jy waarom jy dit nie ondersteun nie, met oorwegende redes.

Hendrik ·

Laat ek begin deur te sê dat Afriforum baie goeie werk doen en ek hulle byna altyd ondersteun. Die Zoeloe koning is egter die beste voorbeeld van onteiening. Trouens, sy volgeling in sy koninkryk mag geen grond self besit nie – hy is die voog vir alles. Hulle moet grond van hom huur en kan nooit die grons as sekuriteit aanbied nie. Dit is sterk in stryd met die soort eiendomsreg wat Afriforum voorstaan. Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou … Afriforum moet eerder daarvoor staan dat swartmense in tuisland hulle eie titelaktes vir die gron grond kry wat hulle toekom,

Conrad ·

Leon Schuster grap dié? Van die begin af vermoed dis baie amusant. Kan mens voorstel hoe die gesprek verloop het! Hoop daar is ‘n video gemaak hiervan.

humor ·

Gaan terug op die geskiedenis en neem kennis van dr Verwoerd se laaste doelwitte dan sal u vind dat hy ook ten doe gehad het vir n nouere samewewrking met ander bevolkingsgroepe.

Lerato ·

Die wyse Salomo het verklaar daar is goed wat hy nie verstaan nie.

Afriforum wat op eiendomsreg staan en reg so, vorm ‘n vennootskap met ‘n koning wat sy mense as vreemdelinge op hulle grond hou. Hierdie mense is feitlik slawe daar hulle nie eiendomsreg kan kry nie.

Phil Molefe het breedvoerig navorsing gedoen oor neofeodalime in KZN.

Hierdie mense mag hulle grond “koop” teen ‘n prys so hoog dat hulle nie eers die rente kan bekostig nie

Gatvol ·

Saamstaan??
History repeats its self…
Onthou wat het gebeur met Piet Retief na sy ontmoeting met die zoeloe koning?
Just saying…?

Gerhard ·

Ek kan nie minder omgee dat AfriForum met die Zoeloe Koning saamwerk nie, maar dit gaan niks aan grondhervorming verander nie.

hendrik ·

Kyk mooi na die hele prentjie en jy sal sien dat nog een van Siener van Rensburg se gesigte bewaarheid word.

lerato ·

Vir die Zulu koning betaal ons, ek en jy belasting betalers meer as R50miljoen per jaaar om seremoniële funksies te verrig.

Sy sowat 5 vrouens kry elk jaarliks ‘n splinterniwe Duitse motor. En raai wie betaal?

Sy majesteit se onderdane, werk elk op ‘n lappie grond en produsseer net genoeg om royalties aan die chiefs en koning te betaal en net maar genoeg siel en liggaam aan mekaar te hou.

Hierdie is onderdrukking en uitbyting van swart mense deur swart mense.

Hierdie Zulu trust het nou ‘n staat binne ‘nn staat geword wat aan die sentrale regering probeer voorskryf.

Sou hierdie fasale boere toegelaat word om elk sy eie stukkie grond te besit, kan hulle lenings aangaan om uit te brei, en om ‘n werklike bydrae te maak tot die BBP en voedsel sekerheid.

Cherokee ·

As die ooreenkoms met Zwelethini tot voordeel gaan wees vir AfriForum in hul geveg teen die ANC rakende onteiening, dan rus my seënwense daarop.

lerato ·

Cherokee

Hoe sal hierdie ooreenkoms tot voordeel van AfriForum wees?
Nog ‘n vraag
Hoe sal die ooreenkoms tot voordeel van die land wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.