Zoeloekoning ontken bewerings oor vergiftiging

Zoeloekoning Misuzulu kaZwelithini. (Foto: RAJESH JANTILAL/AFP)

Suid-Afrika se Zoeloekoning het die bewerings dat hy vergiftig is, ontken, en sê hy is inteendeel “sterk en gesond”.

“Ek doen baie goed, ek is baie sterk en gesond,” het koning Misuzulu kaZwelithini aan AFP gesê in ʼn telefoniese onderhoud uit Eswatini (voorheen Swaziland). Hy is tans in die buurland vir ʼn mediese ondersoek.

Prins Africa Zulu, woordvoerder van die Zoeloe-koningshuis, het Maandag die skielike dood van die koning se raadgewer, Douglas Xaba, aangekondig.

Die invloedryke Zoeloe-premier, prins Mangosuthu Buthelezi, het terselfdertyd gesê die koning is in Eswatini in die hospitaal nadat hy siek geword het. Hy het bygevoeg dat die vermoede bestaan dat die koning dalk vergiftig is.

Zulu het egter aan AFP gesê die koning het bloot as voorsorgmaatreël behandeling ontvang en dat dit gedoen is binne “die konteks van Covid-19 en ná die skielike dood van sy nabye raadgewer”.

In antwoord op ʼn vraag oor of die koning onlangs hospitaalbehandeling ontvang het, was die antwoord eenvoudig dat hy “nooit” in die hospitaal was nie.

“Dit was ʼn roetine-ondersoek wat ek elke drie maande doen, soms elke ses maande,” het hy in ʼn kort onderhoud met AFP gesê.

Volgens Zulu het die koning Maandag gewerk en selfs met ʼn Chinese afvaardiging vergader.

Die woordvoerder het later ʼn video gedeel waarin die koning sê hy is “hoegenaamd nie vergiftig nie”.

Daar is ook geen bevestiging dat sy raadgewer vergiftig is nie.

Misuzulu het gesê hy moes van die huis wegbreek om die verlies van sy “regterhand” te probeer verwerk. Hy het daarom besluit om na Eswatini te reis waar sy oom, koning Mswati III, regeer. Die tydsberekening hiervan strook ook met sy gereelde gesondheidsondersoeke.

“Dit is nie omdat ek vergiftig is nie. Ek is gesond, ek voel 100% … alles funksioneer goed, daar is niks fout met my nie,” het hy in die video gesê.

Hy het ook onderneem om ondersoek in te stel na die berigte oor sy gesondheid.

Buthelezi het beweer dat die huidige koning behandeling in Eswatini verkies omdat “sy ouers albei behandeling in Suid-Afrika ontvang en daarna gesterf het”.

Nóg ʼn raadgewer van die Zoeloekoning is verlede September onder verdagte omstandighede op die kantlyn van ʼn tradisionele seremonie doodgeskiet.

Misuzulu het verlede jaar die troon bestyg ná die dood van sy pa, wyle koning Goodwill Zwelithini, te midde van ʼn bitter vete oor die koninklike opvolgstryd.

Misuzulu is die eerste seun van Zwelithini se derde vrou, wat hy in sy testament as regent aangewys het.

Zwelithini het gesterf ná meer as 50 jaar op die troon en ses vroue en minstens 28 kinders agtergelaat.

Die koningin is skielik ʼn maand ná Zwelithini dood en het ook ʼn testament nagelaat wat Misuzulu as die volgende koning benoem – nuus wat nie goed by sommige ander familielede ontvang is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amelia ·

Hoekom wil hul nie behandeling in suid afrika ontang nie maar arm mense moet daar is nie belasting geld vir hul om in n ander land behandel te word nie

domheks ·

Kry jaarliks ‘n groot toelaag omdat hy koning is! Nog steeds belasting geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.