Zoeloekoning se dood laat groot politieke magsvakuum

Koning Goodwill Zwelinthini. (Foto: DoC via GCIS)

Die Zoeloevolk is in rou gedompel ná die afsterwe van Zoeloekoning Goodwill Zwelithini, Vrydagoggend in die ouderdom van 72 jaar.

Die onmiddellike oorsaak van sy dood is nie dadelik bekend gemaak nie, maar hy was geruime tyd siek en is die afgelope paar weke in die hospitaal behandel.

Sy dood beteken dat ‘n opvolger nou moet oorneem. In die verlede het dit al in die Zoeloe-monargie morsig daaraan toe gegaan wanneer troonopvolging ter sprake was, en aanvanklike navrae Vrydag deur Maroela Media het getoon dat dit nogmaals ‘n waarskynlikheid kan wees.

Met koning Goodwill se afsterwe is die tafel gedek vir ‘n groot politieke herskikking in veral KwaZulu-Natal, want die koning se weliswaar soms stormagtige alliansie met die IVP-leiersfiguur, prins Mangosuthu Buthelezi – wat sedert 1971 strek – kom daarmee natuurlikerwys tot ‘n einde, en daar sal massiewe belangstelling wees in watter politieke voorkeure die nuwe koning sal openbaar.

Boonop is Buthelezi, wat in Augustus 93 jaar oud word en die koning se dood Vrydag aangekondig het, nie meer amptelik die leier van die IVP nie, wat die hek wyd ooplaat vir politieke herskikking.

Die posisie van die Zoeloekoning is bloot nie net magtig as simboliese hoof van die Zoeloevolk nie. As enigste trustee van die Ingonyama-trust word hy wyd beskou as de facto die grootste grondeienaar in Suid-Afrika (Zoeloe-tradisionaliste ontken dit, want amptelik hou hy die grond bloot in trust vir die volk, maar dis onontkenbaar dat allerlei heffings deur grondgebruikers betaalbaar is wat dan aan die trust – wie se geldsake duister en verdag is – oorbetaal word).

Koning Goodwill was dan ook die magtigste teenstander van onteiening sonder vergoeding, en die posisie van sy opvolger oor hierdie Suid-Afrikaanse sleutelkwessie sal fyn dopgehou word.

Koning Goodwill is op 14 Julie 1948 in Nongoma, KwaZulu-Natal, gebore as oudste seun van koning Cyprian en sy tweede vrou, koningin Thomo. Toe koning Cyprian in 1968 oorlede is, is ‘n regent aangestel as waarnemende koning terwyl die destydse prins Goodwill sy opleiding voltooi het. Op 3 Desember 1971 is hy gekroon as agtste koning van die Zoeloes.

In daardie dae was die rol van die Zoeloekoning apolities, maar koning Goodwill was nogal ‘n politieke woelwater, en dit het tot ernstige botsings met Buthelezi gelei, veral ná die herlewing van die Inkatha yeNkululeko ySizwe-beweging in 1975, met Buthelezi as leier en as hoofminister van die tuisland KwaZulu, wat koning Goodwill se standplaas by Nongoma ingesluit het.

Vele botsings, volop drama en ‘n skynbaar onophoudelike intriges het in die jare wat volg tussen die koning en Buthelezi gevolg, maar hulle het telkens weer politieke vennote geword.

Vanaf 1982 tot in die middel van die 1990’s was die band tussen Buthelezi en die koning baie sterk. Dit was ook die tydperk van die laevlak-burgeroorlog in KwaZulu-Natal tussen ondersteuners van Inkatha (wat die feodale amakhosi-stelsel verdedig het) en die ANC-geaffilieerde United Democratic Front (UDF), wat met hul onderskrywing van die demokrasie ‘n oënskynlik ernstige bedreiging vir die monargie en die stelsel van amakhosi (hoofmanne) ingehou het.

Vanaf 1985 het koning Goodwill ‘n uitgesproke teenstander van die ANC geword. Hy het ook die destydse internasionale sanksieveldtog teen Suid-Afrika veroordeel.

Tot in die middel van die 1990’s het koning Goodwill die ANC verwoed bly teenstaan, maar nadat die ANC aan bewind gekom het, het hy strategies ‘n verhouding met die ANC gehandhaaf wat om die beurt warme en koud was.

Benewens sy uitgesproke posisie teen onteiening sonder vergoeding het hy ook omstredenheid verwerf vir sy uitsprake dat immigrante nie toegelaat moet word om werkgeleenthede te hê wat deur Suid-Afrikaners gevul sou kon word nie.

Die verband tussen sulke uitsprake en lewensverlies tydens anti-xenofobiese geweld is deurgaans deur die koning en sy ondersteuners ontken.

Koning Goodwill het ‘n poligame huwelik met vyf vroue gehad en hulle het, na verstaan word, in totaal vir hom meer as dertig kinders gebaar.

Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie. Hy sal vir ʼn paar dae lank in staatsie lê by die koninklike paleis in Nongoma, in die noorde van KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

My Zoeloe-werker het nie veel respek vir hierdie afgestorwe koning nie. Min goodwill het vanaf hom na sy volk toe gegaan. Die Ingonyama-trust is skatryk, maar alles gaan slegs na die koning toe. Selfs van die krummels kry niemand nie. Daarby is sy ANC alliansie vanaf 1994 maar koud ontvang.

Hennie J ·

Laat ons eerlik wees. n Geldgierige, kammig deur die volk benoemde, heerser sonder enige magte wat gemaak het asof hy “Gods gift to mankind” was, wat staatsgeld onbeheersd verkwis het en wat nie n tiekie vir sy mense omgegee het nie, wat n hekel aan witmense gehad het(maar tog met die vorige regering nou saamgewerk het) Dit het alles oor hom en sy welvaart gegaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.