Zoeloekoning sterf

Koning Goodwill Zwelithini (Foto: 1860 Heritage Centre, Facebook)

Koning Goodwill Zwelithini is Vrydag in die ouderdom van 72 oorlede.

Zwelithini is in die vroeë oggendure in ʼn hospitaal in KwaZulu-Natal dood nadat hy ʼn paar weke gelede weens gesondheidskomplikasies opgeneem is. Volgens verskeie inskrywings op sosiale media kan die gesondheidskomplikasies glo aan sy diabetes toegeskryf word.

“Namens die koninklike familie bedank ons die nasie vir hul gebede en ondersteuning in hierdie moeilike tyd,” sê prins Mangosuthu Buthelezi, voormalige leier van die Inkatha Vryheidsparty (IFP), in ʼn verklaring.

“Mag ons koning in vrede rus.”

Zwelithini het die Zoeloe-nasie die afgelope 53 jaar regeer. Hy het koning geword ná die dood van sy pa, koning Cyprian Bhekuzulu kaSolomon, in 1968. Hy was ook hoof van die Ubukhosi, die staatsbeheerde instelling van tradisionele leierskap wat uit plaaslike hoofmanne bestaan.

Hy is op sy 21ste verjaardag in 1971 as agtste monarg van die Zoeloe-nasie ingehuldig.

Maroela Media het vroeër berig Zwelithini het in 2018, toe die kwessie van grondonteiening kop uitgesteek het, daarteen vasgeskop en gesê die regering moet nie eens daaraan dink om grond van die Zoeloes te vat nie, anders sal ʼn moontlike oorlog hulle in die gesig staar. Hy het ook gereeld in die politieke kollig beland en het ʼn groot rol gespeel met die oorgang na demokrasie in Suid-Afrika.

Zwelithini word oorleef deur sy ses vroue en 28 kinders. Hy is in 2014 met sy sesde vrou, Zola Mafu, getroud. Dit is nog nie seker wie hom gaan opvolg as koning nie.

Een van Zwelithini se seuns, die 50-jarige prins Lethukuthula Zulu, se liggaam is verlede jaar in ʼn woonstel in Randburg aangetref is. ʼn Deurbraak is intussen gemaak toe vyf verdagtes in verband met sy moord vasgetrek is.

Zwelithini se ander seun, prins Buthu, is in September 2018 op die ouderdom van 40 jaar oorlede ná ʼn lang siekte. Butho is die seun van die koning en sy tweede vrou, koningin Buhle kaMathe.

Huldeblyke stroom in

Medelye het op sosiale media vir Zwelithini ingestroom.

“Die dood van sy majesteit, koning Goodwill Zwelithini, is baie hartseer nuus. Ons gebede is met die Zoeloe-nasie en sy gesin. Ek sal hom onthou vir die vriendskap wat hy aan AfriForum gerig het om die goeie betrekkinge wat sy oupagrootjie koning Dinizulu met Afrikaners gehad het, te vernuwe,” skryf Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, op Facebook.

AfriForum en die Solidariteit Beweging het in 2018 met Zwelithini vergader en besluit om oor sake van gemeenskaplike belang saam te werk. Hulle het ooreengekom om ʼn gesamentlike taakspan aan te stel om hierdie samewerking verder te voer.

“MaZulu King Goodwill Zwelithini is oorlede. Hartseer verlies. My simpatie met sy familie en die Zoeloe-nasie. Ek het meer as een positiewe gesprek met hom gehad oor Suid-Afrika en die toekoms,” skryf dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus, op Twitter.

Volgens ʼn verklaring wat deur die presidensie uitgereik is, het pres. Cyril Ramaphosa gesê almal was hoopvol toe Zwelithini tekens van herstel in die hospitaal getoon het.

“’Sy majesteit sal onthou word as ʼn baie geliefde, visioenêre koning wat ʼn belangrike bydrae gelewer het tot kulturele identiteit, nasionale eenheid en ekonomiese ontwikkeling in KwaZulu-Natal en daardeur tot die ontwikkeling van ons land as geheel,” sê Ramaphosa.

Die Vryheidstigting in Orania sê Zwelithini was toenemend ʼn steunpilaar vir sy volk en ʼn baken in die Suid-Afrikaanse kulturele landskap.

“Koning Zwelithini was op ’n manier wat vir die buitestander moeilik is om te begryp, dié beliggaming van die Zoeloe-volk,” skryf Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting.

“Hy het sy mense deur die uitdagende staatkundige oorgang en politieke storms gelei en deurgaans die integriteit van sy amp gestand gedoen. Sy regering was ’n voorbeeld van beide die aanpassingsvraagstukke én die stabiliserende rol wat tradisionele leierskap in ’n moderniserende samelewing speel en was deurentyd ter sake, om nie te sê omstrede nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fedup ·

Condolences to his family.
One of the good one’s is now gone.

Di ·

Baie harseer – Sterkte aan sy naasbestaandes. Hy was nog een van die goeies waarvoor ek baie repek gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.