Zola Budd hof toe oor Comrades-titel

Zola Budd. Foto: Facebook

Zola Budd. Foto: Facebook

Zola Budd gaan hofdokumente indien teen KZN Atletiek (KZNA) en die organiseerders van die Comrades-wedloop nadat sy ontneem is van haar eerste plek in die veteraan-afdeling vir vroue tussen 40 en 49 jaar.

“Comrades en KZNA het nie die regte prosedures gevolg nie, en daarom het ons geen ander keuse as om die hof te nader nie,” het Ray de Vries, die bestuurder van Budd se atletiekklub, Hooters, gesê. “Ons gaan sonder twyfel die kwessie tot die einde toe beveg. Ons behou ons reg om regstappe in te stel teen Comrades en KZNA, en individue binne die organisasies.”

De Vries het gesê beamptes was verkeerd in hul besluit om Budd (48), wat eerste in haar kategorie en sewende algeheel geëindig het, se wen te weier omdat sy nie haar ouderdomskategorie-merker vertoon het nie.

Budd, wat in die VSA woon, is egter van ʼn internasionale nommer verskaf waarop die ouderdomskategorie-merker reeds verskyn het. Volgens De Vries is dit uiteengesit in die Comrades se finale instruksies en is daar tydens ʼn vergadering van die tegniese komitee voor die wedloop daarop besluit.

De Vries het gesê die besluit om Budd se wen te weier is tydens ʼn afsonderlike vergadering met die komitee ná die wedloop omgekeer. Sello Mokoena, die president van KZNA, het egter dié komitee se besluit omgekeer.

Die besluit om haar wen te weier het tot gevolg gehad dat Budd nie kwalifiseer vir die prysgeld van R12 000 vir die wenner van die veterane-kategorie nie. Sy kwalifiseer egter steeds vir die R25 000 prysgeld vir haar algehele sewende plek.

Budd het kort na die voorval gesê: “Ek het dit gewen. My hele atletiekloopbaan is gekenmerk deur politieke en inmenging van administrateurs wat selektief is en wat nie die reëls konsekwent toepas nie. Dit voel of hulle my spesifiek teiken. Hoekom geld die reël vir my en nie vir die ander nie?”

Lees ook:
Zola glo Comrades-titel geweier oor merker
Comrades: Hier is die vroue-wenners
Zola Budd gaan die Comrades hardloop

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

EMK ·

REG so Zola, dis nie oor die geld maar oor die feit dat regverdigheid moet seëvier. Hoop hul kry goed slae!

Luke ·

dis reg Zola. Wys hulle jys nie n flaffie wat nie kan blaf nie. Sort hulle uit. Trots op jou.

Len Buchner ·

Gee gas Zola, gee gas. Wat reg is, is reg. Die aap gaan teen die komitee besluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.