Zola glo Comrades-titel geweier oor merker

Zola Budd. Foto: Facebook

Zola Budd. Foto: Facebook

Zola Budd bevraagteken ‘n besluit deur die organiseerders van die Comrades-wedloop om haar eerste plek in die veteraan-afdeling vir vroue van 40 tot 49 jaar te weier.

Budd (48) het algeheel sewende geëindig in die vroue-afdeling, het Ray de Vries, haar bestuurder, Donderdag in ‘n verklaring gesê. “Sy was ook die eerste vroulike veteraan om die eindstreep oor te steek, maar dit is nou geweier aangesien sy volgens beamptes nie haar ouderdomskategorie-merker vertoon het nie.”

Dit het tot gevolg dat Budd nie kwalifiseer vir die prysgeld van R12 000 vir die wenner van die veterane-kategorie nie. Sy kwalifiseer egter steeds vir die R25 000 prysgeld vir haar algehele sewende plek. De Vries sê Budd is van ‘n internasionale nommer verskaf wat die ouderdomskategorie-merker op het en dat die ouderdomskategorie volgens die internasionale instruksies op die wedloopnommer verskyn.

Hy sê die vroue wat tweede en derde plek gekry het, het ook net die ouderdomskategorie op hulle wedloopnommer gehad soos in die geval met Budd. “Die vraag is, hoekom word Zola uitgesonder? ‘n Fout is gemaak en dit moet reggestel word.”

Budd, wat in die VSA woon, sê: “Ek het dit gewen. My hele atletiekloopbaan is gekenmerk deur politieke en inmenging van administrateurs wat selektief is en wat nie die reëls konsekwent toepas nie. Dit voel of hulle my spesifiek teiken. Hoekom geld die reël vir my en die vir die ander nie?”

Rowyn James, direkteur van die Comrades-wedloop, sê hy is nie bewus daarvan dat die twee hardlopers agter Budd dieselfde gedoen het nie. “Sy is nie gediskwalifiseer nie maar word slegs uitgesluit van die prys in die kategorie. Indien atlete twee en drie nie hulle merkers reg gedra het nie, is dit iets wat ons sal moet ondersoek.”

James sê elke atleet ontvang ‘n finale stel instruksies saam met hulle wedloopnommers. “Die atleet moet ‘n ouderdomskategorie-merker dra. Dit is ‘n reël van KZN Atletiek en Atletiek Suid-Afrika (ASA).”

“Elke atleet ouer as 40 jaar se ouderdom word ook op hulle wedloopnommer gedruk. Dit word egter nie deur ASA en KZN Atletiek goedgekeur as die enigste merker beskikbaar nie,” het James gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

jurika ·

Dis absoluut belaglik en n slegte klad teen Comrades se naam. Vir hulle eie onthalwe hoop ek hulle gee haar haar titel terug wat sy so loshande verdien het!!

Elizabeth ·

Merkers, schmerkers – BELAGLIK! Vaderland hul ouderdomme gaan tog sekerlik op inskrywingsvorms en dus in die rekenaars wat karring hulle met sulke simpelgeid?? Ai wraggies, dis soos skool en dis almal grootmense hierdie! Zola is vir my so ‘n inspirasie omdat sy so nederig bly, so goeie humorsin het en nie omgee om met haarself soms te spot en veral omdat sy haar deel van hartseer in haar lewe gehad het. Nou gee hul dit vir ‘n Aussie!! Dis absoluut belaglik. MINDER REELS ASB COMRADES! VERAL reels wat NIKS te doen het met prestasies nie, verbrands. Erken haar prestasie en klaar!

Johann ·

Zola het meer vir atletiek gedoen as wat ASA vir atletiek gedoen het.

johan Viljoen ·

Het sy haar wedren nommer vertoon? is sy ouer as 40jaar, het sy 7de gekom? was sy ouer as die eerste 6? Het sy verbode middels gebruik? Is sy oor al die beheerpunte? Asseblief julle organiseerders, julle maak gekke van julleself. Of is die regering se onbekwaamheid nou al oorgedra na julle.

Siestog.... ·

Sport, sport, sport…. Dit is omtrent al waaroor daar deesdae “ge-worry” word. Zola, jy het self jare gelede gekies dat politiek jou sal heers. Waaroor klae jy nou? Dit is nog steeds maar net politiek, jy weet. Los maar daai ou paar randjies vir iemand wat nie sy land verkoop het nie. Ek meen te sê, as jy sonder Suid-Afrika kan klaarkom, kan jy seker sonder sy geldjies ook klaarkom. Jy’t gekies… jare gelede al.

Sollie ·

@Siestog: MIAAAAAUUU! Ou kat. Dis nie haar skuld sy moes vir VK deelneem omdat ons verban was van deelname by die Spele nie! Sy is en was nog altyd trots Afrikaans( en Suid Afrikaans) en wys dit ook. Net omdat sy in die VSA woon beteken dit nie sy is nou ‘n Yank nie. Ai tog jy is stiksiennig! Ek is bitter seker dit gaan nie om “geldjies” nie, dis die TITEL wat sy deur en deur verdien. Gaan maak vir jou bietjie kamille tee dat jy kan kalmeer, andersins gaan speel met jou poppe of DOEN net iets konstruktiefs eerder as om jou ou suurbek hier te kom uitspoel.

EMK ·

Siestog: lees die berig moooooi stadig. Dit gaan beslis nie oor die “geldjies” nie dis die titel – wat Zola absoluut verdien. Lees ook mooooi stadig dat ander deelnemers dieselfde “oortreding” begaan het en dit word oorgesien maar nie in Zola se geval nie. Zola is trots SuidAfrikaans en het al so baie vir atletiek beteken. Jy is nou weer die enigste negatiewe ninnie hier, siestog vir JOU!

H Lotz ·

Siestog is al wat n mens vir Siestog kan se. Wil jy nie dalk ook graag buiteland toe gaan nie?
Gun Zola wat dit vir haar oud Suid Afrikaanse onderwyser gedoen het die paar rand.

Siestog ·

Siestog, dat jy nou so blind kan wees. Lees maar weer mòòi die beriggie, en gaan swot die geskiedenis op. Sy het geen volkstrots nie.

Rob ·

Ek was en sal altyd n groot aanhanger van Zola wees. Ek is ook n atleet, nie naatenby so goed soos Zola nie. Daarom moet ek ongelukkig bevestig dat die reel wat Zola oortree het n basiese reel is wat alle atlete, veral veteran atlete, bewus is van.
Dis n pynlike reel, maar desnieteenstaande steeds n reel. So in hierdie geval, my innige simpatie, maar n reel is n reel, en dit moet konsekwent toegepas word.

EMK ·

@Rob – lees paragraaf 4! Reëls is dus wel vir almal, maar was NIE konsekwent toegepas nie. Dis waaroor dit gaan hier!

Elna Marais ·

Dis reg … vertel haar!!! Ek stem, as jy nie iets goeds/moois kan sê nie, hou jou dan uit! Wel gedaan Zola, ons is trots op jou en ek weet jy bly trots Suid Afrikaans. Bloemfontein bo!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.