Zola glo Comrades-titel geweier oor merker

Zola Budd. Foto: Facebook

Zola Budd. Foto: Facebook

Zola Budd bevraagteken ‘n besluit deur die organiseerders van die Comrades-wedloop om haar eerste plek in die veteraan-afdeling vir vroue van 40 tot 49 jaar te weier.

Budd (48) het algeheel sewende geëindig in die vroue-afdeling, het Ray de Vries, haar bestuurder, Donderdag in ‘n verklaring gesê. “Sy was ook die eerste vroulike veteraan om die eindstreep oor te steek, maar dit is nou geweier aangesien sy volgens beamptes nie haar ouderdomskategorie-merker vertoon het nie.”

Dit het tot gevolg dat Budd nie kwalifiseer vir die prysgeld van R12 000 vir die wenner van die veterane-kategorie nie. Sy kwalifiseer egter steeds vir die R25 000 prysgeld vir haar algehele sewende plek. De Vries sê Budd is van ‘n internasionale nommer verskaf wat die ouderdomskategorie-merker op het en dat die ouderdomskategorie volgens die internasionale instruksies op die wedloopnommer verskyn.

Hy sê die vroue wat tweede en derde plek gekry het, het ook net die ouderdomskategorie op hulle wedloopnommer gehad soos in die geval met Budd. “Die vraag is, hoekom word Zola uitgesonder? ‘n Fout is gemaak en dit moet reggestel word.”

Budd, wat in die VSA woon, sê: “Ek het dit gewen. My hele atletiekloopbaan is gekenmerk deur politieke en inmenging van administrateurs wat selektief is en wat nie die reëls konsekwent toepas nie. Dit voel of hulle my spesifiek teiken. Hoekom geld die reël vir my en die vir die ander nie?”

Rowyn James, direkteur van die Comrades-wedloop, sê hy is nie bewus daarvan dat die twee hardlopers agter Budd dieselfde gedoen het nie. “Sy is nie gediskwalifiseer nie maar word slegs uitgesluit van die prys in die kategorie. Indien atlete twee en drie nie hulle merkers reg gedra het nie, is dit iets wat ons sal moet ondersoek.”

James sê elke atleet ontvang ‘n finale stel instruksies saam met hulle wedloopnommers. “Die atleet moet ‘n ouderdomskategorie-merker dra. Dit is ‘n reël van KZN Atletiek en Atletiek Suid-Afrika (ASA).”

“Elke atleet ouer as 40 jaar se ouderdom word ook op hulle wedloopnommer gedruk. Dit word egter nie deur ASA en KZN Atletiek goedgekeur as die enigste merker beskikbaar nie,” het James gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
jurika

Dis absoluut belaglik en n slegte klad teen Comrades se naam. Vir hulle eie onthalwe hoop ek hulle gee haar haar titel terug wat sy so loshande verdien het!!

Sandra

Ai – hoe pateties

Elizabeth

Merkers, schmerkers – BELAGLIK! Vaderland hul ouderdomme gaan tog sekerlik op inskrywingsvorms en dus in die rekenaars wat karring hulle met sulke simpelgeid?? Ai wraggies, dis soos skool en dis almal grootmense hierdie! Zola is vir my so ‘n inspirasie omdat sy so nederig bly, so goeie humorsin het en nie omgee om met haarself soms te spot en veral omdat sy haar deel van hartseer in haar lewe gehad het. Nou gee hul dit vir ‘n Aussie!! Dis absoluut belaglik. MINDER REELS ASB COMRADES! VERAL reels wat NIKS te doen het met prestasies nie, verbrands. Erken haar prestasie en… Lees meer »

Johann

Zola het meer vir atletiek gedoen as wat ASA vir atletiek gedoen het.

johan Viljoen

Het sy haar wedren nommer vertoon? is sy ouer as 40jaar, het sy 7de gekom? was sy ouer as die eerste 6? Het sy verbode middels gebruik? Is sy oor al die beheerpunte? Asseblief julle organiseerders, julle maak gekke van julleself. Of is die regering se onbekwaamheid nou al oorgedra na julle.