Zondo-aansoek teen Zuma nou by Konstitusionele Hof

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek, vra in sy aansoek by die Konstitusionele Hof onder meer dat oudpres. Jacob Zuma nie mag weier om vrae te beantwoord nie wanneer hy volgende jaar vir twee weke weer voor die kommissie moet verskyn.

Die sekretaris van die kommissie, Itumeleng Mosala, sê in ʼn beëdigde verklaring ter stawing van die aansoek wat Donderdag ingedien is dat Zuma die kommissie aangeval en gefrustreer het en dat sy gedrag die oppergesag van die reg ondermyn het.

Die hofaansoek volg kort nadat ʼn nuwe dagvaarding verlede week aan Zuma beteken is en waarvolgens hy van 18 tot 22 Januarie en weer van 15 tot 19 Februarie voor die kommissie moet verskyn.

Die aansoek is ʼn poging – met die swaard van inhegtenisneming wat nou oor Zuma se kop hang – om ʼn herhaling van gebeure te verhoed toe Zuma twee weke gelede sonder toestemming uit die sitting gestorm en net nie weer teruggekeer het nie. Dít ten spyte van die vroeëre dagvaarding wat hom gedwing het om te verskyn.

Zuma en adv. Muzi Sikhakhane is op 19 November vort sonder dat hulle deur adjunkhoofregter Raymond Zondo verskoon is, nadat hy hul aansoek dat hy hom aan die saak moet onttrek van die hand gewys het.

Sikhakhane het Zondo gewaarsku dat sy kliënt nie ʼn woord sou sê nie indien hy gedwing sou word om voor hom wat Zondo is te getuig.

Mosala het nou die Konstitusionele Hof in die bevel soos volg versoek: “Die respondent sal enige vrae wat deur die getuienisleier(s) en die voorsitter van die kommissie aan hom gestel word, onderhewig aan die privilegie teen selfinkriminasie, beantwoord en mag hom nie beroep op die reg om stil te bly nie.”

Die bevel sal Zuma ook dwing om elke dag om 10:00 op te daag om te getuig vir die volle tien dae wat hy veronderstel is om voor die kommissie te verskyn.

Die kommissie wend hom tot die Konstitusionele Hof ingevolge die Grondwet wat bepaal dat net die hoogste hof die mag het om te besluit of ʼn president aan sy wettige pligte uitvoering gegee het.

Mosala voer aan dat die plig om aanspreeklik gehou te word vir sy termyn as president nie verval net omdat Zuma in 2018 die tuig neergelê het nie.

Die kommissie beroep hom ook op die Handves van Regte en sê die oudpresident het ʼn plig om die kommissie en die land in te lig of staatsgeld weens korrupsie verlore gegaan het.

Meer as 30 getuies het Zuma reeds by korrupsieskandale betrek.

Die kommissie vra in sy aansoek, gegewe die dringendheid van die saak, dat die oudpresident net vyf dae gegun word om aan te dui of hy die aansoek gaan teenstaan.

Mosala het die hof ook gevra om Zuma te beveel om die koste vir die aansoek te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarel ·

Zuma sal nou ook.Konstitusionele of Grondwet Hof toe gaan met aansoek dat Zondo homself moet verskoon. Maar getuig sal hy nie.
Probleem is verbaas my dat Zuma nog hier is.
Hy het Beleghings in die Buiteland soos die lot van hulle. Sover bekend het hy nog Paspoort en geen beperking op reise nie. Ek dink al wat hom.hier hou is sy leefstyl

Johanncb ·

Hy sal waarskynlik nie weier om vrae te antwoord nie, net meer leuens vertel! Daar is voldoende tyd om genoeg te fabriseer!

Martie Smartie ·

En so blaas Zondo ook miljoene … Zuma sal wel oor die feesgety siek word en teen vlg jaar ‘n aanval van zondolitus kry.

Snowball ·

As ek nou Zondo was het ek met een oog oop geslaap tot volgende jaar….

Hennie J ·

Smaak my ou ‘duck & dive’ se planne word vooruitgeskat en verhoed. Is sy sogenaamde senior advokaat nie ook skuldig aan onderduimsheid nie?

Dries ·

Ek glo hy is net soos sy klient ook korrup. Dit kos n skelmer skelm om n skelm te verdedig

annie ·

Hoekom word Zuma & kie nie voor die hof gedaag nie? Of is dit hoe oligargiese-regerings in Afrika arme verontregte stoute rykes straf… met kommissies wat groot geld blaas. En as die geld op is dan is dit op en alles is vergewe.

JohanR ·

As ‘n Oppenheimer, Rupert of ‘n van der Merwe uit die hof gestorm het sonder toestemming, het die selle gou gewag….different strokes for different colour folks!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.