Zondo: ‘Bedanking laaste opsie’ – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa onthou groot kommer het destyds in ANC-geledere geheers toe oudpres. Jacob Zuma vir Nhlanhla Nene met Des van Rooyen as minister van finansies vervang het.

Ramaphosa, in daardie stadium adjunkpresident, het destyds die aanstelling as ’n kaping van die nasionale tesourie beskou en selfs aangedui dat hy sal bedank. Hy het eindelik besluit dat bedanking nie ’n opsie is nie en dat hy moes bly om staatskaping te help takel.

Só lui die president se openingsverklaring by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping waar hy Woensdagoggend begin getuig het. Ramaphosa is die laaste getuie voor die kommissie en moet vandag en môre vrae beantwoord oor staatskaping terwyl hy adjunkpresident van die land was.

Hy sal ook ondervra word in sy hoedanigheid as huidige president.

Ramaphosa het in sy openingsverklaring onder meer verwys na Van Rooyen se opspraakwekkende aanstelling in Desember 2015.

Van Rooyen was vir ʼn skamele vier dae lank Suid-Afrika se minister van finansies voordat hy die trekpas gekry en deur Pravin Gordhan vervang is.

Ramaphosa sê die aanstelling het destyds ʼn onmiddellike impak op die finansiële markte gehad en die destydse direkteur-generaal van die nasionale tesourie, Lungisa Fuzile, het hom genader om sy kommer uit te spreek oor die invloed wat die aanstelling op die nasionale tesourie sou hê.

Hierna het Ramaphosa vir Jessie Duarte, in daardie stadium adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, genader en aangedui dat hy sal bedank as adjunkpresident.

“Ek glo dat die boodskap aan die destydse president oorgedra is. Daar was ʼn vlaag konsultasies waartydens sommige ANC-amptenare hul onrustigheid oor mnr. Des van Rooyen se aanstelling uitgespreek het.”

Ramaphosa, Duarte en die destydse sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, het toe ’n beroep op Zuma gedoen om Gordhan as minister van finansies aan te stel, aangesien dit in die beste belang van die land sou wees en sou help om die finansiële markte te kalmeer.

“Ek glo die besluit van pres. Zuma om Van Rooyen met Gordhan te vervang, was van kritieke belang om verdere skade aan die ekonomie te voorkom en die integriteit van Nasionale Tesourie te behou,” sê Ramaphosa nou, byna ses jaar later.

Ramaphosa sê voorts dit sou inderwaarheid nie ’n goeie opsie vir hom gewees het om as adjunkpresident te bedank nie.

‘Ek het nie geweet nie’

Volgens Ramaphosa het hy destyds, nes ander Suid-Afrikaners, deur middel van joernaliste sowel as instellings soos die openbare beskermer en ouditeurs-generaal daarvan te hore gekom dat individue met persone in die regering saamsweer om sleutelposisies te beklee en sleutelinstellings te “kaap”.

“Die vraag wat ontstaan ​​het was hoe ʼn mens die beste hierop moes reageer. Dit was ʼn vraag waarmee nie net ek moes worstel nie, maar ook ander uitvoerende hoofde van die regering wat diep bekommerd was oor hierdie verwikkelinge.

“In my geval sou ek sê dat ek vyf opsies gehad het: om te bedank; om uit te praat, om dit teësinnig maar sonder protes te aanvaar; om dit stil te hou en stil te bly; of om te bly en dit te weerstaan ​​in die hoop dat ons dinge kan omkeer.”

Ramaphosa sê hy het eindelik die laaste opsie gekies.

“Die opsie wat ek gekies het, was om in my pos as adjunkpresident te bly en nie te bedank nie, nie in te stem nie en nie konfronterend te wees nie, maar om saam met ander in die ANC se bestuur te werk om misbruik te weerstaan ​​en verandering teweeg te bring, asook om die werk van sosiale en ekonomiese transformasie vol te hou.”

Hy sê hy is nie spyt oor die opsie wat hy gekies het nie. “Ander stem dalk nie saam nie, maar vir my was dit die beste aksie wat ek kon neem.”

Volgens Ramaphosa het sy kantoor sedert sy aanstelling as president in Februarie 2018 verskeie maatreëls getref om staatskaping hok te slaan, geplunderde instellings te herbou en ʼn kultuur van etiese staatsdiens en aanspreeklikheid te bevorder.

Ramaphosa se getuienis duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Werner ·

Hahaaaa.Hy moes definitief by die staatskaping help.Om seker te maak hy kry ook iets

Kobus ·

Ja Ja, CR, Jywas baie suksesvol met die ontwrigting van staatskaping terwyl jy en JZ verder die land geplunder het.Jy onderskat ons,ons is nie almal onnosel nie

JohanR ·

Nog ‘n Gupta en Zuma kaping, en dit het sleg verkeerd geloop. Hulle wou die tesourie stroop!

B-Man ·

Verkiesingspropaganda. Die massas vreet dit vir soetkoek op.

Nie Verbaas ·

Ek stem saam. Dit is verbasend hoe hy ons intilligensie onderskat maar soos genoem is, die massas vreet dit op soos soetkoek.

B-Man ·

As iemand op my spoor is sal ek ook met ‘n takkie loop om die spore uit te wis.

Johann ·

En SO lieg jy jouself uit elke hoek in n sirkel uit! Arrogante vermeteldheid om te dink iemand glo hom?

TO ·

Sjoe mnr president jyt nie bedank want jou wou staatkspubg takel. Presies hoe lank het dit jou geneem en na hoeveel druk. Maar steeds loop jou kronies vry rond. Wat vir die res van ons geld, geld nie vir ANC kaders of die EFF nie, en ook nie vir Zuma nie. Dis ‘n skande

efjy ·

Dit blyk dat maatreels wat sedert 2018 teen staatskaping en korupsie getref is, nie werklik enige waarde het nie. Nou gaan ons maar so voort en hoop vir die beste.

Mariana ·

En wat het intussen verander, die tesourie is verder geplunder en korrupsie is nog steeds in beheer. Staatskaping gaan voort. Nou net deur ander. Die Guptas loop vry rond en Zuma zig en zag om nie te antwoord op sy deel, die grootste deel, van hoe hy saam met die Guptas die land op sy knieë het nie. Niks het verander nie, ons is nou meer as ooit ‘n derde wêreld land en steeds in rommelstatus. So wat het hy laat verander, ons net in meer skuld gedompel en geloop en bedel by ander lande. ANC moet gaan, verdwyn.

Willem ·

Cyril moes weet van alles en hy het dit nie probeer keer nie maar toegelaat dat dit voortgaan.Hy probeer sy eie bas red en doen hom voor as die redder van staatskaping.Met die kabinetskommeling het hy weereens bewys dat hy op dieselfde trant wil voortploeter deur nie van cele ook ontslae te raak nie!!!!Hy is nèt so groot deel van staatskaping!!!!!!

Dawie ·

Die spul van die ANC sit almal op een bondel en het mekaar beet op ‘n ongemaklike plek. Niemand kan los nie want hy kan nie weet of hy gelos sal word nie.

Onnie ·

MM, ek wil nt weet hoekom daar vanaf gistermiddag nog geen nuwe artikels op MM verskyn ht nie? Of is daar iets fout mt my app.

Janice du Plessis ·

Dagsê Onnie
Ek glo dat daar iets fout is met u toep/internet.
Ek hoop dat u dit gou kan regkry om lekker aan ons nuutste artikels te lees.
Dankie! Groetnis
Janice
nms Maroela Media

Jack ·

Hou jou vriende naby maar jou vyande nader aan jou so het hy gedink. Die vraag is hy het geweet en wat het hy met die inligting gemaak. Die komitee het hom verbied om te handel want hy is net n pion op die skaakbord van n geplunderde land. Hy kan slegs poog om n burgeroorlog te voorkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.