Zondo berus by Zuma se parool

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Itumeleng English/African News Agency (ANA)

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping berus daarby dat oudpres. Jacob Zuma mediese parool toegestaan is en sal dit nié in ’n hof betwis nie.

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die DA het albei reeds afsonderlike aansoeke by die Gautengse hooggeregshof ingedien om Zuma se parool te laat hersien en ter syde te stel nadat die oudpresident begin vandeesmaand vrygelaat is.

Die sekretaris van die kommissie, Itumeleng Mosala, sê nou die kommissie sal aan geen van dié verrigtinge deelneem nie, al word die kommissie in albei aansoeke as respondent genoem.

“Die kommissie het die staatsprokureur opdrag gegee om ’n kennisgewing aan die griffier van die hof en ander partye te lewer dat die kommissie hom by die hof se besluit sal berus.

“Die kommissie is in hierdie stadium daarop gefokus om sy werk en sy verslag af te handel,” lui ’n verklaring Woensdag.

Zuma is in Julie tot 15 maande tronkstraf gevonnis vir minagting van die hof nadat hy geweier het om voor die Zondo-kommissie te verskyn. Die oudpresident het hom in Julie aan die polisie oorgegee en skaars ’n maand lank tronkstraf uitgedien voor hy in die hospitaal opgeneem en later op mediese parool vrygelaat is.

Die DA glo Arthur Fraser, kommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD), se goedkeuring van Zuma se vrylating op mediese parool was onwettig, aangesien die adviesraad vir mediese parool aanvanklik die aansoek afgekeur het.

Volgens die opposisieparty voldoen Zuma se vrylating boonop nie aan die tersaaklike wetgewing nie.

AfriForum voer op sy beurt aan Zuma se vrylating is ’n duidelike geval van magsmisbruik deur die regering op grond van ’n persoon se politieke posisie.

“Dit is ook vir ons duidelik dat die toepaslike wetsvoorskrifte om iemand op mediese parool vry te laat nié nagekom is nie. Ons vra dus in ons aansoek dat die besluit om Zuma op mediese parool vry te laat, omgekeer moet word,” het Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

marius ·

So hy is nou kwytgeskeld van getuienis ook , nie so nie ? Almal kop in een mus .

Gert ·

Julle kan vra wat julle wil maar dis nie te sê julle gaan dit kry nie. Die nonsens gaan nou al jare aan en kos miljoene Rande en nog steeds is hy los. Zuma is deel van die untouchables. Die publiek word net bietjie gepaai en dan weer in die rug gesteek. Daar is net een oplossing vir Zuma.

Misky ·

Hier word ‘n baie gevaarlike president geskep en julle gaan dit nog berou, want elke 2de Jan Rap en sy maat gaan nou selfde doen en ook maar net weier om op te daag vir hofsake. En speel siek en daag net nooit weer op nie. As Zuma kan, kan ekke ook!!!!!

cccp ·

Ek verstaan jou sentimente, maar die ongelukkige realiteit is dat as Zuma dit kan doen, beteken dit nie ek en jy kan dit ook doen en daarmee wegkom nie – all animals are equal but some animals are more equal than others…

Johann ·

En SO kom die planne bymekaar om die ANC te beskerm teen enige en alle aanklagte teen hom en sy kern korrupte karakter!!!!! Miljarde aan salarisse vir ZONDO en sy trawante en NIKS maar NIKS gaan van die sewetriljarde bladsye se “getuienis” kom nie. ANC LEGACY!!!!!!!

Mariana ·

Ag wat net nog ‘n dag in SA. Kriminele beheer als. Zondo jy het jou vertroue wat daar nog was ook nou tot niet gemaak. Nou is jy ook maar net een van hulle. Maar die miljoene het julle beursies lekker vet gestop. Lekkerste land in wêreld. Hier kan kriminele skatryk word en daar sal nooit weer haan kraai nie.

FC ·

Wat n joke is ons land nie?
Dis net om stemme te kry vir die verkiesing.

Wat `n joke!

Hasie ·

Iemand steek iets weg en wil nie hê dit moet uit die mou gelaat word nie …..ek ruik ‘ n stink rot …..

Jack ·

Skelms is oral. Die aansoek moet in belang van deursigtigheid en regverdigheid slaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.