Die Zondo-kommissie wat staatskaping moet ondersoek, het weer Dinsdag getuienis aangehoor oor die tegniese afdeling van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAAT).
Nontasa Memela, voormalige hoof van aankope by die tegniese afdeling van SAL, is kruisondervra deur die getuienisleier Kate Hofmeyr. Sy ontken dat sy omkoopgeld ontvang het.
Memela sê daar was niks vreemds aan haar samesprekings met die Amerikaanse lugvaartonderneming AAR nie – selfs al het sy inligting oor tenderpryse met hulle gedeel, terwyl AAR self aansoek gedoen het om ʼn kontrak met SAAT. Dit is glo omdat die finale besluit om die kontrak aan AAR toe te ken, nie by haar lê nie.
Die kontrak is uiteindelik aan AAR toegeken.
Memela en ander raadslede is glo weelderig deur AAR onthaal, terwyl die tenderproses steeds onderweg was. Hofmeyr het aan Memela gevra of sy dan niks hiermee verkeerd sien nie. “Ek beskou dit nie as ʼn probleem nie,” het sy geantwoord.
Maandag het die kommissie gehoor dat Memela R2,5 miljoen ontvang het vanaf JM Aviation vir uitgawes aan haar huis in Bedfordview. Dié maatskappy is ʼn vennoot in AAR.
Memela het egter getuig die geld was eintlik ter betaling van ʼn stuk grond in die Oos-Kaap wat een van die direkteure van JM Aviation by haar ma gekoop het.
Die Noord-Gautengse hooggeregshof hoor tans ʼn dringende aansoek aan om die mandaat van die Zondo-kommissie van einde Februarie tot einde Desember te verleng. In sy aansoek sê regter Rey Zondo dat verskeie getuies tot dusver talle hoëprofielpersone onder verdenking gebring het in talle verdagte optredes by staatsentiteite. Hy sê die kommissie wil graag nou fokus op bewerings van korrupsie by die Suid-Afrikaanse spooragentskap (Prasa).
“Daar is nog baie getuienis wat die kommissie moet aanhoor met betrekking tot korrupsie by Prasa. Ons moet nog minstens tien mense se getuienis aanhoor,” lui die hofaansoek.
Die hof het uitspraak in dié saak voorbehou.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
4 Kommentare
R2.5miljoen vir n stuk grond – goeie hemel – ek het nie eers R25 vir n stuk grond nie, en is grond regtig so duur???
Gaan doen n oudit by en op haar huis. Hierdie mense gaan skotvry loop en Zondo smile bank toe.
Inherent gewetenloos. Geen integriteit en geen vermoë om eties op te tree nie.