Zondo breek stilte oor ‘familiebande’ met Zuma

Oudpres. Jacob Zuma by die Zondo-kommissie. (Argieffoto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, het reageer op oudpres. Jacob Zuma se bewering dat hy bevooroordeeld teenoor hom is, gegewe die “geskiedkundige familiebande” tussen die twee.

Zuma se regspan het vroeër gevra dat Zondo hom aan die kommissie onttrek, onder meer weens dié sogenaamde bande. Zondo het tot dusver nie op die bewerings gereageer nie, maar het Donderdag sy stilte daaroor verbreek.

“In die middel 1990’s – sowat 25 jaar gelede toe ek nog in my 30’s was en in private praktyk as prokureur gewerk het – het ek ʼn verhouding met ʼn sekere vrou gehad en ʼn kind is gebore. Die verhouding het in die 1990’s geëindig.

“Hoewel niemand dit in daardie stadium geweet het nie, het daardie vrou se suster, me. Thobeka Madiba, jare nadat die verhouding geëindig het, met mnr. Jacob Zuma getrou,” lui Zondo se verduideliking.

“Na my wete het mnr. Zuma in die middel 1990’s geen verhouding met me. Thobeka Madiba [Zuma se vrou] gehad nie.”

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Zondo sê die feit dat Zuma later getrou het met die suster van ʼn vrou waarmee hy jare gelede ʼn verhouding gehad het, het nog nooit enige uitwerking op die uitvoering van sy regspligte in sake wat met Zuma verband hou, gehad nie; nie toe hy as regter van die Konstitusionele Hof gedien het nie en ook nie in die uitvoering van sy pligte as hoof van die kommissie van ondersoek nie.

“In nie een van die sake waarby mnr. Zuma betrokke was en waarop ek in die verlede gedien het, het hy ooit enige klagte of bekommernis gehad, óf ʼn aansoek ingedien dat ek myself verskoon nie,” sê Zondo.

“Ek het dit nodig geag om bogenoemde te verduidelik, maar in hierdie stadium gaan ek nie reageer op enige van die ander bewerings wat in mnr. Zuma se prokureursbrief geopper word nie. Ek sal dit hanteer as of wanneer mnr. Zuma se aansoek vir my onttrekking ingedien word.”

Zuma se regspan het die brief op 28 September aan Zondo gestuur.

Die kommissie sukkel nou reeds geruime tyd om die oudpresident sover te kry om voor die kommissie te verskyn nadat altesaam 34 getuies Zuma reeds in hul getuienis betrek het.

ʼn Dagvaarding vir die oudpresident om te verskyn is vroeër vandeesmaand uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

koos10 ·

Zuma het so baie vroue en ekse, dat mens ver moet gaan soek om iemand te kry wat nie familie bande het nie.

Moedeloos ·

Nee wat Zummie moenie die verlede gebruik om jou sonde te verbloem nie. Daar is altyd n rede hoekom jy nie verantwoordelikheid wil aanvaar nie.

Anoniem ·

Hulle speel vir tyd, daar is n lasbrief, arresteer nou die man en daag hom voor die kommissie

My siening ·

Mr Zondo ignoreer die afkop hoender jy is baie goed in wat jy doen en Zuma is nie familie van jou nie. Zuma spring rond saam met kareltjie wat probeer om n geldjie te kry want sy voete steek nog net uit.

Tanniepetoors ·

Die halms in Zuma se strooipop is nou al so min dat die pop se kop leeg is

Johanncb ·

Daar is duidelik géén bande nie! Watter truuk gaan JZ volgende probeer om vervolging te vermy?

Anel ·

Wat gaan hy nou nog uit dink? Iets sê vir my hy is bang om tronk toe te gaan. Kry vir jou, katvis.

Johann ·

En so kom die obvious uit. Ons veronderstelde geagte regter is ook maar eg geheg aan sy kulturele aktiwiteite? Als behalwe n skoon “rekord” as dit by karakteren integriteit kom?

Cecilia ·

Ag liewe Vader. D swart bevolking glo hulle is almal mos broers. Kry n Wit komissaris dan as Zuma so erg voel daaroor.
Dis net Zuma se manier om tyd te probeer wen en d aandag af te lei v sy korrupsie, geldwassery en diefstal.

Elsa ·

Die feit dat hulle so verlangs familie is dat jy met n klip kan gooi, maak geen verskil dat die regte sy werk kan doen nie

JM ·

Zuma kan sy uiterste probeer om tronkstraf vry te spring, maar voor die groot Regter sal hy nie verbykom nie!

Gert Johannes ·

Snaakse geregtigheid, Zuma sal nooit tereg staan nie, te veel ANC parlementslede betrokke.

pompies ·

Ek sal baie darvan hou as regter Zondo n las brief vir jz se inhegtenis neming uitreik en hom laat arresteer vir die verontagsaming van die kommissie. Dan sal die poppe begin dans want zuma begin voel die plaat waarop hy sit begin baie warm word en maak nou benoude spronge om weg te kom. Het onse mnr Zuma nie gese hy WIL sy dag in die hof he nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.