Zondo: Direkteur-generaal lig sluier oor spioene se misdade

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Die waarnemende direkteur-generaal van staatsveiligheid, Loyiso Jafta, het Dinsdagoggend uiteindelik vanuit die geledere van die Staatveiligheidsagentskap (SSA) die sluier begin lig oor wat hyself as onwettige gedrag in die geledere van die land se spioene bestempel het.

Die getuienis wat Jafta ʼn driekwartier voor middagete gelewer het, was sensasioneel en bevestig wat ondersoekende en politieke joernaliste al jare lank vermoed en teen waarsku, maar nog nooit in besonderhede klinkklaar kon bewys nie.

Dit sluit in dat geld uit SSA se begroting gebruik is om die ANC se beeld te poets en dat miljoene vir “fiktiewe en onwettige projekte” aangewend is.

“Geld is gesteel en mense het hulself verryk,” het Jafta onomwonde gesê.

Hy het gesê vuurwapens is selfs onwettig deur die spioene aan landsburgers verskaf.

Jafta het gesê kort nadat hy in April 2018 waarnemende direkteur-generaal geword het, het hy agtergekom ʼn klomp personeel skuld die SSA baie geld – tot miljoene rande per persoon.

Jafta het destyds die veelbesproke Arthur Fraser (tans direkteur-generaal van korrektiewe dienste) oor wie Jacques Pauw in sy boek The President’s Keepers geskryf het dat hy groot dele van sy familie uit geld van die SSA betaal het, vervang.

Jafta se navrae en ondersoeke het dit laat blyk dat korporatiewe bestuur van die spioenasie-agentskappe “buite die voorskrifte van die wet” plaasgevind het.

“Projekte is dikwels onwettig en buite die voorskrifte van die Grondwet aangepak,” het Jafta getuig.

“Regulasies, wette en die Grondwet is net soms nagekom. Kreatiewe maniere is gevind om buite die wet en die Grondwet op te tree as die wet of die Grondwet ʼn struikelblok was. Die wet en die Grondwet is as wapen aangewend wat slegs gebruik moes word wanneer nodig.”

Volgens Jafta is selfs die regulasies waarvolgens die SSA gestig is, onwettig en ongrondwetlik, want dit moet kragtens die Grondwet deur wetgewing geskied.

David Mahlobo, voormalige minister van staatsveiligheid. Foto: GCIS

Hy het aangevoer daar was nie genoegsame beheer wat verseker het dat regulasies, wette, voorskrifte en die Grondwet nagekom word nie.

Onwettige opdragte is gegee en uitgevoer, met “oneweredige” vervulling van hul oorsigrol deur “die parlement, die inspekteur-generaal, die minister en die direkteur-generaal, oor baie jare”, het Jafta getuig.

Hoe dit dikwels volgens Jafta gewerk het, was dat die gewone voorskot vir reis, verblyf en voedsel heeltemal misbruik is om byvoorbeeld R10 miljoen aan te vra – wat dan toegestaan is – en dit dan vir allerlei fiktiewe en onwettige projekte te gebruik.

Die geld is volgens hom dikwels nie soseer gebruik om die ANC te finansier nie, as om faksies in die ANC ten koste van ander faksies te finansier “deur byvoorbeeld in te boor in die integriteit van diegene wat nie aan ʼn spesifieke faksie behoort nie”.

Daar is veral kort voor verkiesings geld aangevra en toegestaan om die ANC se beeld te verbeter.

ʼn Spesifieke voorbeeld is toe die vakbond Amcu gewilder as die ANC-geaffilieerde Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) in die platinumgordel rondom Rustenburg geword het.

Die SSA het luidens getuienis ʼn ander vakbond gemanipuleer om gewilder as Amcu te word.

Jafta het ook getuienis van oudminister Sydney Mufamadi bevestig dat die nuusagentskap African News Agency deur die spioenasie-agentskappe “gemanipuleer” is. Mufamadi het gister getuig dat die SSA oor ʼn tydperk van agt maande R20 miljoen aan die African News Agency betaal het vir “dienste gelewer”.

“Omdat daar so min oorsig was, kon twee of drie ‘slegte mense’ op die regte plekke tot allerlei onwettige gedrag lei,” het Jafta gesê.

Hy het gesê die probleem is nie dat daar in die geheim gewerk word nie, maar dat die gebrekkige oorsig tot swak verantwoordbaarheid lei.

Die land se twee grootste opposisiepartye het woedend op die onthullings gereageer.

Die DA het gesê die SSA moet dadelik ontbind word.

Die EFF dring aan dat die name van alle betrokkenes dadelik bekendgemaak word. Die party gaan ook strafregtelike klagte indien teen die voormalige minister van staatsveiligheid, David Mahlobo.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kokerboom ·

Dis skrikwekkend!!! Wie gaan nou wie aan die pen laat ry???

Kokerboom ·

Dioe ANC is een massiewe tsoenami van verwoesting van SA

Misky ·

Wonderlik en dit beaam net wat ons almal altyd geweet het. Nou moet die poppe begin dans en hoop paar manne slaap sleg vanaand!!!

Mariana ·

Nou ja dit blyk nou dit is inderdaad tyd vir die ANC om die podium te verlaat en dalk net dalk kan ons ‘n verantwoordelike, eerlike regering kry. Maar by die stembus sal dit maar weer dieselfde wees. Regtig hulle moet gaan, genoeg skade aangerig.

Bertus ·

Gewetenlose skurke. Onbevoeg. Vraatsugtig. Manupilerend. Pleinweg bleddie kriminele!!!!

My siening ·

Dan is pre1994 kinder speletjies teen die mafia en Cyrel moes dit geweet het!

Gerd Lourens ·

En al wat ek vra, is waar was die afgestorwe ouditeur-generaal wie se lof so besing is? Het hy dan niks wys geword uit die ouditverslae nie???
DALK MOET ZONDO ‘n PAAR OG AMPTENARE ONDERVRA!!!

Pieter ·

David Mahlobo word ook betrek by renosterstropery soos in die bekroonde dokumenter Stroop uitgebeeld. Nog dadels van vervolging gekom en meer renosters word gestroop en ons praat net en beskerm die hoe bome. Steen des aanstoots. En as ek gelukkig is word hierdie kommentaar geplaas want in die verlede is my kommentaar oor die meneer met die badwater uitgegooi.

Wilma ·

Wat ek baie graag wil weet is wat gaan hulle doen om die geld terug te kry? Ek stel voor elke een wat skuldig is, moet verantwoordelik gehou word vir terug betaling. Dus vat al hulle goed, huise, karre, maak bank rekeninge leeg en enige ander bates. Dat hulle op straat sit om die geld terug te kry. Vir Zuma, kan hulle begin om sy maandelikse gelde as afgetreede/ uitgegooide president te stop, verkoop Nkandla ens. Jammer vir sy vroue en kinders. As my man bedrog gepleeg het dink hulle nie aan my en my kinders nie. Hy gaan tronk toe en ons verloor alles en moet maar sien kom klaar.

Renee ·

Skokkend nou verstaan ons waar kom die hebsug vandaan. Die land is verwoes en gaan nog meer verwoes word met huidiglike ANC. Hulle vernietig die land al jare.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.