Zondo eis tronkstraf vir Zuma

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Sandile Ndlovu/Pool)

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het Maandag ʼn dringende aansoek by die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika ingedien waarin die hof versoek word dat oudpres. Jacob Zuma skuldig bevind moet word aan minagting van die hof en dat hy tot twee jaar tronkstraf gevonnis moet word.

Zuma het op 15 Februarie ʼn bevel van die Konstitusionele Hof geïgnoreer toe hy versuim het om by ʼn sitting van die kommissie op te daag. Hy moes van 15 tot 19 Februarie voor die kommissie getuig het.

Zondo het versoek dat die aansoek as ʼn saak van dringendheid aangehoor word.

Die kommissie versoek ook dat die minister van polisie en die nasionale polisiekommissaris, onderskeidelik die tweede en derde respondente in die saak, opdrag gegee word om stappe te doen dat Zuma twee jaar tronkstraf opgelê word.

Daar word ook versoek dat Zuma die kostes van die aansoek moet betaal.

“Die doel van die aansoek is om ʼn hofbevel te bekom wat Zuma skuldig bevind aan minagting van die hof en dat hy tronkstraf opgelê word,” lui die hofdokumente. “Dit spruit uit sy moedswillige weiering om aan die hofbevel te voldoen [om voor die kommissie te verskyn].”

Volgens die aansoek hou Zuma se gedrag ʼn gevaar in vir die publiek se vertroue in en respek vir die gesag van die hof en die wet. “As ʼn voormalige president en leier van die Republiek, word daar van mnr. Zuma verwag om ʼn voorbeeld te stel deur sy woorde en gedrag. Hy het die posisie en invloed om dit te doen, omdat ander na hom opkyk as ʼn leier. Wanneer mnr. Zuma die integriteit en gesag van die hof ondermyn, is daar ʼn groot gevaar dat hy ander sal inspireer om dieselfde te doen en dat die wet sodoende verswak sal word.”

Die kommissie vereis ook ʼn bevel van direkte tronkstraf. “Indien die hof die tronkstraf sou opskort, op voorwaarde dat mnr. Zuma voor die kommissie sal getuig, sal die kommissie behoorlike logistieke reëlings moet tref. ʼn Spesiale reëling in dié verband sal getref moet word om mnr. Zuma se getuienis voor 31 Maart 2021 aan te hoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Francois Le Cochon ·

‘n Mens moet jou nie verlekker in ander mense nie, so ek sal maar nie. Die feit dat ek nou twee biere gaan drink, het niks met Zondo se versoek te doen nie.

Wielspore ·

Goeie antwoord, jy wil nie dalk tot die politiek toetree?

Rentia ·

Met alle respek…. ek sal dit glo as ek dit sien. JZ sal nie ‘n maand agter tralies wees nie (terwyl hy soos ‘n koning lewe) dan sal hy OF parool kry vir “goeie gedrag” of hy sal een of ander vreeslike siekte ontwikkel, “by die dood omdraai” mediese parool kry en dadelik genees sodra hy uit is – nes sy pel Shabir…

Gert K ·

JZ sal in sy lewe nie weer die tronk sien nie. Hy weet te veel van almal wat hom daar sal uithou se geraamtes in die kas.

Jedi Knight ·

Ek is okay met faksie geweld. As dit is wat nodig is om die ANC op te breek, so be it. Maar ek twyfel of selfs faksie geweld die ANC sal laat split. So eintlik gaan daar net mooi niks gebeur nie. Zondo gaan sy finale verslag uitreik sonder Zuma se getuienis.

Corne123 ·

ag asb tog die saps minister gaan kuier by hom sal nooit gebeur nie

Persheks Adri ·

Asof hoed hom sal toe sluit pffft dít wil ek sien!

Wielspore ·

Zuma is op die punt om sy mag saam sy mede kaders binne die ANC te verloor en soos ons almal weet gaan dit gepaard met baie geraas en dreigemente. Na my mening is dit ‘n dom astrand houding wat hy in neem en glo dat hy binnekort ‘n dure les gaan leer.

marius ·

Hierdie spul het geen idee wat se steun hy onder die magstigste etniese groep het nie . Hulle skilde en assegaaie word geslyp . Glo dit maar .

LANA is ELANè ·

Rerig? Daar gaan niks van kom nie, JZ is voëlvry verklaar deur die ANC, daar is net te veel op die spel vir al die ander korrupte lede in die ANC wat nogsteeds in gesagsposisies is.

Misky ·

Wat is die sin daarin om hom trontstraf op te lê, maar dit word opgeskort? M.a.w. hy kom niks oor nie….. soos Francois sê, ek wil my nie verlekker in ander se smart nie, maar heng, die man wil ek graag sien ondergaan

Michael ·

Zonda het klaar die antwoord gegee van wat Kon hof gaan doen. Hy werk saam hulle. Hulle gaan verklaring uitreik dat Zuma gaan verskyn voor Zondo dus is sy straf ‘n opgeskorte vonnis. Zondo berei almal ook voor dat Zuma se verskyning eers later sal wees weens logistieke redes kamtig en dan waarskynlik nooit. Hy is maar net so kop in een mus met ANC

Sandra ·

Sal dit eers glo wanneer ek dit sien. Die man is gladder as ‘n paling. Hy sal seker weer siek spel.

Heinrich ·

Alles hang nou weer af van uit watter hoek mens hierdie oefening sien. As ek kyk na regter Zondo se kommentaar dat “die integriteit en gesag van die hof ondermyn, is daar ʼn groot gevaar dat hy ander sal inspireer om dieselfde te doen en dat die wet sodoende verswak sal word”, wil ek net sê ons is reeds een van die mees gevaarlikste en mees korrupte lande in die wêreld; dis bietjie laat vir daai bekommernis!
En Zuma, as hy moes kies tussen (tot) twee jaar (tien teen een huis-arres) omdat hy nie verskyn nie of baie langer indien hy verskyn (indien die ander klomp hom nie uithaal omdat hy hulle almal verder sal inkrimineer nie) dan is daar nie veel van ‘n keuse nie.

Dries ·

Moet asb nie opgewonde raak nie. Ek glo nie hy sal tronkstaf kry vir “Minagting vd hof ” nie. Seker net Boete of Opgeskorte Vonnis. En steeds geen inligting sal uitkom wat tot verdere skandale in die ANC kan lei nie.

Noels244 ·

Ou Zoomie gaan seker nou binnekort met een of ander dodelike siekte gediagnoseer word om so sy bas te red

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.