Zondo gaan voort, met of sonder Zuma

Oudpres. Jacob Zuma tydens ‘n vorige verskyning by die Zondo-kommissie. (Foto: AP)

Adjunkhoofregter Raymond Zondo sê die kommissie wat staatskaping ondersoek gaan voort, met of sonder ʼn verskyning deur oudpres. Jacob Zuma óf lede van die omstrede Gupta-familie wat sentraal in die staatskapingskandaal staan.

“Of die kommissie nou hoor van oudpres. Zuma of die Gupta-familielede wat genoem word in getuienis van getuies wat voor hom verskyn het of nie, die kommissie gaan voort en sal sy werk afhandel sónder hulle insette,” het Zondo Donderdag gesê.

Zondo het gister meer besonderhede bekend gemaak oor die kommissie se aansoek in die hooggeregshof dat sy werksaamhede verleng word.

Die huidige verhoor eindig einde volgende maand en die kommissie se aansoek om sy werk te verleng word na verwagting op 11 Februarie in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Zondo het ook gesê die spertyd om die aansoek teen te staan het reeds verstryk en sover sy kennis strek is nie ʼn enkele beswaar ontvang nie.

Indien die kommissie se aansoek toegestaan word, gaan hy voort om getuienis tot die einde van die jaar aan te hoor. Indien die aansoek nié toegestaan word, gaan die kommissie egter nie bevindings kan maak nie.

Wanneer Zondo se bevindings aan pres. Cyril Ramaphosa voorgelê word, moet die president besluit of die volledige verslag bekend gemaak word en of ʼn geredigeerde weergawe aan die publiek beskikbaar gestel word.

Zondo het gesê die geloofwaardigheid van die kommissie is onaangetas en die reg- en ondersoekspanne werk geweldig hard. “Hulle is nie perfek nie, niemand is perfek nie. Ek is nie perfek nie, maar hulle is geweldig toegewyd.”

Die regter wou nie uitwei oor sy siening van die redes wat Zuma aanvoer waarom hy steeds nie beskikbaar is om te getuig nie en ook nie oor Zuma se beswaar oor ʼn onlangse aansoek om hom te dwing om te verskyn nie.

“Dit sou belangrik vir die kommissie wees om die inligting te kry wat hy het, maar as hy uiteindelik nie verskyn nie, gaan die kommissie sy werk afhandel op grond van wat ander getuies gesê het.”

Die minister van justisie, Ronald Lamola, het verlede jaar gesê planne word gemaak om die Gupta-broers na Suid-Afrika te bring.

“Van die kommissie se kant sal ons kyk wat gedoen kan word as dit nie gebeur nie,” het Zondo gesê.

Die kommissie van ondersoek is in 2018 op die been gebring en sy werksaamhede sou aanvanklik ses maande lank duur – soos aanbeveel deur die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela. Zondo het daarna aansoek suksesvol gevra dat dit met nog ʼn jaar verleng word.

Sedert openbare verhore in Augustus 2018 begin het, het Zondo se siening van die werk wat sy span moet doen, beduidend verander. Die getuienis van meer as 150 mense is aangehoor en meer as 27 000 bladsye transkripsies is ingedien.

“Korrupsie is diepgewortel in ons samelewing,” het hy gesê. “Daar is baie korrupsie – selfs dít wat die kommissie reeds gesien het, is net die oortjies van die seekoei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

SjN ·

Reeds 2 jaar en nog geen vervolging en skuldiges wat gestraf is nie, net nog n ondersoek.

Frm ·

So weereens n kommisie wat net feld gekos het en geen bevinding kan maak nie. Hahaha

PJ ·

Mense, wat is so moeilik? Die mense is skuldig. Vervolg hulle en sluit hulle toe. Zuma en sy trawante hoort after tralies!

Ja swaer ·

Zondo hou dus nou vir Ramaphosa gyselaar. Verleng my tydperk dat ek nog meer geld kan maak, of ek gee ‘n vrot verslag en maak geen bevindings. Ek wonder hoieveel vd R356 miljoen wat hierdie kommissie al kos, het in Zondo en sy getuienisleiers se sakke beland. Ramaphosa moet hierdie ding nou stopsit want Zondo wil onbeskaamd dit vir nog ‘n paar jaar uitrek. Ek sien maklik R600 of R700 miljoen wink hier. En wie gaan aangekla word? Nie die groot kokkedore nie. Zuma maak of hy siek is en die Guptas het weggehol. Mens kan sien dat die kommissie nou op ‘n groot visvang ekspidisie wil gaan om soveel as moontlik daaruit te verdien. Hy wil nou skielik op die einde sy verwysingsraamwerk verander. Dis nonsens, hierdie het sy doel gedoen – dit word nou een reuse geld mors oefening. Ramaphosa behoort sy begroting te beperk tot R400 miljoen en vir hom se dis al en basta

Kas ·

Die kommisie kan niemand vervolg nie.Na die bevingings klaar gemaak is kan die kommisie aanbeveel wie moet vervolg word.As zumpie nie getuig nie sal die kommisie die getuies teen hom aanvaar as juis en sal hy vervolg word.

Mb ·

Net die oortjies van die seekoei? Aarde, hoe vet is die seekoei nie nou al nie!!!

Domvraag ·

Hierdie is ook n kommissie wat net nie tot n einde kom nie..Kos glo al R365m. Nou vra mens wat kos ongeveer R1miljoen per dag?

Christo ·

Die EEN wat eintlik opgesluit moet word, is nou skielik te siek om voor die kommissie te verskyn………

Griki ·

Gee Zondo tyd om sy werk behoorlik doen. Ons land is nie oornag gesink nie en die probleme gaan nie oornag opgelos word nie – en as die Zondo-kommissie nie die ondersoek behoorlik uitvoer nie, gaan die probleme gladnie opgelos word nie en gaan niemand te boek gebring word nie. Sover lyk dit vir my of regter Zondo sy bes doen om staatskaping ordentlik te ondersoek.

Marius ·

Hulle dink as hulle nie getuig kan hulle nie toegesluit word.Hierdie is net die ondersoek hulle sal bymekaar gemaak word as die verhoor in hooggeregshof voortgaan.Kom ons kyk of hulle dan nie opdaag (lasbrief hier kom ons)

Feite ·

Die ANC was nog altyd daarvoor bekend om vertragingstaktiek in te span ten einde vervolging te laat verjaar. Indien vervolging wel plaasvind is dit so afgewater en is oortreders se verdediging so goed voorberei dat dit haas onmoontlik is om oortreders skuldig te bevind. Daar is absoluut geen rede hoegenaamd, hoekom ondersoeke en vervolging nie reeds kon plaasvind teen diegene vir wie daar reeds onteenseglike bewyse van korrupsie is! CR, Zondo en die staatskapers is almal deel van die ANC, hulle staan ideologies aan die linkse kant van die draad, hulle vreet almal uit dieselfde trog. Opposisiepartye wees dus gewaarsku dat staatskaping en die herstel van die skade van staatskaping julle reeds mislei het en julle met die broeke om die enkels gevang het. Op hierdie trant le daar n paar groter skokke voor gedurende 2020. Vir die ANC, CR en Zondo ingesluit, is dit n kwessie van “all or nothing”!

LMGA ·

en so gaan zuma (voort) vort en kom niks oor nie, met die nagenoeg 700,000 bladsy van zondo
LMGA

KP ·

Nog n jaar verleng, dan nog n jaar, dan nog n jaar, en so skep Zondo anders kan hy nie n verslag uitreik nie. Het hy nie sopas SA se regstelsel gekaap nie?

EKKE ·

Ek stem saam met Christo. Zuma het ‘n Shabir Schaik siekte.

Leon ·

Die kans is groter dat SAL, EKSDOM, Denel, SABS winsgewend sal word, as dat daar ooit iets van die Zondo komedie gaan kom. Onthou, na die bevinding moet daar eers aanklagte kom, wat deur iemand beveel word. Dan word die mense aangekla, en dan eers word daar verhore en vertragings gehou. Ek hoop net die mense word almal 148 jaar oud, sodat die sake tot ‘n einde sal kom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.