Zondo hoor Magashule het regbank in sy sak gehad

Mxolisi Dukwana by die kommissie wat staatskaping moet ondersoek. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, se netwerk van patronaatskap het gestrek tot by die provinsie se polisie en die regbank is sedertdien geweldig blootgestel, het die kommissie wat staatskaping ondersoek Dinsdag gehoor.

Die voormalige LUR vir ekonomiese ontwikkeling, Mxolisi Dukwana, beweer Magashule het groot skade in die Vrystaat aangerig – met geen negatiewe gevolge vir hom nie.

Hy het gesê hoewel Magashule nou in die ANC se hoofkantoor, Luthuli-huis, ontplooi is nadat hy in 2017 as sekretaris-generaal verkies is, is sy bestuurstyl, asook die stelsel van patronaatskap wat hy geïmplementeer het vandag nog in die provinsiale regering te sien is.

“ʼn Stelsel van patronaatskap en vrees het in die Vrystaat tot stand gekom. Talle strukture is blootgestel … die polisie, asook die regbank. Baie [mense] was nie verbaas om te hoor dat hy sy lastersaak teen die ATM [African Transformation Movement] na die hooggeregshof in Bloemfontein neem nie. Magashule weet hy sal nie ʼn saak in Bloemfontein verloor nie,” het Dukwana gesê.

“Mense weet dit. Daar gaan ʼn uitspraak in sy guns wees. Ons het dit al gesien gebeur. Mense sal jou doodgelukkig meedeel dat as jy ʼn saak het, jy dit na die Vrystaat moet bring en dat dit daar doodgedruk sal word. Die regbank is aangetas. Sommige lede van die regbank doen sake met die regering en van hul gades werk vir die regering. Die stelsel strek veel verder as net hy. Tot jy nie die stelsel uitsorteer nie, is daar niks wat jy kan doen nie.”

Adjunk-hoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het sy kommer gelug oor bewerings dat die regbank aangetas is.

“Ek kan verkeerd wees, maar ek weet nie of ek iets soortgelyks gelees of gehoor het nie. Ek was saam met kollegas in die Konstitusionele Hof wat ʼn saak oor die [ANC se] Mangaung-konferensie in 2012 aangehoor het. Die saak het vantevore in die hooggeregshof in Bloemfontein begin,” het Zondo gesê.

“Ek onthou daar was ʼn verklaring waarin kommer uitgespreek is oor die kwessies wat jy nou opper. Ek wil hê jy en diegene wat ongemaklik is [oor die regstelsel] moet na vore kom en dit aan die kommissie vertel. Van alle afdelings van die staat is die regstelsel die een stelsel waarmee mense gemaklik moet wees. ʼn Mens sal wil vasstel of die vrese op feite berus.”

Dukwana het gesê hy glo talle mense sou dit wou doen.

Dié voormalige LUR en provinsiale ANC-komiteelid gaan na verwagting ook uitbrei oor Magashule se verhouding met die voortvlugtige Guptas en hoe die familie toegelaat is om Vrystaatse hulpbronne te plunder terwyl Magashule die premier van die provinsie was.

Dukwana het verlede jaar onthul dat die Guptas hom ʼn maandelikse bedrag van R2 miljoen aangebied het om ʼn kontrak vir die bou van ʼn nuwe ontwikkeling by die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit goed te keur. Die projek sou tot tien jaar neem om afgehandel te word, maar het sedertdien in die hek geduik. Dukwana het gesê hy het die aanbod van die hand gewys.

Dukwana het aan die kommissie gesê hy ken Magashule reeds jare lank en dat hulle selfs voor 1994 nabye kamerade was. Hy het gesê die takke het in die vroeë 1990’s besluit dat ʼn ANC-voorsitter in die provinsie die premier moet word. Oudpresidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki het gekies om Magashule nié as premier aan te stel nie, wat beteken het ANC-lede het laer om hom getrek en Magashule om elke hoek en draai probeer verdedig.

“Ons het hom verdedig en beskerm. Hy is eers in 2009 [deur oudpres. Jacob Zuma] as premier aangestel. Ek het hom [Magashule] gevra of dit nie tyd is om Vrystaatse politiek te ontgroei en nasionaal te gaan nie. In daardie stadium was daar kommer dat die Vrystaat nie tot die nasionale politiek kon bydra nie, behalwe vir Fikile Mbalula wat uit die jeugliga uitgestyg het. Op daar punt het hy gevoel ek probeer hom ontsetel sodat ek kon oorneem, maar hy was verkeerd.”

Hy het getuig hoewel daar tekens van probleme was, is dit tot nadeel van die Vrystaat se inwoners geïgnoreer.

“Daar wás tekens, maar ons het hom steeds beskerm. Dit het ontwikkel tot ʼn kultus in die Vrystaat. As ons dit destyds in die kiem gesmoor het, was ons vandag moontlik nie hier nie, voorsitter.

“Ons versuim om dit te hanteer het ʼn groot probleem geskep en dit is waarskynlik wat my aangespoor het om nie dieselfde fout weer te maak nie. Ek gaan nie weer stilbly as dinge skeefloop nie. Ons het die mense van die Vrystaat in die steek gelaat en nie opgetree toe ons moes nie.”

Dukwana sit sy getuienis môre voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Wydkyk ·

Verbaas my nie.Kyk net die honderde RDP huise wat in Bethlehem gebou is en steeds sonder water of elektrisiteit sit.

MJ ·

En nou sit ons met die vrot spul. Dit gaan ‘n ontsettende poging vat om uit hierdie gat te kom. As dit ooit enigsins moontlik is. Wag maar my maat… daar is een regbank waar by jy nie verby gaan kan seil nie.

Jan Alleman ·

“Die vrot spul” was voorspelbaar. Die toekomstige uitkoms van SA is STEEDS voorspelbaar. Die mens se kapasiteit om feite in die oë te kyk en bloot te ignoreer is ongelooflik.

Sarel ·

Nog altyd geweet maar hy het gebleik onaantasbaar te wees. Hierdie Zumalie sal nie rus voor hy by Ramaphosa kan oorneem nie

humor ·

Sien uit na die verdere uitsprake more. Gewis is dit hoogtyd dat hierdie vername kader van zuma aan die pen moet ry. Sy en die OB se teenwoordigheid is n erge blok aan die voet van die regering.

Ruiklont ·

Dankie tog vir nog een wat bereid is om na vore te kom en die waarheid ontbloot . Wel gedaan ,mag dit nog oorreed om die waatheid te praat

Snuffels ·

Vat jou goed en trek Fereira, vat jou goed en trek! As jy jonk genoeg is, kom nou uit die land! Regtig, mens probeer positief bly, maar dis hopeloos!

MT ·

Maroela Media, die regter het sy kommer gelig(raised)……nie gelug(voiced) nie…? Vra maar net?

wilma ·

@MT – kommer “gelug” is volgens die HAT die korrekte gebruik van die woord.

Nel ·

In Afr. lug jy jou bedenkinge/kommer ens. en jy lig iemand in.

Robert ·

MT: raadpleeg jou woordeboek dan praat ons weer. “aired his concern” = kommer gelug

Sune van Heerden ·

Dagsê MT

Dit moet inderdaad “gelug” wees, die teks in die artikel is dus korrek.
“Gelug”: laat blyk; te kenne gee: Hy het sy mening openlik gelug.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

aj ·

Zondo is daar om die ‘bieg en vergewe’ kommissie te lei waarna GEEN VERVOLGING ingestel sal word nie. …. om die ANC kaders te beskerm TEEN vervolging. Net soos Seriti! … en.al die ander ANC KOMMISSIES!

Cherokee ·

humor en ander wat staatmaak daarop, wat dink julle gaan spruit uit al die rillers wat vertel word by die kommissie? Zuma het besluit hy praat sy eie bek te maklik verby en gaan nie verder getuig nie. Hy is laat gaan. Die kommissie kan niemand skuldig bevind nie. Nog geen aanduiding is gegee wat gedoen gaan word met die inligting wat nou rugbaar word nie.

JR ·

Wat help dit Ons weet lankal Ace Magashule word verdink van koripsie en tog is hy weer verkies deur Ramaphosa nou hoe moet ons so n president vertrou

Nel ·

Jy kan nie – sommiges is meer uitgeslape en lei mense makliker om die bos met mooi en gekultiveerde woordjies en ‘n glimlag.

Vryheid ·

Ace was al lankal uitgewys as korrup, die anc se netwerk van korrupte brothers strek tot diep binne hulle ” core” . Jy kan die verwoesting en agteruitgang elk dag rondom jou sien.

Tinus Coetzee ·

Dukwana moet oppas, mense wat te veel praat kry noodlottige motor ongelukke.
Magashule se tentakels strek baie vêr.

Von ·

Here ek bid vir U magtige beskerming vir die mense wat die bose kringloop van korrupsie en plundering moet oop krap en ondersoek…U Naam ter ere…..

Tanya ·

Dit is net HARTSEER om te sien waarheen ons land oppad is. DDK wat het jy gedink wat gaan word van ons land. Alles is verkeert alles

Stiks ·

Nou te laat ouboet. Skade is reeds gedoen. Vryheid en versoening was nooit op die tafel nie. Eerder vergrype, plundery en selfverryking. Tronk toe met mnr Ace!

david ·

So vicy momberg is vry. so ook die 2 doodskis ouns. selfs die “boermag” ouns ook. Die hele spul is een groot bedrog.

Alida ·

Dit is tyd dat hierdie skuldiges nou aangekla en gevonnis word. Hulle hou ons vir die gek.

Willie ·

Talk is cheep, money busy the Whiskey. Kom ons kyk of hulle kaders aan die pen gaan ry..

Robert ·

Dit is te lekker saam met die kaders. Die ANC het hulle nog nooit by die etiese geskaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.