Zondo hoor oor magstryd by Prasa

Popo Molefe, die voorsitter van Transnet, en ‘n voormalige voorsitter van die Prasa-raad, getuig by die Zondo-kommissie van ondersoek. (Foto: Nhlanhla Phillips/ANA)

Die voormalige voorsitter van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), Popo Molefe, het aan die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek gesê sy termyn by die beleërde diens was ʼn deurlopende toutrekkery met Prasa se uitvoerende hoof, Lucky Montana.

Molefe, tans die voorsitter van Transnet, het aan die kommissie gesê daar was uit die staanspoor konflik nadat die nuwe raad in Augustus 2014 gevra het vir besonderhede van kontrakte wat Prasa aangegaan het.

Volgens hom het Montana onderneem om die raad van al die getekende kontrakte te voorsien, maar hy het dit nooit gedoen nie. Die raad het veral belanggestel in ʼn reusekontrak van R51 miljard om nuwe treine aan te koop, het IOL berig.

Omdat Montana nie met die dokumente vorendag gekom het nie, het die raad die regsfirma wat die kontrak help opstel het, daarvoor gevra. Montana was glo allermins in sy noppies oor dié omseiling.

“Hy [Montana] het later gesê hy is nie geraadpleeg toe die nuwe raad aangestel is nie.”

Molefe het gesê die raad was ook bekommerd oor ʼn vlymende ouditverslag wat Prasa vir die 2014-’15-boekjaar van die ouditeur-generaal ontvang het. Daarin word onreëlmatige besteding van ʼn halfmiljard rand uitgewys, wat in die volgende boekjaar boonop tot R8 miljard toegeneem het.

(Foto: Untu)

Molefe het gesê die raad het daarna die instelling se risiko- en ouditkomitee gevra om die ware stand van Prasa se finansiële welstand te ondersoek en aan te dui waar ingryping nodig is.

“Die risikodepartement het bevind al die departemente, maar veral die finansiële afdeling, was wanfunksioneel en dat diegene in dié departement nie oor die nodige vaardighede beskik nie,” het Molefe getuig.

“Hulle het ook benadruk dat daar geen beheermaatreëls by die instelling is nie. Hulle het gesê daar is groot fout by die organisasie en dat groot werk gedoen sal moet word om dit reg te ruk.”

Montana is in Maart 2015 onder ʼn wolk van omstredenheid by Prasa weg. Die Openbare Beskermer (OB) het bevind dat Prasa én Montana verkrygingsbepalings verontagsaam het. Hy is in die OB se verslag van wanbestuur beskuldig, asook van onreëlmatige en verkwistende besteding.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het in Desember verlede jaar Prasa se raad ontbind en ʼn administrateur aangestel in ʼn poging om bestendigheid by die organisasie te verseker. Weens jarelange korrupsie is Prasa in dié stadium op die rand van algehele ineenstorting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Neewat, korrupsie het maar net ñ lekker verskoning geraak, daar is baie waarheid in maar moenie nalaat om die jare lange onbevoegde aanstelling te onderskat nie. Lui en min verantwoordelikheidsin.

Jan ·

Dit het noual in 2015 aan die lig gekom. En wat gebeur? Wanneer word Montana aangekla?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.