Zondo-kommissie: Erg persoonlike vrae vir SAL-werkers moet ‘korrupsie bekamp’

Nokunqoba Dlamini, verbonde aan die Staatsveiligheidsagentskap, het die agtergrondtoetse by die SAL voor die Zondo-kommissie verdedig. (Skermgreep)

Die kommissie van ondersoek na staatskaping het Woensdag gehoor hoe die voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Dudu Myeni, beveel het dat meer as 100 uitvoerende bestuurders ondervra word – glo om korrupsie te bekamp, het Corruption Watch gesê.

Nokunqoba Dlamini, verbonde aan die Staatsveiligheidsagentskap wat die agtergrondinsameling namens die SAL bestuur het, het egter die proses verdedig.

Myeni het in 2015 gevra dat die destydse minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, help met die proses. Hy het daarna onderneem om amptenare van die agentskap te onplooi om die meer as 118 SAL-werkers se agtergrond na te gaan.

“In ʼn brief gedateer 13 Oktober 2015 het Mahlobo sy voorneme om dieselfde proses by alle staatsbeheerde instellings uit te voer aan sy destydse eweknie by finansies, Nhlanhla Nene, bekendgemaak,” voer Corruption Watch aan.

Dlamini het aan die kommissie gesê sy het die omvang van die projek, op uitnodiging van Myeni, in Januarie 2016 aan al die bestuurders voorgelê en niemand het enige aanduiding gegee dat hulle ongelukkig met die proses was nie.

Toe adv. Kate Hofmeyr, getuienisleier, haar uitgevra het oor die bedanking van sewe bestuurders weens hul ongelukkigheid met die proses, het Dlamini gesê niemand het haar ooit daaroor ingelig nie.

Sy het gesê die uitvoerende groephoof in daardie stadium, Musa Zwane, moes die agentskap “van die voortgesette ongelukkigheid daaroor ingelig het”.

“Hofmeyr het bekend gemaak daar is bevind dat een bestuurder wat die proses ondergaan het, hoof van finansiële rekeningkunde Lindsay Olitzski, dubbele burgerskap het.

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. (Foto: ANA)

“Die getuienisleier het Dlamini gevra as die proses veronderstel was om die SAL op te ruim, waarom Olitzski steeds in diens gebly het. Dlamini het geantwoord deur te sê dat Olitzki nie aan die Staatsveiligheidsagentskap verslag doen nie, en dat sy dus nie sou weet waarom sy nie ontslaan is nie.”

Olitzski se naam is aanvanklik geopper toe die destydse hoof van finansies by SAL, Phumeza Nhantsi, in Junie verlede jaar voor die kommissie verskyn het. Nhantsi het gesê Myeni het haar gevra om Olitzki af te dank, maar dat Zwane haar ontslag uitgestel het tot die agtergrondtoetse afgehandel is. Olitzski is nié afgedank nie.

Olitzski het ʼn verklaring by die kommissie ingedien, waarin sy voorbeelde gee van die vrae wat werkers tydens die agtergrondtoetse gevra is.

Hofmeyr wou weet hoe die onderhoude, waartydens hoogs persoonlike vrae gevra is, enigsins help om korrupsie te bekamp.

“Sommige vrae het gehandel oor werkers se kinderlewe en of alle kinders tuis dieselfde behandeling gekry het, asook of daar in enige stadium enige familielede was wat aan ʼn verslawing gely het.

“Werkers is gevra of hulle geneig is om te dobbel, en of hulle dieselfde gade sou kies as hulle op hul lewenspad kon teruggaan,” lui die verklaring.

Dlamini het saamgestem dat die vrae persoonlik was, maar voer aan die proses het ʼn rol gespeel in die SAL se R2 miljard-omkeerplan vir daardie jaar. Díe stelling het adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, geamuseer, maar hy het ook gesê die stelling is hoogs onwaarskynlik.

Toe Hofmeyr aan Dlamini sê dat uitvoerende hoofde ʼn eed van geheimhouding moes aflê – wat op die oog af niks doen om korrupsie te bekamp nie – het Dlamini volgehou dit was om te verseker dat korrupsie verminder word.

“Vir ons om daardie doelwit te bereik, moes ons enige ander kwessies uitlig – groot of klein – maar die hoofdoel is om te verseker dat korrupsie verminder word,” het Dlamini gesê.

Hofmeyr het uitgewys dat sommige bestuurders wat nié die agtergrondtoets geslaag het nie, tog steeds as werkers by die SAL aangebly het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

charmaine ·

En intussen gee die grootste skelm sulke opdragte. Hulle moes dalk by DUDU begin het om in haar kinderlewe rond te krap om te sien wie en wat sy is.

Leon ·

Sy het dit seker laat doen om seker te maak niemand praatmuit oor haar korrupsie en net lojales van haar bly agter.

marius ·

Onaantasbaar nes al die ander miljoene wat die land steeds plunder en zondo sal , kan en gaan niks daaraan doen nie . Alles een groot klug .

Kiewiet ·

Marius, ek stem saam, goeie genade, die eff en koruptes in die anc regeer die land . En die belasting betalers moet maar net opdok. As Zondo by nou nie genoeg bewyse het om die staats kapers, koruptes en meelopers te vervolg nie is hy ook nie werd om die amp te beklee wat hy nou doen nie.
Intussen Jan Publiek betaal, betaal, betaal.

Chris ·

Die dae van veiligheidsklarings, psigometriese en gesondheidstoetse is in die verre verlede. Dit is seker diskriminerend en teen menseregte indien met die stelsel sou voortgegaan word. Hoe meer dae hoe meer dinge. Een van die dae sal SAA seker liggaams en gesigsgestremde persone aanstel om met opleiding as vlieëniers te begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.