Zondo-kommissie: Guptas wil via videoskakel getuig

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Die Gupta-familie sal nie na Suid-Afrika reis om verdere “onbevoegdheid en magsmisbruik” deur die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te ervaar nie en verkies om via videoskakel aan die kommissie van ondersoek oor staatskaping deel te neem.

Só het Mike Hellens, die Guptas se regsverteenwoordiger, Donderdag aan die kommissie gesê. Hy het verwys na die Vrede-suiwelprojek wat in die Bloemfontein-landdroshof uitgestel is.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê dit blyk dat die familie vrees hulle sal in hegtenis geneem word sodra hulle in die land kom.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Zondo wou by Hellens weet, indien hy sou toelaat dat die Guptas via videoskakel getuig, hoe hy dit sou hanteer indien hulle sou weier om sekere vrae te beantwoord.

“Dit sal baie sleg vir hulle wees in terme van die kommissie se verwysing indien hulle bepaalde vrae weier. Jou afleiding om die waarheid na te streef, sal uit die neiging blyk om vrae te beantwoord,” het Hellens geantwoord.

Zondo het gesê dit blyk dat die omstrede familie net op hul eie voorwaardes wil deelneem. Hy het gesê die feit dat hulle vlugtelinge van geregtigheid is, is ʼn belangrike faktor in die bepaling of hy die aansoek moet toestaan of nie.

Hellens het gesê daar is geen bewyse dat daar ʼn lasbrief vir die inhegtenisneming van enige van die familielede is nie.

Die jongste verwikkelinge kom nadat die Gupta-familie en Duduzane Zuma, voormalige pres. Jacob Zuma se seun, aangedui het dat hulle die getuies wat in die verhore van die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping getuig, wil ondervra.

Genl.maj. Zinhle Mnonopi, geskorste hoof van die Valke se korrupsietaakspan, het intussen besluit om haar aansoek terug te trek om Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, te ondervra.

Mcebisi Jonas (Foto: Getrude Makhafola/ANA)

Vincent Sewela, Mnonopi se regsverteenwoordiger, het gesê slegs adv. Mandla Mtolo van die Valke, wat deur Vytjie Mentor se getuienis onder verdenking geplaas is, wil Jonas kruisondervra. Zondo het vir Sewela gesê om Mnonopi in kennis te stel dat sy steeds geroep kan word om te getuig.

Sewela het gesê Mtolo is in besit van opnames van sy ontmoetings met Mentor.

Jonas het getuig hy het ʼn oproep van die Valke ontvang nadat hy ʼn mediaverklaring uitgereik het met besonderhede oor sy ontmoeting met Ajay Gupta, Duduzane Zuma en Fana Hlongwane. Jonas het destyds beweer Ajay het hom omkoopgeld van R600 miljoen aangebied om bevordering tot minister van finansies te aanvaar en dan die omstrede familie se opdragte uit te voer.

Volgens Jonas was sy regsverteenwoordiger, Max Boqwana, saam met hom by die vergadering met genl.maj. Mnonopi van die Valke wat hom glo wou dwing om ʼn vals verklaring te onderteken.

Mnonopi het glo aan hom gesê die saak is ʼn “DA-kwessie”. “Sy het gesê ek wil nie aan die kant van die DA wees nie. Sy het gesê daar is geen saak nie en hulle sal die saak doodsmoor.”

Volgens Jonas wou Mnonopi glo hê dat hy die “verklaring” onderteken waarvolgens hy onderneem dat hy nie bewyse het vir sy bewerings nie, hy nie ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak het nie en nie bereid sou wees om dit in die toekoms te doen nie.

Mnonopi is ná Jonas se getuienis deur die Valke geskors.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henk ·

Vergeet dit. Die kriminele hoort in n agterstraatse tronk en ons soek ons geld wat hulle weggedra het terug. Dadelik!!!!

John ·

Jonas hoef nie etiese waardes te gehandhaaf het nie… maar hy het. Hoekom? En so is daar nog mense onder ons wat reg bo verkeerd kies. Tans is daar sittings wat misdade reeds gepleeg ondersoek en dan is daar ondersoeke rondom misdaad wat wettiglik gepleeg wil word. Hierdie suidelike landjie loop die wereld vooruit en ons moet kennis daarvan neem. Die Guptas is nie net in SA aktief nie maar regoor die wereld en sit selfs op die raad van CNN. Wie is die Guptas werklik? En ons dink ons probleme is amper verby.

Adam ·

Moenie dit toelaat Hulle kruip weg agter technologie Hulle moet ons mense in die oë kom kyk en hulle storie vertel

Leon ·

En weer maak hulle nes hulle wil, hulle is die kriminele maar SAL self bepaal wat sal gebeur. As jy geld het kan jy fisies met moord wegkom en dis wat met hulle gaan gebeur, korrupsie sal altyd koning kraai omdat ons in hierdie korrupte land nie n regering het wat aan geregtigheid glo nie. Geld is koning punt!

Leon ·

Dit maak my siek om te sien hoe mense met geld maak net wat hulle wil in ons land, kom ons wees nou eerlik, laat ons as middelklas burgers nou net n probleem kry met SARS of dalk iets so simpel soos n verkeers boete nie betaal nie, jy sal opgeskroef word, summier toegesluit word. Maar as jy geld het vertel jy sommer vir die gereg wat sal gebeur. Korrup korrup korrup!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.