Zondo-kommissie hervat met getuies van tesourie

Lungisa Fuzile. Foto: ANA

Die Zondo-kommissie na staatskaping word Maandag in Parktown, Johannesburg, hervat.

Die kommissie sal Maandag getuienis van amptenare van die tesourie aanhoor. Lungisa Fuzile, voormalige direkteur-generaal van die tesourie, sal na verwagting ook getuig.

Vytjie Mentor en Dennis Bloem het verlede week voor die kommissie getuig. Mentor, voormalige ANC-LP, het tydens haar getuienis die egtheid van verskeie dokumente wat by die kommissie ingedien is, bevraagteken.

Mentor is weer voor die Zondo-kommissie gedaag om duidelikheid te gee oor sekere aspekte in die getuienis wat sy verlede jaar voor die kommissie gelewer het. Sy is ook onder kruisondervraging geneem.

Mentor beweer sy is in 2010 by die Saxonwold-woning van die Gupta-broers die pos van minister van openbare ondernemings aangebied.

Die adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste by wie se huis daar glo veiligheidsopgraderings gedoen is deur Bosasa, het ook verlede week aangedui hy wil sy kant voor die Zondo-kommissie stel.

Thabang Makwetla het in ʼn mediaverklaring ten sterkste ontken dat hy onbehoorlik bevoordeel is deur Bosasa.

Volgens Makwetla is sy besluit om voor die kommissie te verskyn nie omdat hy deur getuies onder verdenking geplaas is nie, maar weens sy verbintenis om ʼn “beskeie bydrae te lewer ten einde die bedreiging van agteruitgang in ons nasionale transformasieprojek” te stuit.

Die kommissie het vroeër gehoor Bosasa het glo “BBP-begunstigdes” gehad, onder wie Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en ANC-voorsitter, wat glo R300 000 se veiligheidsopgraderings ontvang het. Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad, Linda Mti, ʼn voormalige kommissaris van gevangenisse, Vincent Smith, ANC-LP, en Desmond Nair, hooflanddros van Pretoria, was glo die ander begunstigdes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jean ·

Kommissies en komitees…en so gaan dit aan en die einde en gevolge sal ons nooit hoor nie…Alles en almal sal net in die niet verdwyn. Intussen kos dit ons miljoene rande…

Louise ·

Afrikaans vir ‘Statecapture’: nasionale transformasie projek?

Ben Potgieter ·

Niks gaan kom van hierdie sogenaamde Zondo kommissie.(Sirkus)Agrizi gaan as wit rassis gekruisig word en Vytjie Mentor as onbetroubare getuie.Tekens kan klaar tussen die lyne gelees word.

Filosoof ·

Siende dat feitlik die hele anc geimpliseer word, wat is die kanse om die PARTY voor die hof te sleep. Ons kan aansoek doen dat die BLF gederegistreer word, maar wat van ‘n hoogs korrupte anc?

Hendrik UAE ·

Dis verder belaglik dat ons wat WERK in die buiteland ook nou moet opdok vir die gemors wat die korrupte regering aanjaag. Ek sal nie omgee om te help bou aan SA nie maar die witman wat landuit is soos hulle wou gehad het, se geld is nou nodig om nog verder teen my volk te diskrimineer?Ek vra die regering niks so ek skuld hulle niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.