Zondo-kommissie hoor raadslede meng wél in by SAUK-besluite

Argieffoto

Die SAUK se uitvoerende hoof, Madoda Mxakwe, het aan die Zondo-kommissie wat bewerings van staatskaping ondersoek, gesê sekere raadslede meng inderdaad in by die redaksionele besluite en bedryf van die openbare uitsaaier.

“Daar is beslis inmenging deur sekere raadslede … ons kan nie regtig so aangaan nie. Ek wil nie meer besonderhede gee nie, voorsitter, maar ek kan bevestig dat sekere raadslede ons werk bemoeilik met hulle inmenging. Ons het die kwessie met die raad opgeneem dat die manier waarop ons veronderstel is om ons werk te doen, gepootjie word deur dié lede. Dis werklik onhoudbaar,” het Mxakwe gesê.

Luidens berigte het Mxakwe, die uittredende operasionele hoof, Graig van Rooyen, asook die finansiële hoof, Yolande van Biljon, aan die raad geskryf en gekla oor die inmenging. Die Sunday Times het berig dat die drie gereageer het op ʼn brief aan die raadsvoorsitter, Bongumusa Makhathini, nadat hulle in Junie die eerste keer gekla het.

Die raad het gevra vir voorbeelde van inmenging, waarop die drie voorbeelde gegee van onder meer ʼn staatsbeheerde instelling wat ʼn e-pos aan ʼn programvervaardiger gestuur het en aangedring het op ʼn onderhoud met sy uitvoerende hoof – wat ook ʼn SAUK-raadslid is.

Hulle beweer ook die raadslede gebruik vergaderings om gratis kaartjies vir sekere geleenthede te eis en dat hulle voorgestel het dat ministers vrye toegang tot die SAUK kry in ruil vir “politieke myle”.

Mxakwe het getuig hoe die sukkelende uitsaaier nie sy diensverskaffers kan betaal nie en dat salarisse op ʼn maand-tot-maand-grondslag betaal word. ʼn Omkeerstrategie is in werking gestel en het die SAUK die afgelope boekjaar amper R1 miljard bespaar.

Die uitsaaier wag nog vir ʼn R3,2 miljard-reddingsboei van die regering.

Mxakwe het gesê hy moes uitvoerende hoofde wat wou bedank, oortuig om aan te bly.

“As ʼn leier kan jy net inspireer en tot op ʼn sekere vlak hoop gee … ek bereik nou ʼn punt waar ek weekliks kernlede van my span moet vra om nie te bedank nie weens die benarde situasie waarin ons is.

“Ek kan ook nie regtig hoop gee aan die SAUK se 5 000 werkers wat elke dag hoop dat iets goed gaan gebeur nie. Ons voel asof ons as die uitvoerende hoofde in die pad staan van die reddingsboei en ek weet nie wat hierna gaan volg nie. Die waarheid is dat ons nie op dié manier kan aangaan nie.

“In die belang van die SAUK gaan moeilike besluite geneem moet word.”

Zondo het gesê die situasie by die openbare uitsaaier wek diep kommer en dat drastiese ingryping nodig is.

“Ek kan in dié stadium net sê dat dit baie kommerwekkend. Ek is nie seker wat die kommissie kan doen nie, maar ek hoop die regte mense neem kennis van die getuienis en dat ingryping nodig is. Ek dink mense moet aangemoedig word om standpunt in te neem wanneer hulle glo dat hulle die regte ding doen. Ek hoop die regte ingryping vind plaas,” het adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, gesê.

Die SAUK is na jare van wanbestuur, die ignoreer van verkrygingsreëls, asook wanfunksionele rade en uitvoerende bestuur, tegnies bankrot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

GP ·

Bla bla bla. Niemand gaan vervolg word nie. Stop tog die kommisie en hou op geld mors.

Griet ·

MAAK . DIE . PLEK . TOE!!!
Hou op om belasting geld te mors op ‘n dooi perd!!!

JohanR ·

Tring tring, tring tring. Hello. Jacob Zuma is op die lyn! Spring, spring spring mense!

Johanp ·

Ek Wil net graag die vraag vra. Betaal almal wat Dstv en OVHD het hulle lisensie? Ek twyfel.

Cherokee ·

Dink jy werklik TV-lisensie gelde vorm ‘n noembare deel van die SAUK se inkomste? Het jy naastenby ‘n idee wat kos ‘n advertensie in ‘n duur tydgleuf per uitsending?

John ·

The pot calls the kettle black… hmm? Die hele kaboedel is ‘n bedorwe ‘ek’-menigte wat wil glo dat die heelal nie kan adem sonder die warboel wa-wa twak tussen boem-boem tromme nie. 5 000 mense wat, wat vir die ekonomie lewer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.