Zondo-kommissie: Korruptes se dae getel

Adjunkhoofregter Raymond Zondo (Foto: ANA)

Die staatskapingskommissie beplan om teen Augustus, of op die laatste teen September, sy verslag aan president Cyril Ramaphosa te oorhandig. Die kommissie het getuienis gehoor van miljarde rand wat op korrupte wyse uit staatsondernemings gemelk is. Die kommissie self kos die belastingbetaler reeds sowat R1 miljard.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het reeds aangedui dat omvattende getuienis gelewer is wat op kaping van die staat dui en die transkripsies van getuienis beslaan reeds meer as 71 000 bladsye.

Enige verslag wat die kommissie opstel, sal egter nie al die vrae beantwoord nie. Die rede daarvoor is dat Suid-Afrikaners nog nie volledige antwoorde van die Gupta-familie of voormalige president Jacob Zuma gekry het oor die bewerings wat met hulle betrokkenheid verband hou nie.

Enkele getuies sal nog mondeling voor die kommissie getuig, hoofsaaklik diegene wat deur ander getuies geïmpliseer is. President Cyril Ramaphosa sal na verwagting die laaste getuie wees. Sy getuienis, ʼn tweede verskyning, is vroeër uitgestel en die datum is nog nie vasgestel nie. Hy was Zuma se adjunk en daarom is dit belangrik vir hom om weer te getuig nadat sy eerste verskyning as president van die ANC was.

Die kommissie het gesê sy verrigtinge sal om en by 19 Julie hervat.

Die kommissie het onlangs sy fokus verskuif na die kruisondervraging van getuies deur diegene wat in hulle getuienis geïmpliseer is:

Angelo Agrizzi se kruisondervraging

Angelo Agrizzi, bedryfshoof van die omstrede Bosasa, was een van die kommissie se getuies wat heelwat media-aandag gekry het. Een van die name wat hy genoem het, was dié van Kevin Wakeford, bekende sakeman en destyds konsultant vir Bosasa.

Agrizzi het beweer dat Wakeford R100 000 per maand betaal is om ʼn ondersoek van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te beïnvloed. Hy het ook, volgens Agrizzi, ʼn rol gespeel om Bosasa se uiters winsgewende kontrak met die departement van binnelandse sake te heronderhandel.

Agrizzi, met suurstofpypies in sy neus na ʼn hartaanval vroeër, het op sy rekenaar van die huis af indringende vrae van Wakeford se regsverteenwoordiger, Reg Willies, beantwoord. Hy kon nie datums van vergaderings onthou nie en was self nie by die vergadering waar die besluit oor die R100 000 se maandelikse betaling geneem is nie. Willies het Agrizzi daarvan beskuldig dat sy getuienis ʼn versinsel is en hy maak nuwe “feite” op soos wat hy aangaan om vrae te beantwoord.

Agrizzi het waardevolle getuienis gelewer oor die verhouding tussen Bosasa en die ANC. Dit gaan wel interessant wees om te sien hoeveel skade kruisondervraging gedoen het aan Agrizzi se geloofwaardigheid as getuie.

Gigaba-egskeiding speel voor Zondo af

Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, binnelandse sake en openbare ondernemings, het meer probleme as net getuienis oor sy verhouding met die Guptas. Sy vervreemde vrou, Noma, het uit die slaapkamer voor die kommissie gaan getuig oor detail wat verband hou met sy voorliefde vir duur pakke, rykmansvakansies en ʼn kaalvideo-flater wat in die media beland het. In Gigaba se eie getuienis het hy daarop gesinspeel dat sy vrou eintlik ʼn sterker verhouding met die Guptas as hyself gehad het.

Mev. Gigaba moes ook skerp vrae beantwoord van Gigaba se regsverteenwoordiger, Richard Solomon. Hy het dit in kruisondervraging aan haar gestel dat daar vrae is oor ʼn graad wat sy kwansuis van Henley Business School verwerf het. Sy was nie lus om te antwoord nie en wou weet wat die relevansie van die vraag is. Regter Zondo het ingespring en haar daarop gewys dat dit haar geloofwaardigheid, al dan nie, kan beïnvloed. Die rede is dat haar man na haar verwys het as ʼn “patologiese leuenaar”.

Gigaba self het baie ure in die warm stoel by die kommissie deurgebring. Hy hou vol dat hy geen geld gekry het, nie naby aan die geld was nie, nie betrokke was by kontrakte nie. Die feit dat hierdie dinge gebeur het terwyl hy die minister was, is blote toeval, meen hy.

Spioene en die Guptas

Siyabonga Cwele, voormalige minister van staatsveiligheid en nou Suid-Afrika se ambassadeur in China, het ook weer voor die kommissie verskyn. Bewerings is gemaak dat hy opdrag gegee het dat die Staatsveiligheidsagentskap destyds ʼn ondersoek na die Guptas staak omdat dit kwansuis ʼn ondersoek sou wees na toe president Jacob Zuma. Cwele het dit voor die kommissie ontken.

Hy voer aan dat sy opdrag sou beteken voormalige intelligensiehoofde Mo Shaik, Gibson Njenje en Jeff Maqetuka het ʼn “onwettige instruksie” gehoorsaam. Daar is glo ook geen rekord van sodanige opdrag nie. Volgens Cwele het hy nie opdrag gegee dat ʼn ondersoek gestaak word nie, maar wel dat dit binne die nodige wetsvoorskrifte moet plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
petro

ek het baie respek vir Zondo gehad maar beslis nie meer nie is dit nie snaaks dat dit net wittes is wat in die tronk is nie maar die ander loop nog lekker vry los nou kan hulle solank hulle move beplan

Lesly

Ooh, hy gaan sy verslag aan CR oorhandig. Dit gaan beslis al die korrupsie misdadigers laat sidder. Lagwekkend as dit nie so duur was nie

Suzette

DIT wil ek eers SIEN.
In SA hang dit ook af van WIE TEL en HOE en WAT word getel. TEL is tans nie ‘n groot vaardigheid in die land nie. “Korruptes se dae is getel”……. dit kan oor 20 jaar eers wees…

Samuel

Wie is die korruptes? Wittes? CR sal lank lees aan daardie verslag en sal oor jare eers probeer aksie neem teen die misdadigers. Ons SP is magteloos, tandeloos en net té geslepe vir die witmense. Pffft

Grant

71 000 bladsye, basies maar ‘n opsomming van lekker gesels met maatjies. Wat gaan dit help. Daar is n groot verskil tussen hoor-se op papier sit en om ‘n strafregtelike klag voor te berei en deur te voer tot tronk straf. Baie van die verskyn heel waarskynlik in Jacques Pauw se boek in elkgeval.