Zondo-kommissie: Mentor bevraagteken egtheid van rekords

Vytjie Mentor. Foto: ANA

Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, het Dinsdag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping die egtheid bevraagteken van foonrekords wat deur Lakela Kaunda, ʼn vertroueling van oudpres. Jacob Zuma, ingedien is.

Mentor het vroeër voor die Zondo-kommissie getuig dat Kaunda haar gebel en na ʼn vergadering met Zuma genooi het nadat sy ’n vergadering oor die land se korrelbedreaktor versoek het. Mentor was toe die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings.

Mentor het na Johannesburg vir die vergadering gereis en by die Guptas se huis in Saxonwold geëindig waar sy beweer die pos van minister van openbare ondernemings vir haar aangebied is terwyl Zuma in die vertrek langsaan gesit het.

Kaunda het egter ontken dat sy Mentor gekontak het en het haar foonrekords by die kommissie ingedien. Henry Cowley, Kaunda se regsverteenwoordiger, het aan die kommissie gesê die beweerde kommunikasie tussen sy kliënt en Mentor het nooit plaasgevind nie, soos wat deur die selfoonrekord gewys word.

Mentor het egter volgehou dat sy en Kaunda op die foon gepraat het en selfs teksboodskappe uitgeruil het.

“’Ek kan nie getuig oor die egtheid van hierdie rekords nie, voorsitter. Dit is deur Kaunda verskaf en nie die diensverskaffer nie. Dieselfde diensverskaffer kon nie my eie rekords verskaf nadat ek die regspan gevra het om dit te bekom nie. Ek is meegedeel dat die diensverskaffer nie rekords vir langer as vyf jaar hou nie,” het sy gesê.

Mentor het Maandag ook rekords van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die departement van binnelandse sake bevraagteken.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het aan Mentor gesê dit kan aangevoer word dat sy probleme met alle rekords het en dat aan hom gevra kan word hoekom haar getuienis aanvaar moet word.

Mentor het geantwoord dat baie tyd al verloop het sedert sy die eerste keer die fluitjie geblaas het oor staatskaping en dat daar met rekord gepeuter kon word.

“Voorsitter, van die dokumente lyk nie amptelik nie. Van die rekords het nie amptelike briefhoofde nie en lyk of dit op ʼn rekenaar saamgestel is.”

Mentor se kruisondervraging het intussen Dinsdag tot ʼn einde gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna Botha ·

Ek sou ook want ons weet mos aan watse kant dudu se brood gebotter is ?

JohanL ·

Baie waarskynlik dat die rekords nie eg is nie en aan gepeuter is. Die skelms is tot enige iets in staat. Dink maar net aan wat al in die verlede probeer is om dinge toe te smeer. Vals fakture by sekere staatsinstellings soos beskyf in Jacques Pauw se boek. Nee wat, Zondo – jy moet die opsie dat Vytjie Mentor reg is, deeglik na kyk.

Joon ·

Ai vyftjie jy voel seker vir die wolwe gegooi, maar sterk staan. Was dit nie vir jou nie was daar nie n Zkndo kom nie. Dink aan Jo

Gemaskerde Sopbeen ·

Regering se ou taktiek………..as jy enige ding lank genoeg kan vertraag of uitstel, kan niemand meer onthou wat gebeur het nie…….en dan is jy los “op ‘n tegniese punt”!!

Sopbeen II ·

Ek stem saam, dit klink maar na ʼn dom regter wat nie verstaan dat as daar nie vir langer as 5 jaar rekords gehou is nie, is daar géén rekords moontlik nie en regsvereideling betrokke. Mens wonder of die allerhande ondersoek-kommissies net ʼn skyn is wat die waarhede dalk laat “uitkom”, maar geen planne (of magte) vir strafregtelike vervolging het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.