Zondo-kommissie stel ultimatum aan Vrystaatse regering

Adjunkhoofregter Raymond Zondo (Foto: ANA)

Mxolisi Dukwana, voormalige Vrystaatse LUR, se verskyning voor die Zondo-kommissie oor staatskaping is uitgestel tot April vanjaar weens dié provinsiale regering se onwilligheid om sekere inligting aan die kommissie te verskaf nadat adjunkhoofregter Raymond Zondo dié inligting ses maande gelede by die provinsiale premier aangevra het.

Smanga Sithini, Dukwana se prokureur, het vandeesweek by Zondo gepleit om premier Sisi Ntombela en haar amptenare aan te sê om saam te werk soos ooreengekom.

Die Vrystaatse regering is tot die einde van dié week gegee om die uitstaande inligting te oorhandig.

“Ons word beperk en kan nie die belangrike inligting wat die provinsie se regering belowe het, kry nie. Die inligting wat verkry kon word, is gedoen deur middel van ’n aansoek wat verlede jaar in Oktober aangehoor is. Behalwe daarvoor moes Dukwana deur sy e-posse gaan wat terugdateer so ver as 2011 om van die belangrike inligting te bekom. Inligting op sy amptelike selfoon, reisrekords en ander bly egter uitstaande,” het Sithini gesê.

Zondo het gesê hy het reeds in Oktober verlede jaar met Ntombela gepraat en gevra om te help met inligting vir Dukwana en aan die premier gesê dat die kommissie se ondersoekers en regspan ’n paar dae later gereed sou wees om na Bloemfontein te reis om Dukwana en sy prokureurs te help om die inligting wat hulle nodig het, te bekom.

“Ek het aan Ntombela gesê dat die reis die volgende Maandag of Dinsdag sou plaasvind. Ek het die Vrydag met haar gepraat. Sy het my verseker dat die provinsiale regering sal saamwerk en enige toegang tot dié inligting sal fasiliteer. Ek is verbaas dat Dukwana ses maande later nogsteeds niks van die provinsiale regering gekry het nie,” het Zondo gesê.

Dukwana is in die voormalige LUR vir ekonomiese ontwikkeling destyds onder die leierskap van voormalige premier Ace Magashule.

Hy het aangedui dat hy gereed was om voor die kommissie te getuig oor Magashule se verhouding met die Guptas en hoe dié familie glo Vrystaatse hulpbronne gesteel het. Magashule is nou sekretaris-generaal van die ANC.

Dukwana het verlede jaar aan City Press gesê dat die omstrede Gupta-familie hom ’n “maandelikse fooi” van R2 miljoen aangebied het om ’n kontrak vir ’n “New City” of “City of Tomorrow” te teken wat gebou sou word by die Lejweleputswa‑distriksmunisipaliteit. Dié projek sou na verwagting tien jaar neem om te voltooi, maar het nooit gerealiseer nie.

Dukwana het beweer hy het dié aanbod van die hand gewys. Magashule het hom in 2012 die trekpas gegee.

Dukwana het verder gesê die Guptas het hom in kennis gestel dat Magashule geen aandeel in die stadsooreenkoms sou hê nie aangesien hy verskeie ander regerings- en privaatsektorprojekte met die familie gehad het waaruit hy reeds voordeel getrek het.

Zondo het die kommissie se ondersoekbeamptes en regspan versoek om ’n datum met Ntombela se direkteur-generaal af te spreek om te verseker dat die uitstaande inligting teen die einde van hierdie week beskikbaar gestel sal word.

“As daar teen die einde van die dag nog geen vaste reëlings getref is nie, sal ek met die ondersoekbeamptes, die regspan, Dukwana en sy prokureur vergader om ’n volledige verslag te kry oor waarom daar nog geen reëlings getref is nie. Ek sal dan besluit wat om van daar af te doen.”

Dukwana se getuienis is tot 5 April uitgestel.

Die kommissie sal vandeesweek meer oor Bosasa hoor. Peet Venter, Bosasa se ouditeur, sal Dinsdag getuig, terwyl die datum van voormalige bedryfshoof Angelo Agrizzi se terugkeer voor die kommissie nog nie bevestig is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andreas ·

Nou is my vraag, hoe lank is die kommissie se termyn, vyf jaar? Kan hy vir twee termyne verkies word, drie?

Ek verbeel my erens hou die horison op, daar anderkant die reenboog se goudpot. Vir my is dit soos die lotto, ek kom nooit nader aan die einde nie.

Dries du Toit ·

Hoeveel mense moet nog getuig. Is daar waaragtig nog nie genoeg getuienis om n wavrag korruptes toe te sluit nie. Of soek hulle naarstigtelik na een getuie wat al die beskuldiges vry kan skeld

klip in die bos ·

Die kenmerke van ‘n mafiastaat word al duideliker?

Manie ·

En die redder van die volk sit met n klomp kriminele saam met hom. Ek het altyd gesê CR het moeilike vrae te maklik ontduik. Die party is soos ander saamgestel om kriminele te huisves.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.