Zondo-kommissie ‘suiweringsoomblik’ vir ANC

Pres. Cyril Ramaphosa het die kommissie ook as ‘n suiweringsoomblik vir die ANC bestempel. (Foto: Kim Ludbrook/AFP)

Die ANC is deur ʼn tydperk van selfondersoek en dit is deels die rede waarom die party besluit het om die stigting van ʼn kommissie van ondersoek na staatskaping te steun.

“Ons is deur ʼn tydperk van introspeksie.

“Daar was twyfel en selfs sprake daarvan dat die kommissie die ANC uitmekaar kan skeur. Ons was dapper genoeg, braaf genoeg om te sê hierdie is ʼn noodsaaklike proses waardeur ons as deel van ons hernuwingsproses moet gaan,” het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag aan die Zondo-kommissie na staatskaping gesê.

Ramaphosa sluit vanmiddag sy getuienis as president van die ANC af. Hy verskyn volgende maand weer voor die kommissie, dán in sy hoedanigheid as president van Suid-Afrika.

Ramaphosa sê die ANC kan vergelyk word met die legende van ʼn arend wat te oud word om na homself om te sien en dan na die hoogste punt van ʼn berg vlieg waar hy sy vere en kloue in ʼn pynlike proses uitpluk.

“Dit bloei, dit gaan deur pyn en lyding, maar nadat hy sy vere en kloue uitgepluk het, groei dit terug. Dit verrys met nuwe vere, nuwe kloue en sweef selfs hoër as tevore en vaar selfs beter,” het hy gesê.

“Hierdie kommissie was ʼn suiweringsoomblik vir die ANC.”

Ramaphosa het aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, gesê dit is ʼn moeilike tyd vir die ANC, maar dat die party homself moet vernuwe.

Ramaphosa sê daar was vrees, twyfel en teenstand, maar dat die ANC voor die kommissie is en die party nodig het om deur die proses te gaan.

Zondo het dit aan Ramaphosa gestel dat die ANC ʼn belangrike rol speel in waar die land hom bevind en ʼn beduiende uitwerking kan hê in die stryd teen korrupsie, mits die party kwessies takel wat moeilik is en hy dinge doen waarmee die party ongemaklik is.

Ramaphosa het met hom saamgestem dat dit belangrik is om dié dinge wat verander moet word, te pak.

Ramaphosa sê dit verg durf en dapperheid om voor die kommissie te getuig. Hy sê sommige mense het vrywillig gekom, ander moes met ʼn hofbevel gedwing word om te verskyn, maar dat dit nie maklik is om voor die kommissie te verskyn nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Die hele land is in lyding as gevolg van julle ANC parasiete.

Johann ·

Nee CEROL, jy en jou ANC is beslis nie arende nie. Aasvoëls ja, gulsige aasvoëls.

jzjz05 ·

Ons sal sien of dit lippe taal is en of die suiweringsproses n werlikheid gaan word,Ons sal in spaning wag en kyk of SEB en BEE nie weer gaan wen nie.

Dries ·

Die probleem is, jy kan die hele parlement wegjaag. Ons sit nogsteeds met duisende raadslede in provinsies en munisipaliteite wat rustig voortgaan met hulle plundery. Dan praat ons nie van Transnet, Prasa, SAL, Denel, SABC,ESCOM ens. ens nie

Persheks Adri ·

Kom ons kyk of het enige 1 van hulle die veranderinge gaan maak, maar ek twyfel sterk! Klomp patete en grootste ramp wat SA nog getref het pffft

Jack ·

Mnr u dans nou al rondom die punt. Presies wat n mens kan verwag as jyself nie n vinger verroer het om korrupsie hok te slaan nie. Dis nou te laat om om te draai.

Fran ·

….onthou net dis dieselfde verkleurmannetjie wat vir roelfie meyer onder die tafel in onderhandel het. Hulle lag nou nog lekker oor hoe maklik die onderhandelaars oorgegee het! Die DNA van die ANC is diep gewortel in die man. Hy is skelm soos zuma maar hy is net baie meer gesofistikeerd! Ek vetrou hom nie in die minste nie. Soos ‘n vorige persoon gemeld het, hulle gesels en maak grappies en lag te lekker. Hierdie kommissie is ‘n klug. Hoeveel van hierdie skuldiges wat genoem is gaan ooit aangekla word en in die tronk beland? Moenie jul asems ophou nie.

Sagvoet ·

Net soos die storie van die Arend wat self sy vere en kloue uittrek ‘n fabel is, net so is die vermoë van die ANC om te vernuwe wensdenkery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.