Zondo-kommissie: Talle vrae oor minister se aanstelling van Gupta-raadgewer

Des van Rooyen. (Argieffoto: GCIS)

Des van Rooyen, wat in 2015 vier dae lank Suid-Afrika se minister van finansies was, het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek getuig hy het Mohamed Bobat as sy spesiale raadgewer aangestel sonder dat hy eens sy CV onder oë gehad het.

Bobat was ook ʼn raadgewer vir die omstrede Gupta-familie.

Van Rooyen het getuig hy het Bobat in 2009 ontmoet toe dié hom in ʼn restaurant – terwyl Van Rooyen nog burgemeester van Merafong was – genader het. Volgens Van Rooyen het Bobat sy besigheidskaartjie aan hom gegee.

Van Rooyen het getuig hy het Bobat, volgens die oudminister ʼn belastingkenner, daarna enkele kere gekontak om hom met sy studies te help.

Nadat oudpres. Jacob Zuma hom in Desember 2015 ingelig het dat hy as minister van finansies aangestel word, het Van Rooyen dadelik besluit dat Bobat die geskikte persoon as spesiale raadgewer vir hom sou wees.

Bobat is na sy beëdigingseremonie genooi en daar het Van Rooyen hom die pos as raadgewer aangebied.

Adjunk-hoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, wou by Van Rooyen weet waarom, as hy nog nooit eens Bobat se CV onder oë gehad het nie, hy so seker was dat Bobat dié pos moes beklee. Zondo wou ook weet waarom Van Rooyen nie verskillende kandidate oorweeg het nie.

“Hoekom het jy jouself beperk tot een persoon van wie se agtergrond jy nie veel geweet het nie?”

Volgens Van Rooyen was hy uit die enkele gesprekke wat hy oor die jare met Bobat gehad het, oortuig van sy kwalifikasies en integriteit. Hy het getuig hy moes as nuwe minister van finansies dringend sekere aanstellings prioritiseer en dit het sy spesiale raadgewer en personeelhoof ingesluit.

Van Rooyen het getuig hy het Bobat rofweg uitgevra of daar enigiets is wat hom sou verhinder om die amp op te neem en dié het hom verseker dat daar nie sulke kwessies was nie.

“Dit is nie wat mens van ʼn minister in so ʼn belangrike posisie sou verwag nie,” het Zondo aan Van Rooyen gesê.

Ian Whitley, ook ʼn Gupta-raadgewer, sou as personeelhoof aangestel word.

Lungisa Fuzile, ʼn voormalige direkteur-generaal van die tesourie, het vroeër vandag getuig Van Rooyen het hom destyds ingelig dat Whitley en Bobat by die departement aangestel moet word.

Fuzile het sy bedenkinge oor die aanstellings gehad en onder meer daarop gewys dat die twee by die departement begin werk het voordat hulle werkskontrakte gehad het.

Die verrigtinge duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Whahahaha! Nee kyk, ou Van is een van DIE bestes as dit kom by so lieg dat dit eintlik snaaks is. En sy stories oor die eintlike rede vir staatskaping is……WHITE CAPITAL? Maar hy word deploy en reploy en ontplooi as n ANC ZUMAIKI.

Cornelius ·

Niks gaan ooit kom van die Zondo Kommisie se ondersoeke nie.

JohanR ·

2024 en nie een ANC is al ooit tronk toe vanuit die Zondo-kommissie. Kon net soevel daai geld gevat het, en vir elke hard werkende privaat sektor werknemer ‘n bonus gegee het. Wens daar was ‘n regter aangestel wat soe bietjie lewe en woema het.

LANA is ELANè ·

Wanneer kom hierdie “diep donker geldvretende belastingbetalers se geld vretende masjien” nou ook op ‘n einde???

Anoniem ·

Ai Ai Jai !!! Dit is mos oom Zumie se pêl! Verlos hom nou asb. uit sy elende!!!!!

Inkpot ·

Is dit nou nie net tipies nie?
Waar het jy al gehoor dat die ANC bevoegde mense aanstel?

Inkpot ·

My kleinseun is in Gr9.
Hy is briljant, sy gemiddeld vir wiskunde is 98% en Ekonomie 97%
Hulle kon hom die pos aangebied het vir ń ekstra sakgeldjie. Lol.
Ervaring en kwalifikasie tel tog nie regtig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.