Zondo-kommissie: Transnet-hoof getuig oor onreëlmatige kontrakte

Mohammed Mahomedy, Transnet se waarnemende uitvoerende hoof. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Mohammed Mahomedy, Transnet se waarnemende uitvoerende hoof, het voor die Zondo-kommissie van ondersoek getuig dat ʼn hersiening van dokumente deur Transnet se nuwe raad gewys het verskeie kontrakte wat die staatsbeheerde vragoperateur aangegaan het, was onregmatig.

Mahomedy was Transnet se waarnemende finansiële hoof voordat hy ʼn jaar gelede, te midde van bewerings van verskeie peperduur skandale waarby die instelling se voormalige uitvoerende hoofde betrek is, na sy huidige pos verskuif is.

Hy het aan die kommissie, onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo, gesê die raad het nie geweet Transnet was besig om verskeie transaksies aan te gaan nie en dat hulle in mediaberigte daarvan kennis geneem het.

Die transaksies is gedryf deur sogenaamde sleutelrolspelers wat voormalige raadslede van Transnet, asook uitvoerende hoofde en private maatskappye, insluit, maar “tot nadeel van Transnet se beste belange was”, het Mahomedy getuig.

Verskeie verkrygingsprosedures is verontagsaam, het hy gesê.

Een van die omstrede transaksies, die een waarby maatskappye met bande met die Gupta-familie betrek is, het gelei tot ʼn ooreenkoms met China South Rail om lokomotiewe ter waarde van R25 miljard te verskaf. China South Rail het glo omkoopgeld van miljarde rande betaal om te verseker hy kry die werk.

Nóg ʼn ooreenkoms wat Mahomedy as onreëlmatig uitgewys het, was Transnet se multi-miljard rand verkryging van 1 064 lokomotiewe.

Brian Molefe, ʼn vorige uitvoerende hoof van Transnet, het glo die gewone verkrygingsprosesse omseil en ʼn versoek vir die transaksie direk aan die raad voorgelê. Teen daardie tyd was die kontrak reeds aangegaan, het Mahomedy gesê.

Die konsultantefirma McKinsey & Company is aangestel om Transnet te adviseer oor die aankoop van die lokomotiewe, maar kon nie die vinnige sperdatum haal nie en het onttrek. Regiments Capital, destyds McKinsey se vennoot, het oorgeneem, maar dit lyk of McKinsey die transaksie eintlik aan Regiments “oorgedra” het, het Mahomedy getuig.

Volgens hom het Transnet se voormalige finansiële hoof, Anoj Singh, sowat ʼn maand tevore ook ʼn kontrak met Regiments aangegaan oor die verkrygingsproses. Mahomedy het getuig dit lyk of daar gelyklopende stelsels was wat “geen teken van verkrygingsprosesse” getoon het nie.

Mahomedy getuig vandag verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dries du Toit ·

Hierdie dinge maak n mens so siek. Dit lei na depressie en totale wanhoop wat ordentlike burgers so laat moed opgee dat almal nou net een oplossing sien en dit is om pad te gee uit hierdie verfoeilike land. Selfs mooi natuur lewe in SA is nie meer vir ons mooi nie

Pierre ·

Wat help hierdie kommisie wat almal uitwys vir korrupsie, as dan niemand toegesluit word nie? Wanneer/hoe/of gaan daardie geldjie weer teruggegee word aan die arme Transnet Pensionarisse wat so “suffer”. Geen wonder daardie hofsaak draal so nie.

Philippus Janse van Rensburg ·

Dit lyk al hoe meer na ‘n slim skuif deur die korruptes, selfs arrogansie, “brag”, sê ons partymaal, want die wat getuig, kan tog onmoontlik nie met oogklappe hulle werk gedoen het nie! Om te dink dat enigiets skoongemaak sal word,leef in ‘n gekkewêreld!

Wonder net ·

Verstaan ek reg?
Mahomedy was Transnet se waarnemende finansieële hoof terwyl die korrupsie aan die gang was en hy het dit nie geweet nie.
Ai tog speel alweer die “Blame game”
Of verstaan ek verkeer?

Danie ·

Dit is om van naar te word! Die verfoeilike ANC bende en sy meelopers het ons eens mooi land tot in die afgrond bestuur. Die grap van alles is die skuldiges loop vry rond. As CR nie die probleem tot op die been oopvlek en AL die kaders laat toesluit het ek GEEN hoop vir die land. Dit toon weereens demokrasie is NIE vir Afrika bedoel. Ek dink ‘n omvattende ondersoek na AL die sogenaamde bestuursaktiwiteite van die ANC regime die afgelope 25 jaar is dringend noodaaklik. Die waarde van geld is nog nooit deur Afrika verstaan!

Dries ·

Darem maar n skande, probeer jare se n eerlike lewe om eendag menswaardig aftree, nou op jou oudag word ons pensionare karwagte om te oorleef. Mag god iemand aanstel om ons mense te help, en hulle wat in weelde lewe goed te straf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.