Zondo-kommissie: Zuma moet sê of hy gaan verskyn, of…

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: AP)

Die stryd tussen die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek en oudpres. Jacob Zuma woed voort.

Prof. Itumeleng Mosala, sekretaris van die kommissie, het Zuma tot 12:00 Donderdag gegee om aan te dui of hy Maandag wel voor die kommissie gaan verskyn. In ʼn brief aan Zuma se regspan sê Mosala dat Zuma se vorige skrywe bloot lui dat Zuma nié gesê het dat hy die dagvaarding om te verskyn gaan verontagsaam nie.

“Dit sê nie vir die kommissie wat jou kliënt se instruksie is oor óf hy aan die dagvaarding gaan voldoen nie. Dit stel bloot wat hy nié vir jou gesê het nie,” skryf Mosala aan Zuma se regspan.

Indien die kommissie dus nie voor 12:00 vandag bevestiging kry dat Zuma gaan opdaag nie, sal aangeneem word dat die oudpresident nie gaan opdaag nie.

Ten spyte van die Zuma-kamp se voortgesette gekibbel dat adjunkhoofregter Raymond Zondo hom weens beweerde botsende belange aan die kommissie moet onttrek, was daar tot dusver steeds geen amptelike aansoek daarvoor nie.

Zuma se regspan het ná die brief weer teruggekap.

“Ons neem aanstoot met die neerhalende trant van jou brief en jou poging om ons of pres. Zuma te boelie. Jou gedrag is heeltemal onnodig en ongevraagd. Die adjunkhoofregter het ons nog nooit behandel met die minagting wat jy aan ons betoon nie. Indien enigiets, gaan jou gedrag net houdings oor die gevoelige kwessie vererger,” lui die brief van Mabuza Attorneys.

“Ons wil jou herinner, prof., dat jy hoegenaamd geen gesag het om pres. Zuma oor enigiets te waarsku nie.”

Zuma se regspan sê voorts Mosala is welkom om enige stap wat hy as geskik beskou, te doen.

Dit is ʼn misdaad om sonder ʼn geldige rede te weier om voor die kommissie te verskyn.

ʼn Dagvaarding is verlede maand uitgereik om Zuma te dwing om voor die kommissie te verskyn. Die datum vir die verskyning is van 16 tot 20 November vasgestel. Altesaam 34 getuies het die oudpresident reeds in hul getuienis betrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Suzette ·

Hoekom word korruptes GELEK om voor die kommissie te verskyn? BEVEEL hulle en indien hulle die bevel verontagsaam – neem hulle in hegtenis en kry hulle in die tronk. Almal word gelek en met handskoentjies hanteer – dis hoekom meeste van hulle met ‘n grin op die gesig sit want hulle kom niks oor nie….. business as usual.

Androclus ·

Zondo-kommissie: Zuma moet sê of hy gaan verskyn, of…soek hy na ‘n oranje pakkie.

Dup ·

“Chair,as I said previously,in fact,as I sit here before you,I have to repeat that,Chair,I cannot remember the answer to the question.Can you please repeat the answer Chair,so that I can ask for a question,please,Chair……….

Anel ·

Nou van wanneer af kan jy besluit of jy in die hof gaan verskyn of nie? Genade tog! Daar is ‘n lasbrief. Voer dit uit en hoy hom in aanhouding tot alles afgehandel is. Hy verdien niks meer nie, net oranje pakkie.

Pietertjie ·

Jacob gaan dieselfde oorkom as JuJu, DuDu, en die res: net mooi niks. Ons raak verniet bly.

JM ·

Wat my woedend maak, is dat Zuma se regspan praat van PRES. Zuma. Magtig, hy ís nie meer president nie! Hy word opgehemel asof hy ‘n god is! Tyd dat hy nou van sy troontjie afklim en gedwing word om voor regter Zondo te verskyn, al moet hy soontoe gesleep word! Wie gee hom die reg om te besluit of hy voor die kommissie wil verskyn of nie?!

Sarel ·

Hy gaan Maandag siek pleit… kyk bietjie wie is betrokke by die Zumastigting….Deur wie en hoe word sy regskoste betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.