Zondo kry kykie op taai parlementêre werklikheid

Cedric Frolick. (Argieffoto: Tracey Adams/ANA)

Adjunkhoofregter Raymond Zondo en sy kommissie van ondersoek na staatskaping het die afgelope week ʼn kykie gekry in die Bisantynse geslepenheid van parlemente wêreldwyd toe verskeie parlementslede hul indruk van die Suid-Afrikaanse parlement se binnewerkinge gegee het.

Vrydag het die jare lange voorsitter van komitees in die parlement, die ANC-LP Cedric Frolick, die warm stoel beset. Die voorsitter van komitees (die sogenaamde voorsitter van voorsitters) is die persoon wat die werk van voorsitters van portefeuljekomitees in die parlement moet koördineer. (Hy tree op as voorsitter van die komitee van komiteevoorsitters, en vervul daardie rol al sedert 2010.)

Frolick is deur die ANC afgevaardig om die organisasie se mening by die Zondo-kommissie te verteenwoordig en hy het streng binne daardie mandaat opgetree. Dit het Zondo en die getuienisleier, adv. Alec Freund, ʼn straks onbedoeld akkurate kykie gegee in hoe taai dit kan wees om antwoorde te kry op selfs die mees voor die hand liggende vrae in ʼn parlementêre omgewing.

Frolick se getuienis het dit ook duidelik gemaak hoe verstrengel die parlement se oorsigrol raak met die belange van die regerende party in ʼn eenparty-dominante staat.

So het hy verduidelik dat daar ʼn politieke komitee van die ANC is waarin die adjunkpresident, die speaker en adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering, die voorsitter en adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, sommige ministers, die hoofsweep van die ANC en enkele senior ANC-LP’s dien, en wat moet sorg dat die politieke belange van die ANC in die parlementêre proses beskerm word.

Frolick het die kommissie verwys na die oorsig- en toerekenbaarheidsmodel van die parlement, wat volgens hom net soms tot sy reg kom weens ʼn gebrek aan geld.

Frolick het benadruk dat daar wel sommige portefeuljekomitees is wat hul werk doen, maar dat dit nie noodwendig ʼn gegewe is nie.

Op ʼn vraag van Zondo het Frolick toegegee dat daar nie genoegsame opvolgwerk van die parlement is om te verseker dat portefeuljekomitees se bevindings, aanbevelings en opdragte uitgevoer word nie.

Zondo het effe radeloos hardop gewonder hoe dit moontlik is dat so ʼn kernprobleem ná 27 jaar nie opgelos is nie, en Frolick het gesê toesig is in ʼn politieke omgewing altyd ʼn probleem omdat dit jou kollegas is oor wie jy toesig moet hou.

Toe kom Zondo by die sleutelvraag en vra of dit nie maar ʼn kwessie is dat daar by die regerende party die politieke wil kortkom om behoorlik oorsig te doen en dissiplinêre gevolge af te dwing nie; dat minderheidspartye ʼn rol te speel het, maar dat behoorlike oorsig en die uitvoer en deurvoer van besluite uiteindelik van die meerderheidsparty afhang.

Hierop het Frolick geantwoord deur te beweer hoewel die ANC die leiding moet neem, moet alle partye hul rol speel.

Freund het uitgewys dat Frolick al 11 jaar lank oorsig oor komiteewerk moet doen, en hom gevra hoekom hy nie sterker en vroeër opgetree het nie. Hierop het Frolick gesê hy maak telkens tydens sy toesprake in die parlement gewag daarvan, maar uitvoering hang baie van komiteevoorsitters af, want elke portefeuljekomitee moet sy eie sake en werkwyse reël.

Freund en Zondo het Frolick herhaaldelik verwys na koerantartikels wat die invloed van die Gupta-familie oor baie jare uitgewys het, en gevra hoekom hy nie meer gedoen het om te verseker dat die parlement die berigte se korrektheid ondersoek nie.

Frolick het gesê omdat koerantberigte so dikwels op anonieme bronne steun, is dit moeilik vir die parlement om aan ondersoeke in dié verband reg te laat geskied.

Frolick sal volgende week sy getuienis voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Die parlement is die hartklop van die leuen beleerde ANC waar hulle woorde en dade nie strook nie.

My siening ·

Julle ANC kan julle lekker uit elke situasie lieg en julle dink die publiek is ongeletterd soos die wat vir julle stem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.