Zondo-sitting gaan voort ondanks inbraak

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Daar is oor die naweek by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se kantore in Parktown in Johannesburg ingebreek. Dit is die tweede voorval in die bestek van twee weke wat by dié kantore aangemeld is.

Die sekretaris van die kommissie, Itumeleng Mosala, sê verlede naweek is ʼn skoot deur die biblioteek se venster afgevuur. Die koeël is die Maandagoggend op die vloer ontdek.

Daar was die afgelope Sondag ʼn inbraak waartydens ʼn rekenaar en rekenaarskerm gebuit is. Volgens Mosala het die inbraak in die vroeë oggendure plaasgevind.

“Albei voorvalle is by die Hillbrow-polisiestasie aangemeld en die polisie is besig om ondersoek in te stel.”.

Mosala sê belangrike, vertroulike en baie sensitiewe data en inligting wat op die gesteelde rekenaar is, is veilig elders gestoor en kan weer herwin word.

“Die kommissie sal ook verdere stappe doen om sy veiligheidstelsels op te skerp.”

Die kommissie se sittings het Maandag voortgegaan met Thandi Modise, speaker in die parlement, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, wat getuig.

Volgens ʼn video wat eNCA gedeel het, het adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, voor die dag se sitting afgeskop het, gesê dat hierdie inbraak nie die kommissie se werk sal ontwrig nie.

“Ek het gedink dit is belangrik dat die land weet dat ons werk wat ons doen, nie ontwrig sal word nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pappa Beer ·

Te veel bewyse wat dalk te veel mense aan die pen gaan laat ry?

Mariana ·

Hmmm ek ruik ‘n rot. Gelukkig is belangrike data gestoor. Hou dit so, vlg keer sal die booswigte dalk verder gaan as net inbreek om hul sin te kry. Verdomde kriminele. Die land is wraggies nou kriminele tuiste.

Rentia ·

R830 miljoen is al spandeer hieraan. En nie een mens in hegtenis geneem nie, nie een mens skuldig bevind nie en nie een mens tronk toe nie. So waarom doen ons hoegenaand hierdie oefening? So te sê almal is betrokke by een of ander vorm van korrupsie (natuuuuurlik het nie een dit toe besef nie en ontken eers als ‘n week lank) en ons is steeds net mooi nerens. Lekker nou.

jzjz05 ·

Lyk my daar is mense wat dosiere wil laat wegraak soos dit al dikwils in die verlede gebeur het. Hul sit plekke word seker nou bietlie te warem om stil te sit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.