Zondo soek weer uitstel vir staatskapingsverslag

Waarnemende hoofregter Raymond Zondo. (Foto: Nhlanhla Phillips/ANA)

Die Zondo-kommissie na staatskaping gaan weer vra vir uitstel vir die afhandeling van die verslag wat teen 31 Desember afgehandel moes wees.

Waarnemende hoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, sê die span het die afgelope paar maande hard gewerk om hierdie spertyd te haal en het reeds heelwat vordering gemaak, maar dat die verslag nietemin nie teen die einde van jaar gereed gaan wees nie.

Zondo sê gedeeltes van die verslag oor sekere kwessies, waaronder staatsbeheerde instellings, gaan nie afgehandel wees nie en moet ingesluit word om nie die gehalte van die verslag in die gedrang te bring nie.

Die kommissie beoog om die verslag in drie dele op te deel. Die eerste twee gedeeltes sal vir alle praktiese doeleindes die eerste twee tussentydse verslae wees, terwyl die derde deel die kommissie se finale verslag sal wees.

“Dit gaan moontlik wees om deel van die verslag voor die einde van Desember aan die president te lewer, deel twee voor die einde van Januarie 2022 en deel drie voor die einde van Februarie 2022,” sê Zondo.

Hy het die saak reeds met pres. Cyril Ramaphosa bespreek en hoewel die president ʼn afgehandelde verslag teen die einde van die jaar sou wou hê, het hy “begrip vir die kommissie se posisie”.

Die kommissie berei nou voor om ʼn aansoek in die Pretoriase hooggeregshof te bring om die termyn daarvan met nog twee maande – tot einde Februarie – te verleng.

Die bestaande begroting behoort tot dan voldoende te wees en die kommissie sal na verwagting nie nodig hê om vir nog geld te vra nie.

Die kommissie se spertyd vir die afhandeling van die verslag is aanvanklik tot 30 September verleng, waarna die kommissie weer suksesvol aansoek gedoen het vir ʼn verdere verlenging tot 31 Desember.

Meer as 330 getuies het oor ʼn tydperk van drie jaar voor die kommissie, wat in 2018 met sy werk begin het, getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.