Zondo: ‘Staatskaping kan weer plaasvind’

Hoofregter Raymond Zondo. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Hoofregter Raymond Zondo sê die Suid-Afrikaanse parlement is nie tans in staat om ʼn herhaling van die gewraakte staatskaping te voorkom nie.

“Volgens die getuienis voor die kommissie van beide die nasionale voorsitter van die ANC sowel as die president van dié meerderheidsparty, was dit duidelik dat daar verwag word van die lede van hierdie party om nie in ʼn mosie van wantroue in die president en hulle eie party te stem nie,” het Zondo gister gesê.

Zondo meen as dit die verwagting is, sal die meerderheidsparty en die parlement eenvoudig nie anders kan optree sou daar nog  ʼn geval van staatskaping wees nie.

Die regter was die hoofspreker by die On the Record-beraad wat News24 saam met Nedbank Donderdag in Sandton aangebied het. Die beraad het gefokus op kwelvrae oor die toekoms van Suid-Afrika en sprekers uit die regering, ondernemings in staatsbesit en die sakewêreld het aan die paneelbesprekings deelgeneem.

Zondo het gesê hy worstel steeds met die vraag oor hoekom die parlement staatskaping toegelaat het. “Ek glo parlementslede moet in die belang van landsburgers optree. Ek kan nou nog nie dink dat private individue soveel mag oor staatshoofde kon uitoefen nie.”

Hoewel dit moeilike kwessies is om te takel, meen Zondo beleid en wette moet eenvoudig gewysig word om staatskaping te voorkom. Een van die aanbevelings wat Zondo in sy laaste staatskapingverslag gemaak het, was dat burgers toegelaat moet word om direk vir hul voorkeurkandidate te stem om die land te lei.

Zondo het bygevoeg dat dit nou ʼn goeie tyd is om bestekopname te doen oor die foute wat in die laaste byna drie dekades van demokrasie gemaak is om te verseker Suid-Afrika sien beter daar uit oor die volgende 50 jaar, want die miljarde rande wat met staatskaping uit die land gevloei het, kon gebruik word om skole te bou, puttoilette te vervang en nuwe infrastruktuur te bou terwyl noodsaaklike infrastruktuur onderhou kon word.

“Ek kan julle egter verseker die regbank staan gereed om ons deel te doen om korrupsie te bekamp. Die regbank wil die regte van elkeen beskerm. Die regbank sal ons rol hier vertolk.”

Zondo het verder hulde gebring aan fluitjieblasers wat alles op die spel plaas om korrupsie en staatskaping bloot te lê.

“Die beskerming van hierdie fluitjieblasers is uiters belangrik. Vlakke van korrupsie is onaanvaarbaar hoog en Suid-Afrikaners moet alles in hul vermoë doen om te verseker dat iets soos staatskaping nooit weer gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Henri ·

Solank die cANCer aan bewind bly, bly die staat gekaap. Hulle hou aan om hulle kadawers te ontplooi wat tot gevolg het dat korrupsie aanhou hoogty vier en infrastruktuur hou aan in duie stort en geld verdwyn in ‘n bodemlose put(toilet).

Republikein in die Wes Kaap ·

Zondo, daai ANC spul in die parlement het geen respek vir jou nie. Hulle beskou jou as ‘n ondergeskikte kader.

Manie ·

Staatskaping het nooit opgehou nie, dit gebeur nog daagliks.

Pietertjie ·

Iets kan nie “weer plaasvind” as dit nog steeds aan die gang is nie.

Anel ·

Mnr Zoni, soos die engelse sê: put your money where your mouth is, of so iets. Begin by zuma. Laat hy nou vir eens en vir altyd tronk toe gaan en klaar. Jy sê mos jy ruk die regsstelsel reg. Begin by die grootste skurk, dan sal ons jou glo.

Dries ·

Ai toggie Regter ??? Staatskapping KAN weer plaasvind. Kom tog nou. Staatskapping is nog steeds aan die gang en HET nog nie opgehou nie.Korrupsie vind nog daagliks plaas van die Regering regdeur tot op munisipale vlak. Dan praat ons nie eers van die privaat sektor nie

Peter ·

Nie kan nie, maar gaan definitief en gebeur steeds elke dag

Danie ·

Dink net justisie was ook gekaap nou noodgedwonge moet hulle begin optree druk van alle kante.Korrupsie sal n deel bly en wees van SA.Die eerlike toesig is weggejaag.

Johann ·

Jys hoeveel miljoene betaal om die obvious in jou “verslag” te sê? En nou sê jy die ooglopende? Wat van JY DOEN IETS! Soos in lê ‘n klag teen een van jou ANC PELLE? Maar nee, die eerste ding wat jou Ramanocio na jou verslag doen is om te sê hy en die ANC is NIE gebind deur jou uitsprake nie? Kaders is hier om te bly! SUPER DUUR KLUG!

Marelize ·

Hoe nou – weer plaasvind – wat het ek iets gemis – wanneer het dit dan opgehou?

Nie Verbaas ·

Korreksie, staatskaping vind nog steeds plaas deur Ramaphosa se kader ontplooiing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.