Zondo vaar uit oor Teffo se inhegtenisneming

Adv. Malesela Teffo word in hegtenis geneem. (Foto: Skermgreep via eNCA)

Hoofregter Raymond Zondo het hom eindelik uitgelaat oor adv. Malesela Teffo se onlangse inhegtenisneming in die Pretoriase hooggeregshof.

En volgens Zondo, die hoof van die Suid-Afrikaanse regbank, was die wyse waarop Teffo se inhegtenisneming uitgevoer is, “ʼn aanslag op die waardigheid van die hof en die regbank”.

“Die inhegtenisneming van ʼn persoon in die hof, om nie eens te praat van ʼn regspraktisyn nie, is onaanvaarbaar en behoort nie te gebeur nie.

“Daar was geen regverdige rede waarom die Suid-Afrikaanse Polisie (SAPD) nie vir adv. Teffo kon wag om die hofsaal en die hofperseel te verlaat voordat hulle hom in hegtenis geneem het nie,” sê Zondo in ʼn verklaring.

Die hoofregter se kommentaar volg byna ʼn week ná Teffo se inhegtenisneming in die Pretoriase hooggeregshof. Zondo is kort daarna oor die voorval uitgevra. Die hoofregter het egter in daardie stadium nog nie die beeldmateriaal van die inhegtenisneming gesien nie en wou hom dus nie daaroor uitlaat nie.

Hy het sedertdien die beeldmateriaal onder oë gehad.

“Soos ek dit verstaan, is die lasbrief vir inhegtenisneming twee maande vantevore uitgereik. Dit sou dus geen verskil gemaak het om te wag totdat adv. Teffo die hofperseel verlaat het om hom in hegtenis te neem nie.

“Adv. Teffo sou tog nie die aand in die hofsaal deurgebring het nie.

“ʼn Beampte van die hof is in hegtenis geneem op ʼn wyse wat heeltemal onaanvaarbaar was en geen respek teenoor die regbank getoon het nie.”

Hoofregter Raymond Zondo. (Foto: Nhlanhla Phillips/ANA)

Zondo wys voorts daarop dat artikel 165 (4) van die Grondwet ʼn verpligting op alle staatsorgane, waaronder die SAPD, plaas om die howe by te staan ​​en te beskerm om die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid, toeganklikheid en doeltreffendheid van die howe te verseker.

“Die hoofregter wil dit duidelik stel dat hierdie verklaring nie handel oor die vraag of adv. Teffo in hegtenis geneem moes word of nie. Dit handel oor die plek waar die inhegtenisneming uitgevoer is en die wyse waarop dit gedoen is.”

Maroela Media het vroeër berig daar is volgens die SAPD ʼn logiese verduideliking waarom Teffo Donderdag in die Pretoriase hooggeregshof in hegtenis geneem is.

“Adv. Teffo is deur die SAPD in hegtenis geneem op aanklag van aanranding en onwettige betreding. Dít nadat hy na bewering ʼn vrouelid van die SAPD aangerand en die polisie se provinsiale gebou binnegegaan het, ten spyte daarvan dat ʼn hofinterdik hom verbied het om die gebou te betree,” het genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, vroeër gesê.

“Nadat hy verskeie kere versuim het om in die Hillbrow-landdroshof te verskyn, waaronder op 27 Januarie, is ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik en teruggehou. Die saak is tot 10 Februarie uitgestel, maar Teffo het weer nie in die hof verskyn nie. Sy borgtog is eindelik aan die staat verbeur en daar is opdrag gegee dat hy in hegtenis geneem word.”

Volgens Masemola is die polisie in besit van bewyse dat Teffo bewus was daarvan dat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is, aangesien hy die ondersoekbeampte in verband daarmee gebel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jr

Nee jy sien, dis waar ons verskil van jou Zondo. Want die gewone burger word telkemale by sy werk inegtinis gevat. So what’s different for this person. SA needs to see this to name and shame these people. Otherwise it just gets sent to file 13, thirteenth floor, Luthuli house. You yourself said no one is above the law.

Misky

Waar was Teffo se respek teenoor die regbank toe hy verskeie kere versuim het om op te daag vir sake? Nee wat regter Zondo, ons soek vinniger aksies. Selfde met Zuma en julle gee soveel tyd en wag en wag en 20 jaar later sien ons steeds nie geregtigheid nie.

domheks

Hoop cele se span is net so goed met al die staatskapers! Maar daar is hulle hande af gekap!

JohanR

Lyk my Regter Zondo het al klaar begin met die ANC streeke?

Dries

Dit is weer n geval van n misdadiger wat se regte geskend is. Hy het gedink om terug te hardloop in die hof gaan hom help. Hy ontwyk die gereg al baie lank