Zondo-verslag gaan ‘stof opgaar’

Raymond Zondo handig die eerste gedeelte van die verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oor. (Foto: Presidensie/Twitter)

Die aanbevelings wat in die eerste gedeelte van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se verslag gemaak word, sal slegs van waarde vir belastingbetalers wees indien daar daadwerklik opgetree word om dié aanbevelings uit te voer.

Só sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, nadat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag die eerste gedeelte van die kommissie se langverwagte verslag oor staatskaping ontvang het.

Die EFF voorspel egter nou dat dié verslag van byna 900 bladsye “stof gaan opgaar” en nooit tot die geslaagde vervolging van diegene wat daarby betrek word, sal lei nie.

Dít omdat waarnemende hoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, versuim het om “bestendige en ondubbelsinnige aanbevelings” in sy verslag te maak wat vervolging betref, sê die EFF.

“In die meeste gevalle vra Zondo die Nasionale Vervolgingsgesag om vervolging van die betrokkenes te oorweeg indien hy dit goeddink. Dit blyk dus dat die kommissie nie seker genoeg is van sy eie bewyse op grond waarvan hy sy gevolgtrekkings maak nie.”

Die party sê voorts dit is “diep betreurenswaardig dat ’n kommissie wat soveel tyd in beslag geneem het en belastingbetalersgeld van sowat R2 miljard bestee het, se aanbevelings deurgaans onderstreep word deur “verdere ondersoek” en “vervolging indien geregverdig”.

Groenewald sê op sy beurt die kommissie se aanbevelings oor vervolging is in werklikheid ’n belediging vir die land se strafregstelsel. “Indien dié stelsel behoorlik gefunksioneer het, sou daar reeds optrede teen die betrokke persone gewees het aangesien die gebeure rakende staatskaping bekend en deeglik gedokumenteer is.

“Ramaphosa sal die mense van Suid-Afrika faal indien hy nie daadwerklik optree om die aanbevelings uit te voer nie.

“Indien dit nie gedoen word nie, sou dit beteken dat die ondersoek van langer as drie jaar ’n vermorsing van tyd en belastingbetalers se geld was,” sê Groenewald.

Van die aanbevelings in die verslag sluit in dat Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), vir korrupsie en bedrog ondersoek word en dat Tom Moyane, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), strafregtelik van meineed aangekla moet word.

Die EFF het egter Woensdag sy teleurstelling uitgespreek met die hoofstuk wat spesifiek oor die SAID handel aangesien daar geen verwysing gemaak word na die politieke misbruik van die inkomstediens om politieke verskille te besleg en politieke mededingers te straf nie.

Die party is veral ongelukkig dat geen verwysing na Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, en sy rol in die destydse stigting van die sogenaamde “rogue”-eenheid in die verslag is nie.

Die EFF voel Zondo het versuim om Gordhan aanspreeklik te hou en beeld hom in sy verslag as ’n “teenkorrupsie-held” uit.

DA-leier John Steenhuisen het intussen ’n beroep op Ramaphosa gedoen om dringend die eerste gedeelte van die verslag in die parlement ter tafel te lê sodat die bevindings en aanbevelings so gou moontlik bestudeer en die nodige regstellende stappe gedoen kan word.

Volgens Ramaphosa sal die volledige verslag teen 30 Junie aan die parlement voorgelê word. Eers nadat die finale verslag ontvang is, sal dit moontlik wees om ’n inwerkingstellingsplan na aanleiding van die aanbevelings bekend te maak.

Die regerende party het intussen gesê hy verwelkom die oorhandiging van die eerste gedeelte van die verslag aan Ramaphosa.

Die ANC hou vol dat die kommissie “’n noodsaaklike deel is van die breër maatskaplike poging om alle vorme van staatskaping en korrupsie te beëindig”.

Die ANC sal nou deur die bevindinge en aanbevelings in die verslag werk en oorweeg hoe dit kan help “om die proses van fundamentele vernuwing en herbou binne sy partygeledere te verbeter”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pieter9 ·

Die verslag is nou gegee vir ‘n man wat voorsitter van’ n komitee was wat vir 5 jr geen notules van die vergaderings gehou het nie… Het nie baie hoop.

Johann ·

SHAME ON YOU ZONDO!!!!!!!!! Jyt die geleentheid verspeel om gewetenlose mags mal diewe te vervolg en opsluit. Is dit die trant van jou verslag? Jy self gaan NIKS doen nie? Watter strafreg stelsel het jy in gedagte om die kaders (jou pelle?) te vervolg? Madhatter en sy “polisie”? Absolute skande!

Pieter ·

Die anc land is n sirkus man n mens wil al op gooi as jy die woord anc hoor

annie ·

Daar word so gespog met ons glo wonderlike grondwet, maar Zuma speel reeds meer as tien jaar kat en muis met ons regstelsel. Indien die mense wat geïmpliseer word in die Zondo-verslag voor stok gekry wil word, sal iets moet verander anders word SA die grap van die eeu.

Deon ·

Wat is die wetlik regte ding wat nou moet gebeur met al hierdie inligting van Zondo? Ek sou glo dat dit aan die polisie oorhandig moet word sodat die regte aksie geneem kan word…. Ek sien dit dieselfde as wanneer ek iemand n misdaad sien pleeg dan is dit my burgerlike plig om dit aan te meld anders is ek aandadig aan daardie misdaad… Ek glo in hierdie geval kan dit aan die NVG oorhandig word sodat dinge kan begin gebeur. So, al julle party leiers wat nou julle koppe breek om te sien hoe jy meer punte as die ander party uit hierdie saga gaan melk, doen net die regte ding en sit die bal aan die rol, dis mos onder andere, waarvoor die mense vir julle gestem het.

henndrik ·

As ek reg onthou was die komissie se oorspronklike mandaat dat hulle staatskaping moet ondersoek maar hulle het nie die reg om te vervolg nie so die verslag kan eintlik nie aanbeveel dat vervolg word nie, hulle kan wel vervolging en ondersoek voorstel

annie ·

Nee, Zuma gaar al meer as ‘n dekade lank stof op… Praat, praat en dit hou nie op nie. Dokters het nie meer moeti oor in hul handboeke om die Nkandla-kwale te dokter nie. Dr Fauci sal dalk moet ingryp met raat. Gaan iets daadwerkliks ooit gebeur na die duisende bladsye? Raai.

Lian ·

Ons weet mos hoe werk dit : Sny NVG se begroting en daar is dus geen fondse vir vervolging nie. Probleem opgelos.

pieter ·

As enige iemand in die verslag tronk toe gaan is die aarde nie rond nie

Annamarie ·

En wat gaan die Regstelsel hieraan doen??? “There is no justice, in Justice”

Stofdonkie ·

Al reeds speel ramaphosa vir tyd, daar kan eers besluite geneem word na einde Junie waneer die finale gedeelte van die verslag ontvang is. Dan met elke bespreking daarvan kan die proses elke keer 6maande uitgestel word. Vir die wat benoem is in die verslag betek dit nou dat hulle 24 keer uitstel moet kry sodat die proses nog 12 jaar uitgerek kan word. Dis hoe zumpie ook al soveel jaar wegkom. Die klomp kriminele gaan nog almal doodgaan van ouderdomsverwante kwale voor die reg hulle kan bykom.

Dup ·

Vriende,makkers en kaders sal nooit teen mekaar optree nie.So,ek vewag nie veel “strafregtelike optredes” nie. Die geimpliseerders gaan veel eerder senior poste in die regering aangebied word.

Di ·

Dis als net ‘n klug! Hierdie hele komitee en als rondom dit is net gestig om mense se aandag af te trek van wat regtig aangaan agter die skerms in hierdie land. Moenie asem ophou nie, hiervan gaan NIKS kom soos met die res van al die ondersoeke, inhegtenis nemings, plundery, terrorisme, afdankings en . . . . . . . . . . . .. Nimmer eindigend!

Jacobus ·

Hierdie veslag gaan ook maar net weer deur die ANC vir beeldpoetsery gebruik word, want die polisie, valke, die howe is met ANC-kaders gelaai en die grondwethof is hul beskermheer. Niemand gaan uit die verslag se aanbevelings vervolg word, behalwe blankes, die ANC-kaders, wat vermeld word, gaan met kabinetsposte beloon word.

Mariana ·

Daar gaan niks van kom nie. NVG sal niks doen nie. Die wat betrokke was by staatskaping gaan steeds vry rondloop. Die kommissie het baie tyd en geld gemors en nou gaan daai verslag net iewers gebêre word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.